29 dae gelede
Iets gebeur wat nie Ty óf Layla voorsien het nie
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons gaan vandag voort met NICOLETTE FOULDIEN se heerlike verhaal “Layla en die Drug Dealer”. Geniet nou die slothoofstuk.

‘DIS mooi, nè?”

Layla knik net in die donker.

Dis volmaan en die sterre lê die hemelruim vol. Gras en takkies kraak onder hul voete terwyl sy en Ty deur die wingerde loop. Alles is in ’n sprokiesagtige skadu en donkerte gehul.

Op plekke steek takke soos spookvingers die lug in, maar die sagte maanlig laat dit minder onheilspellend lyk. Die geluide van nagdiere verbreek kort-kort die stilte en die pub se musiek kan veraf gehoor word.

Hulle loop die volle lengte van twee lanings voordat Ty haar op ’n effense heuweltjie langs hom op die sagte kweek neertrek.

Hy trek sy baadjie uit en plaas dit soos ’n kussing onder hul koppe.

Hulle kyk na die hemel en soek na sterre. Dit word gou ’n kompetisie. Sy kry eerste die Suiderkruis en toe kry hy die Drie Susters.

Hy kry Orion en kort daarna vir Jupiter. Toe is dit Saturnus se beurt.

Ná ’n ruk gooi sy tou op en hy tree as wenner uit.

“Layla, sal jy my glo as ek sê jy is die eerste meisie met wie ek sulke dinge doen?”

Sy knik. Sy weet hy praat die waarheid. Sy wil nie te veel uitvra nie, maar van die begin af het sy besef daar is iets vreemds aan Ty.

Hy is een van die aantreklikste mans wat sy al ooit gesien het, filmsterre ingesluit. Vroue sal oor hul voete val vir hom.

Sy weet ook daar bestaan ’n moontlikheid dat hy dalk by iemand anders betrokke kan wees, maar hy is so eerlik en opreg dat sy die gevoel kry dat daar nie iemand is nie en dat hy regtig omgee vir haar.

Dis asof hy haar gedagtes kan lees, want hy vervolg: “Layla, ek weet jy is ’n onskuldige meisie en ek moet eerlik wees met jou.

“Ek wil nie hê jy moet seergemaak voel nie, daarom gaan ek nie veel uit my verlede met jou deel nie.

“Ek is nie iemand wat graag op my spore terugloop nie. Al wat saak maak, is ek en jy, nou en hier. Ons is bymekaar en ek wil elke oomblik saam met jou geniet. Dis vir my lekker om saam met jou te wees.”

Layla lê stil na Ty se strelende stem en luister. “Kyk waar bevind ons ons nou. Dink jy nie dis lekkerder as enige pub of watter plek ook al nie?” Weer knik Layla.

“Ek wil hê dat as daar ooit iets tussen ons moet gebeur, as iets moet skeefloop ...”

Hy draai op sy sy en kyk lank na haar gesig, waarop die maanlig speel en haar mooi gelaatstrekke om die beurt verhelder.

“Belowe my jy sal my onthou soos ek nou is?”

”Ek belowe, Ty,” fluister Layla skor, al kan en wil sy nie nou aan een ding dink wat tussen hulle kan verkeerd loop nie.

Hy leun skielik oor na haar. Hierdie keer gaan haar lippe gewillig oop onder syne. Sy tong is warm en soet.

Dis vir haar vreemd en ongekend, maar passie neem van haar besit. Dis eers toe sy ereksie hard en dwingend teen haar skaambeen aandruk dat sy hom saggies wegstoot.

Hy lig hom effens op en sy sug verlig, maar dan trek hy haar tenger lyf met een vinnige beweging onder hom in. Sy probeer onder hom wegskuif, maar sy gewig pen haar vas. Sy wil skree, maar sy hand sluit soos ’n staalklem om haar mond. Sy staar verwilderd na hom. Haar oë vraend. Paniekbevange.

Die dennenaalde stroop die vel van haar stuitjie. Sy is skaars bewus daarvan, want ’n ander, skerper pyn skeur deur haar lyf. Hy dring haar met geweld binne.

BLIKSEM! Hy moes al opgedaag het vir sy afspraak met die Rasta onder by die compound. Rasta is die beste skakel tussen hom en die ander plase.

Hy boender die slapende Teddy, wat styf in Sue se omhelsing lê, uit die bed. Hy’s reeds ’n halfuur laat en dit sê niks goeds van die altyd stiptelike Mr. T of Ty Die Tycoon nie.

Die compound is stil. Die toegangshek is met rooi polisiebaniere toegespan. Ty vloek hardop toe hy uitklim en na die sekerheidswag stap wat by die hek staan.

“Wattef*k gaan hier aan?”

“Jammer, Meneer, geen toegang. Meer as die helfte van die mense hier is positief getoets vir corona.”

Die wag trippel ongemaklik rond, duidelik bang vir die onsigbare vyand teen wie hy moet wag staan.

“Nou hoe de ... En die Rasta? Waar is hy?”

Ty het nie lus vir nog ’n oponthoud nie. Hy is reeds laat. Tyd kos geld. Nie eens corona gaan hom nóú kan stuit nie. Sy lyf is vol adrenalien. Hy voel byna eufories. Hy kon Layla sy eie maak. Dit gee hom ’n gevoel van mag.

“Die Rasta is dood.”

“Wat!?” Ty kan sy ore nie glo nie. Hy het dan vyf dae gelede nog met die bliksem gepraat.

Skielik onthou hy dat die Rasta glad nie goed gelyk het nie. Hy het iets van griep genoem.

“Wat het hy makeer?” vra Ty, duidelik nie meer so vol bravade nie.

“Hy’s vermoedelik dood aan die virus.”

Ty draai om. Die lastige krieweling in sy keel slaan oor na ’n hoesbui. Hy vee die sweet van sy voorkop af voordat hy in die kar klim.

“What kind?” vra Teddy bekommerd. Ty antwoord nie en stoot die kar in trurat.

“Dis orrait, Ty. Ons kan mos maar môre wee–”

’n Hoesbui oorval Teddy.

By die huis wag ’n bekommerde Timmie hulle in. Sy oë blink van die koors. Sweet pêrel op sy voorkop.

“Ty ... Troubles ... Hy kry nie ... asem nie!

“Ons moet hom ... hospitaal toe.” Timmie sak op die stoep neer.

Ty draai om en stap na die buurhuis. Hy klop saggies aan die kamervenster. Roep haar naam.

Hy is verbaas toe die deur ná enkele minute oopgaan en Layla op die donker stoep uitkom.

Sy staar verslae na hom.

“Ek is so jammer ek het my aan jou opgedwing, Layla. Ek weet woorde beteken nou niks, maar ek wil hê jy moet weet ek is lief vir jou. Van daai eerste oomblik toe ek jou ontmoet het.”

Layla kyk net stom na hom. Trane rol oor haar bleek wange.

“Jy weet nou wie ek is. Ek wens dit kon anders wees. Dat ek jou nie mislei het nie. Jammer, Layla.”

Hy vee haar trane af, verbaas dat sy nie terugdeins nie.

“Ek vergewe jou, Ty.”

“Wat?” Sy stem is vol ongeloof. Hy wil haar vashou, verseker van sy liefde, maar hy kan nie. Nie noudat hy weet hy is siek nie.

“Ek het die virus, Layla, en nou dalk jy ook. Jy moet hulp kry, asseblief? Nou dadelik.”

Layla staar geskok na hom.

“En jy? Wat gaan jy–”

“Ek gaan weg. Terug huis toe.” Hy druk iets in haar hand.

“My nommer. As ek oorleef en jy my kan vergewe.”

Hy draai om.

Sy staar die verdwynende ligte lank agterna. Sy gaan genoeg tyd hê om alles te oordink.

Die lockdown is vandag vir ses maande verleng. Covid-19 sal hul lot bepaal.

  • Die Einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters