17 dae gelede
Iets pla Elijah oor Tabak Malherbe, sy ou vriend ...
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Elijah en sy dogter, Jay, slaag net betyds daarin om uit die kloue van Die Komitee se magte te vlug. Elijah is op pad na ’n geheime bestemming waar hy meen die enigste kans vir die mens se oorlewing lê. Maar Die Komitee se magte gaan hulle nie net sommer so los nie. Die Leier het hulle bevelvoerder, Lucy Ferr, immers die dood voor die oë gesweer as sy nie daarin slaag om Elijah te elimineer nie. Geniet nou hoofstuk 11 van ELDRIDGE JASON se futuristic verhaal, “Dromers”.

DIT is vroeg skemer toe Elijah en Jay die klein vissersdorpie binnery.

Jay se mond hang oop.

Orals loop daar mense rond. Meer mense as wat sy al ooit in haar lewe gesien het.

Hier en daar staan ouens met plastieksakkies en kreef verkoop.

Eenkant, onder ’n boom, sit en rook twee ouens iets vanuit ’n gebreekte bottelnek.

“Ek glo dit nie,” prewel Jay. “Hierdie is nie moontlik nie.”

Elijah lag. “Sê hulle dan nie in jou leeftyd ‘sien is glo’ nie? Of is dit te oudmodies?”

Jay skud haar kop in ongeloof.

“My hele lewe lank is ek vertel dat die meeste lewe op aarde verwoes is tydens die groot bang.

“Hierdie...hierdie is oëverblindery. Ek weet nie watter tegnologie hierdie is wat Dadda gebruik nie, maar knyp my sodat ek wakker kan skrik.”

Elijah hou langs die pad stil en klim uit. Jay kyk hom grootoog aan.

“Klim uit,” sê Elijah. “Kom voel die seelug teen jou vel. Hierdie is nie ’n droom nie.

“Omdat die Kaap afgebrand het, beteken dit nie dat daar nie meer plekke soos dié kan bestaan nie.”

Daar is ’n onsekere kyk in Jay se oë toe sy haar deur oopmaak. Die onsekerheid word met een van vrees vervang toe sy ’n man gewaar wat haastig in hulle rigting gestap kom. Sy vlieg om en klim weer in die voertuig.

“Wat? Is ek dan besig om spoke te sien?” skree-vra die man al van ver af.

Toe hy voor Elijah tot stilstand kom, frons hy kwaai.

“Ná al die jare,” sê die man deur dun lippe. “En dan het jy die audacity om jou gesig hier te wys.

“Is jy nie bang ek skop jou binne-in jou p–”

“En ek is net so bly om jou te sien,” val Elijah hom kil in die rede.

“Ek is net so lus om jou met my kaal hande te verwurg.”

Daar is meteens doodse stilte. Die mans meet mekaar met die oë. Dan storm die man op Elijah af.

Jay gil toe sy die vuurwapen in die man se sy gewaar. Maar waar sy in die voertuig sit, voel sy hulpeloos.

Dan is die man by haar pa en ... En tot haar skok omhels die twee mans mekaar.

Die twee voor haar raak aan die babbel en sy maak net plek-plek uit wat hulle sê.

Dan draai Elijah om en wys in Jay se rigting. Die man kom om die voertuig gestap, maak die deur oop en kyk stip na haar.

Jay skuif ongemaklik op die sitplek rond.

“Nee, ek kan sien sy trek na haar ma,” sê die man in ’n bulderstem.

“Jy is anyway te f*kk*n lelik om sulke mooi kinders te maak.”

Dan bars hy uit van die lag.

Elijah kom nader gestap.

“Ten minste het sy my brains,” merk hy droogweg op.

“Jay, hierdie is ’n ou vriend van my. Tabak. Tabak Malherbe.”

“Met die klem op ‘mal’,” sê Tabak en bars weer uit van die lag.

“Maar ek neem aan julle is nie hier vir spek en boontjies nie?”

Elijah skud sy kop. “Ek is bevrees nie,” sê hy.

Hy sug swaar. “Ai, ek het nou net nog so lekker gevoel, maar as ek net weer aan Die Komitee dink, raak ek sommer van voor af depro.”

Tabak klik sy tong. “So nou en dan steek hier iemand van die stad uit en dan kry ons maar so die nuus. Daar bestaan mos nie meer goed soos TV en radio nie. Maar is dit so dat al wat mens is, deur daai robot-goeters uitgewis word?”

Elijah knik. “Androids. Ja, daar is seker net so 200, 300 mense in die Kaap oor.”

“Al die gangsters dood?” vra Tabak.

Elijah knik.

“Hallelujah!” gil Tabak ingenome. “Ek wou mos nog altyd Kaap toe gekom het, maar as ek dink aan al daai gangsters. Maar met hulle uit die prentjie –”

“Daar is nie meer ’n prentjie nie,” val Elijah hom in die rede. “Alles is met bomme platgevee. Selfs Tafelberg het in die slag gebly.”

“En die armgat se Table View?” vra Tabak.

Toe Elijah hom vraend aankyk, gaan hy voort: “Daai plek in Mitchells­ Plain wat so ’n groot gesug is, man ... ’m, ’n ...”

“Tafelsig?” vra Elijah en bars dan uit van die lag.

“Hoor nogal vir groot gesug, maar, ja, niks het oorgebly nie.”

Elijah frons. Iets krap aan hom. Vandat hy Tabak vroeër hier raakgeloop het, krap iets aan hom.

Die man voor hom ... dit is Tabak Malan, daarvan is hy seker, maar ... Dan tref dit hom soos ’n vuishou tussen die oë – hy het Tabak Malan meer as 30 jaar laas gesien en die man hier voor hom lyk dan nie eens ’n dag ouer nie.

En dit ná meer as drie dekades? Dis mos nie moontlik nie! Tensy ...

“Hoekom lyk dit dan nou asof jy ’n spook gesien het?” vra Tabak.

Elijah skud sy kop in ongeloof.

“Ek verstaan nie,” antwoord Elijah in ’n sagte, prewelende stem.

“Dis mos nie asof tyd hier stilgestaan het nie.”

“Maat,” sê Tabak en spoeg ’n bruin straal ghwêl eenkant toe.

“Ek weet nie of jy besig is om te yl of ’n ding nie, maar jy weet mos tyd beweeg ook hier.”

“Nou, hoekom lyk jy nie ’n dag ouer as die laaste dag dat ek jou gesien het nie?” vra Elijah en kyk sy ou pel agterdogtig aan.

“Wel, dan is ek seker uitgevang,” antwoord Tabak in ’n stem wat skielik begin krakerig klink.

“Ek het gedog die camouflage, hierdie beeld uit die verlede, gaan jou flous, maar ek was duidelik verkeerd, Elijah.”

“Dadda, ons moet gaan. Hierdie is die androids!” gil Jay.

Maar voordat Elijah kan reageer, staan daar skielik ’n android langs Jay se kant van die voertuig. Elijah se oudkollega, Nommer Twee. Hy rig ’n wapen op Jay.

Elijah draai woedend na “Tabak”, heel op ’n mission om hom uit te trap.

Maar voor sy oë is “Tabak” meteens omhul in ’n mistige wolk waaruit daar so ’n onaardse geluid opklink.

Dan tree eers een voet na vore. En dan nog een, totdat die persoon met ’n smile voor hom staan.

“Ek het vergeet dat jy nie maklik geflous kan word nie. My bad,” sê die persoon.

“Maar waar is my maniere? Hallo, Elijah.”

“Hallo,” antwoord Elijah stug.

“Haai, is dit hoe ’n mens ’n ou vriendin groet?

“Daai is mos nie kwaai nie!”

En toe gee Lucy Ferr ’n laggie. ’n Develish laggie ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters