29 dae gelede
James-hulle klop by antie Klara aan en sien die baba
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons eerste verhaal vir die jaar is “Doodloopstraat” deur ERNEST LOTH. Geniet hoofstuk 6.

VALENCIA bring die motor voor Lidia se ouerhuis tot stilstand. Sy en Jamie-Lee klim uit en help James versigtig in sy rolstoel.

Dis snaaks, dink Valencia, dat die proses om haar man in die rolstoel te kry, glad nie meer so ingewikkeld is nie. In die begin was dit. Mettertyd word dit roetine waaraan jy gewoond raak, veral as jy nie ’n keuse het nie.

James se krag in sy vashougrepe om sy lyf uit die stoel in of uit die motor te lig, help baie en sal heel waarskynlik sy arms en bolyfspiere naderhand versterk.

Jamie-Lee maak Lidia-hulle se hekkie oop. Valencia stoot die rolstoel behendig oor die sementpaadjie tot voor die deur.

Jamie-Lee klop en sien eers agterna daar is ’n deurklokkie se knoppie in die linkerhoek van die voordeur.

Ná ’n rukkie gaan die voordeur oop. Dis dieselfde vrou wat by James se hospitaalkamer ingeloer het. Sy hou ’n bondeltjie vas en lyk verbaas, maar groet vriendelik.

Hulle groet senuagtig terug.

“Kom binne en maak julle tuis. Die deurklokkie werkie merie. Dis nogal steurend, veral as die straatkinners altyd kom kos soek.

“Ek gee maar altyd wat ek het, want die lewe druk ons almal maar swaar.”

Antie Klara beweeg vorentoe en probeer met haar een vry hand die strooikussings reg skuif en hier en daar ’n tafeldoekpunt regtrek.

“Jammer vir die deurmekaar plek. Met ’n baba in die huis kom ’n mens nie altyd uit by dit wat jy moet doen nie.”

“Dis oukei met ons, antie Klara. Ons is jammer dat ons nou eers kom gesig wys. Dit was ’n moeilike tydjie wat ons deurgegaan het,” sê Valencia.

“Ons almal maar, ja ... Lidia se dood was vir ons almal ’n skok.”

James voel skielik weer baie emosioneel, veral toe hy die wriemelende bondel in Lidia se ma se arms sien. Hy hou sy arms uit.

“Kan ek hom ’n bietjie vashou?” vra hy onseker, maar met ’n brandende begeerte om die kind teen hom te druk.

Antie Klara smile. “Maar natuurlik, James. Dis mos jou kind ook!”

Sy plaas die baba versigtig in James se arms.

“Daarso, Lee-Conner, dis jou dadda ...”

Die babageluidjies vul hulle ore. James ruik die babapoeier. Hy’t al byna vergeet hoe babas ruik.

Valencia staan op en druk die kombersie effens weg om sy gesiggie te sien. Uitgeknip James.

Die wenkbroutjies wat so na mekaar toe groei. Die neusie en die oop voorkoppie!

James merk weer hoe baie van Lidia se gelaatstrekke in die gesiggie verskuil is.

“Is hy nie poenankies nie!” sê Jamie-Lee. “Ek wil hom ook vashou, Daddy.”

Lidia se ma gaan sit gemaklik met haar hande op haar skoot.

“Ons moet net dankie sê vir die Here dat die kind ongeskonde is.

“Die dokter sê as die ambulans net vyf minute gesloer het, sou die kind dit nie gemaak het nie.

“Lidia het baie bloed verloor. Die skoot deur haar mond het haar dadelik laat sterf en die bloedtoevoer na die baba afgesluit. Maar deur God se genade het die ambulans toe betyds by die hospitaal opgedaag sodat die noodoperasie uitgevoer kon word ,” vertel antie Klara bewoë.

James knyp sy oë toe en druk die baba styf teen hom vas soos hy hom oor sy skouer lig. Hy prewel sag: “Dankie, Here!”

“God het sy eie planne met ons, antie Klara,” sê Valencia.

“Dit is so, kind. Die Here het geneem, maar Hy het ook gegee.

“Die kind het wonderbaarlik Lidia se plek in my hart kom vul.”

Daar heers ’n ongemaklike stilte. Valencia en James se oë ontmoet vir ’n breukdeel van ’n sekonde en spreek boekdele ...

Dis Valencia wat die moed het om die gesprek verder te voer. “Ek wetie of antie Klara bewus is van Whitey wat vir James in die hospitaal kom dreig het nie.”

Antie Klara sug swaar. “Dit sal net Whitey wees daai. Julle moet julle tog nie steur aan daai klong nie. Sy blaf is erger as sy byt.”

“Hy het kwaai geklink,” meen Jamie-Lee.

“Hy was baie lief vir sy suster. Sy’t hom baie bederf as hy die jaart skoonmaak of klein takies rondom die huis raakvat. Ek het ernstig met hom gepraat. Hy’t genoem dat hy James gevra het om geld in my bank in te betaal. Het hy?”

“Hy het, ja, Mevrou ...”

“Antie Klara, asseblief. Net antie Klara. Los maa’ die ‘Mevrou’.

“Ek is ’n gelowige mens. En dit baat nie ek gaan myself pynig oor my dogter se dood nie. Kyk waar sit jy nou vir die res van jou lewe.

“Of ons dit nou wil erken of nie – it takes two to tango. Lidia was maar nog altyd ’n vinnige enetjie. Dinge oorhaastig gedoen. Dié ding het gebeur. Dis nou verby. Ons kan nie mekaar blameer nie.”

“Ek’s bly u verstaan,” sê James.

“Dit was nie maklik nie, glo my. Veral met ’n seun wat dwars is en sy hart teenoor baie dinge in die lewe verhard het.”

Sy sug weer. “Ek bid baie vir hom. Daar sit hy nou agter tralies oor die skietding wat hy vir sy suster gegee het.

“Hytie ’n licence virrie ding gehettie. En die klong willie leer uit sy foute nie. Ek het hommie so grootgemaakie.”

James en Valencia knik albei en probeer antie Klara se stellings in hulle brein inneem.

“Die ander ding, antie Klara, is ... Ek sal my verantwoordelikhede teenoor my kind nakom. Sal R2 000 per maand genoeg wees?”

“Oorgenoeg, my kind. Eintlik te veel. Die kleintjies verorber darem nie so ’n klomp kos soos grootmense nie, jong!”

“Maar vir sy toiletries en kimbies en medisyne en so,” sê Valencia.

“Die lewe is duur, ja,” sê antie Klara. “Gee maar soos wat jy kan bekostig, my kind. Een ding moet jy vir seker weet: Dié mannetjie sal nie honger ly nie. Nie terwyl sy ouma leef nie.”

“Nog iets, antie Klara ...”

“Ja, Valencia, ek luister ...”

“Antie Klara kan eers daaroor dink voordat antie besluit.”

Stilte.

“Is daar ’n moontlikheid dat … ons Lee-Conner kan aanneem?”

Antie Klara maak asof sy nie gehoor het nie en vra of hulle tee of koffie wil drink.

“Dit sal nice wees,” sê Jamie-Lee. “Ek kan help.”

“Nou kom gou, my kind, dat ons jou ma se vraag oor ’n koppie tee kan discuss ...

“Verskoon ons tog gou, julle.”

Lee-Conner maak kermgeluide.

“Dis tyd vir sy melkies” sê antie Klara en kry die baba se bottel. Sy gee dit vir James.

James sit die bottel se sagte tepel in die soekende mondjie. Hy kyk met trots af na die gesiggie wat die inhoud van die melkbottel so geniet dat hy sy ogies toeknyp.

“Kyk, Mammie, Daddy is nog handig met dié dinge!” terg Jamie-Lee.

“Jy ken min jokes,” sê James laggend. “Só het ek jou gevoed.”

Valencia word stil Die toneel voor haar ontroer haar. Is dit die baba wat sy altyd begeer het? Is dít hoe God se planne werk? Wat sal antie Klara se antwoord wees?

Is dit reg om dié bondel plesier weg te vat van antie Klara om háár behoefte na nóg ’n baba te bevredig?

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters