2 maande gelede
Jeppo besef die berig is gebruik om hom te lok
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Jeppo die Laksman is terug. Jeppo­ het dit sy lewens-missie gemaak om as laksman op te tree vir gemeenskappe wat gatvol is vir misdaad. Jeppo is nou op die spoor van Rudi Geduldt, ’n suksesvolle sakeman met besighede oral in die Wes-Kaap. Min mense weet Geduldt bedryf onder die naam “Ghost” die grootste hijacking-sindikaat in die provinsie. Jeppo se ondersoek lei hom na ’n huis waar hy vyf naakte meisiekinders red. Geniet nou die slothoofstuk van die jongste verhaal uit die pen van SALMON SMITH. Hy noem dit Op die Spoor van Ghost.

DIE koerantopskrif op bladsy 3 van Son vang Jeppo se oog: “Kaapse besigheidsman ontspan in plattelandse vakansiedorp ná brand by sy huis.”

Hy bring sy gesig nader aan die koerant.

“Die Kaapse sakeman Rudi Geduldt­, het besluit om in sy strandhuis in Voëlklip Beach, Hermanus, te gaan ontspan ná die tragiese gebeure drie dae gelede,” begin hy die berig saggies lees.

“Soos Son vroeër berig het, het die sakeman se huis onverklaarbaar aan die brand geslaan terwyl sy werkers ’n partytjie daar gehou het.

“Geduldt was nie tuis nie en het later die aand op die uitgebrande lyke van sy werkers afgekom. Die polisie ondersoek nog die gebeure.

“Geduldt het besluit om ’n paar weke ’n break te vat en uitgewyk na die pragtige vakansiedorp…”

Jeppo smyt die koerant eenkant toe en spring van die stoel af.

Hy weet nou waar hy Ghost moet gaan soek. Hy klem sy hande in vuiste saam en mol vir die deur.

Die ander pub crawlers kyk almal verbaas na die vreemde man wat nou ewe skielik soos wind hier by hulle verby is.

Ghost en Bapu sit oorkant mekaar in sy posh vakansiehuis in 10de Straat in Voëlklip. Elkeen het ’n glasie duur brandy in die hand.

“Dink jy daardie laksman het geval vir daardie berig?” vra Bapu, bietjie skepties.

“Natuurlik het hy!” antwoord Ghost baie selfvoldaan.

“Soos ek verstaan, is hy ’n gereelde Son-leser omdat Son baie berig oor kwessies in die bruin gemeenskappe op die Kaapse Vlakte en sy beriggewing oor high-profile court cases.”

“Okay, that’s good. Then we’ll wait for him,” kap Bapu terug.

“Okay, ons doen soos ons beplan, nè?” Ghost gaan vlugtig deur hul mooi uitgewerkte plan.

“Ons ry vanaand die gebied plat en dan kyk ons of ons hom sien.

“Hy operate mos altyd in die nag. As ons hom gewaar, spring jy uit en verras hom. En asseblief, moet hom nie onderskat nie. Hy is ’n bokker, hoor!”

“Don’t worry, my bradda. I’m a born fighter!” sak Bapu af.

Dit is net ná middernag en Jeppo het al die hele gebied in Voëlklip Beach platgery op soek na Ghost. Maar daar is geen teken van hom nie.

Die gebied is baie stil en net hier en daar het verliefde paartjies hand aan hand die strate bewandel of beach toe gemik.

Jeppo ry af in 7th Avenue see se kant toe. Hy trek in by so ’n kleinerige parkeerterrein. Hy klim uit die kar en kyk af op ’n kleinerige baai.

Daar is trappies en ’n sementpaadjie wat aan die linkerkant afloop tot op die wit sand daar onder. Die gebied lyk baie verlate met geen siel in sig nie.

Dít is toe iets hom strike…

Dinge lyk nie normaal nie. Die hele besigheid met die gedetailleerde nuusberig van Ghost se verblyf hier is alles te goed om waar te wees.

Toe, ewe skielik, tref dit hom soos ’n vuishou in die gesig – dit is Ghost se sluwe plan om hom hierheen te lok. ’n Kriewelrige gevoel hardloop agter sy rug af.

’n Voetval agter hom laat hom omswaai. Ook net betyds om die groot, swart vuis in sy rigting te sien kom. Die hou tref hom vol in die gesig en hy steier agteroor op die sementblad neer.

Duisende sterretjies ontplof voor sy oë. Deur die newels sien hy die groot voet op hom neerkom. Hy rol uit die pad en die skoen tref die kol waar sy gesig ’n breukdeel van ’n sekonde laas was.

Hy tol vinnig op sy voete en sien die massiewe man wat bokant hom uittroon. Hy besef die man is hier om hom dood te maak.

Bapu besef hy moet die man hier voor hom nie onderskat nie. Die man is nogal rats en taai. Hy beter gou met hom klaarspeel.

Hy storm op Jeppo af, maar loop hom in ’n dodelike regter vas. Nou is dit Bapu se beurt om die Melkweg te aanskou. Hy steier duiselig agtertoe. Jeppo volg onmiddellik op met skop, sekuur in Bapu se tjoep. Die wind word uit die groot lyf gehaal en hy sak kreunend op sy knieë neer.

’n Verwoestende hou in sy groot, breë gevreet laat Bapu op sy rug oor die growwe sementblad skuur.

Dit lyk asof die groot Kongolees se bakleivuur geblus is.

Jeppo trap op sy regterwang en pen sy kop teen die grond vas.

“Who are you working for?!” vra hy woedend.

“F-F*ck you!” spoeg Bapu dit saam met ’n spatsel bloed uit.

Toe klap ’n skoot uit die donkerte en Jeppo voel hoe die koeël skrams deur sy linkerskouer skuur.

Hy nael vir dekking tussen die bosse teen die duine.

Nog skote klap, maar dit trek skadeloos oor sy kop. Tussen die bosse maak Jeppo hom klein en loer tussen die takke deur.

Hy sien die man wat daar eenkant uit ’n motor klim. Onmiddellik herken hy Ghost, die groot misdadiger wat hy al so lank jag.

Hy sien hoe Ghost tot by die man op die grond loop. Tot sy skok sien hy hoe Ghost die vuurwapen op die man rig en koelbloedig die sneller trek.

Toe raak alles duidelik vir Jeppo. Ghost moes daardie man gehuur het om met hom klaar te speel. En toe dié misluk, moes hy met sy lewe boet.

“Laksman! Kom uit jou skuilplek en staan jou man!” skree Ghost terwyl hy sy vuurwapen rondswaai.

Ghost loop oor die parkeerplek na waar Jeppo verdwyn het. Doodstil sit die Laksman en wag. Hy haal sy jagmes saggies uit die skede langs sy broek.

Ghost gaan staan, met sy arms in die lug, naby die digte bosse.

“Jy’t my gejag, Laksman! Hie’s ekke! Kô chise my!” skree hy.

Jeppo maak gebruik van die kans. Soos blits storm hy tussen die bosse deur. Nog voordat Ghost sy vuurwapen kan afbring, tref die Laksman hom in die nek met die mes. Nog ’n hou in die bors laat die groot misdadiger tot op sy knieë neersyg. Met oë pieringgroot kyk hy na die gapende wond in sy bors terwyl die bloed uit die nekwond­ spuit. Sy vuurwapen val kletterend op die grond.

Hy kyk die Laksman in die oë totdat hy stadig omkantel.

Jeppo kyk nog vir oulaas na die dooie sindikaatleier en knik te­vrede. Hy trek sy Stetson laag oor sy oë en verdwyn soos blits.

  • Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters