19 dae gelede
James vertel vir Lidia iets wat sy nie goed vat nie
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n kortverhaal uit die pen van ERNEST A. LOTH. Hy noem dit “Doodloopstraat”.

DIS stil in die motor wat in ’n oop veld onder ’n wilgerboom langs die rivier geparkeer is.

Die twee insittendes is merkbaar senuagtig. Die kabbelende rivierwater verbreek die onheilspellende stilte tussen die man en die vrou.

Die jong vrou klem haar handsakkie krampagtig teen haar lyf vas. “So, dis die einde van ons affair, James.” Haar keel is droog en haar hart klop in haar keel.

Sy weet in haar binneste sy voer ’n verlore stryd.

“Dis hoe dit is, Lidia,” sê die middeljarige man met die snor wat enkele grys hare toon. Hy is 40, maar lyk 30.

Hy haal ’n opgefrommelde pakkie Stuyvesant uit sy geruite hempsak en sukkel om die laaste sigaret uit te haal. Hy druk die kar se aansteker aan, onthou dit werk nie en soek sy gasaansteker in sy broeksak, kry dit en steek die sigaret brand. Hy blaas ’n mondvol rook die lug in.

“Ons kan nie só voortgaan nie, Lidia. My vrou weet. Sy het jou brief in my jeans se gatsak gekry. Hoe kon jy só simpel wees?”

“Ek wou net hê jy moet weet hoe ek oor jou voel. Ek kan nie sonder jou leef nie, James.”

“Ek het te veel om te verloor.”

“Maar jou beloftes aan my, James­! Beteken dit dan niks meer vir jou nie?”

“Lidia, moet nou nie onredelik wees nie. Moet dit nie so moeilik maak nie. Ons verhouding sou tog ook nie werk nie. Jy kan weer van voor af begin.”

Sy bly stil. “Is daar iemand anders?”

“Nee,” sê hy ferm en kyk haar in die oë. “Dis net nie reg nie. Ek ... kan dit nie aan my kinders doen nie.”

’n Aartjie spring teen haar regterslaap. “James, dis ... Dis vir my moeilik om dinge wat tussen ons gebeur het, eensklaps te vergeet. Jy’s die een wat gesê het jou en Valencia se huwelik is oppie rotse. Of het jy vir my gelieg net om te kry wat jy wou hê?”

“Ons huwelik wás op die rotse. Ons gaan van voor af begin. Ons het dinge uitgepraat. Ek het ontdek sy het my nog lief en dat ek nog iets vir haar voel. By the way, hoekom moes jy nou skryf van die goeie seks wat ons gehad het?”

“Bly net stil, asseblief! Onthou net: Ek was ’n virgin toe jy my ontmoet het.”

“Ek is jammer. Dit was verkeerd. Ons moes nie. Ons was swak.”

“Maar ons hét! Ontelbare kere. Elke keer dat jy jou wellus bevredig het, het jy my vaster aan jou gebind. Nou wil jy my sommerso uitspoeg!”

Sy bly ’n oomblik stil, wagtend dat hy iets sê. Maar hy doen dit nie. Sy praat vinniger, maar haar woorde val op dooie ore.

“Ons vroue is anders as julle mans. Julle dink niks daarvan om ons te misbruik en anderpad te kyk nie. Jy het my laat hoop dat ons altyd bymekaar sou wees.”

Stilte. James neem ’n paar laaste diep trekke van die sigaret en skiet die stompie by die oop venster uit.

Sy knip haar swart handsak oop en haal haar lipstiffie uit, draai die truspieëljie na haar en wend die rooi lipstiffie behendig maar met ’n bewende hand aan haar mond. Sy haal ’n sneesdoekie uit en dep haar rooi lippe daarteen.

“Hoekom sê jy niks?”

“Dis finaal, Lidia. My kinders word groot. My dogter gaan volgende jaar kollege toe. Jy is omtrent háár ouderdom. As sy moet uitvind ...”

Lidia se oë skiet vol trane. Hoe gaan sy hom so maklik uit haar gedagtes kry as sy beeld elke sekonde voor haar opdoem?

“Jy kan nie voorgee jy voel niks vir my nie, James. Sê my eerlik of jou gevoel vir my dood is. Sê my, demmit!”

Stilte.

“Dit word laat, Lidia. My lunch-tyd is om.”

“Ek het boggherol met jou lunch-tyd te doen. Jy gaan my nie sommerso droppie. Dit maak nie saak wat jou vrou sê nie. Jy’s myne, en myne alleen!”

“Moenie vir jou bef*k hou nie! Jy’s nie meer ’n kind nie.”

“Jy’s reg! Ek is nie. Jy’t my van my kindwees beroof!”

Hy vererg hom. “Hoe de hel moet ek my vrou, wat ek 15 jaar ken, los vir jou, wat ek net twee jaar ken? Hoe weeg jy dít op?”

“Dis nie wat jy gesê het toe ...” Sy bedink haar. “Jy’s die een wat vir my gesê het jou vrou kon jou in daai 15 jaar nie bied wat ek jou bied nie. Hoe verander jy dit nou?”

“Dit was in ’n oomblik van swakheid!”

“Van jagsheid, ja!”

“Ek moet nou gaan. Ek dink ons het vir mekaar gesê wat ons moes. Jy hét baie vir my beteken.”

“Nou ... is dit ... verby,” sê sy byna onhoorbaar.

“Vir my is dit nie verby nie, James! As ék jou nie kry nie ...”

Sy maak die motordeur rustig oop, klim uit en knip haar swart blinkleerhandsak oop. Haar hande is gespanne en het ’n merkbaar dreigende houding.

James versteen toe hy die rewolwer in haar hand sien.

Sy keel is kurkdroog. “Wat dink jy doen jy? Waar kry jy dié ding?”

Lidia se oë blits. Hy besef hoe gevaarlik kwaad sy is. In die twee jaar dat hy haar ken, was sy nooit woedend nie. Nou is sy die woede self. Dieselfde meisie wat soos klei in sy omhelsing kon word.

“Moenie jy f*kk*n worry oor waar ek die ding gekry het nie. Dis een van die voordele as jou broer die leader van ’n gang is. Klim. Uit. Die. Kar!”

Duisende gedagtes flits deur sy brein. Een daarvan is om die enjin aan te skakel en weg te jaag.

Maar iets in Lidia se houding waarsku hom om dit nie te doen nie.

“Jy sal tog nie skiet nie? Gee die rewolwer vir my.”

“Staan stil! Jy dink mos niks van my nie! Jy wil terugkeer na jou vrou en jou kinders, wat kwansuis grootword.

“En ek? Jy het mý hele lewe o-p-g-e-m-o-r-s!”

Haar stem bewe. Bloed klop in haar kop. Nie een van hulle hoor die gekoer van die duif bo in die wilgerboom nie.

Die koudheid in haar oë stuur ’n rilling langs sy ruggraat af.

“Ons ... Ons kan weer probeer, Lidia,” sê hy.

James probeer nader staan, maar steek in sy spore vas toe die vuurwapen in haar hand oorver­dowend knal.

Hy gryp na sy bors en sak op sy knieë.

Bloed sypel deur sy vingers. Haar beeld word wasig voordat hy op die grond neerplof.

Lidia druk die rewolwer in haar mond en trek die sneller. Die skoot weergalm oor die vlakte terwyl sy neersak.

Lidia probeer om met haar een hand aan James te raak.

’n Vreemde bevrediging spoel oor haar voordat die doodsdonkerte haar verswelg.

’n Ligte windjie speel met haar rooibruin hare en laat ritsel die blare van die wilgerboom.

’n Tortelduif sluit aan by sy maat bo in die wilgerboom waaronder twee liggame roerloos lê.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters