12 dae gelede
Hy wil not a damn loop werk, maar ’n call verander alles
 ~ 

HAAI Sonlanders, vandag begin ons met ’n splinternuwe verhaal uit die pen van ELDRIDGE JASON. Hy noem hierdie verhaal “Die Gemaskerde Killer”. Geniet die eerste hoofstuk!

HY VLOEK kliphard toe sy alarm clock op die bedkassie langs hom aan die blêr gaan. Net toe hy op sy lekkerste slaap!

Daar is twee sondes in hierdie wêreld wat hom regtig die duiwel in maak – misdadigers en alarm clocks.

Die wind van wie-ever die alarm clock uitgevind het, moes destyds al behoorlik uitgeskop gewees het.

Traag gooi hy die duvet van hom af. Hy rek hom met ’n harde kreungeluid uit.

Hy gaap en vryf oor sy oë. Sy week verlof was veels te kort. Maybe moes hy langer verlof ingesit het?

Sy stasiebevelvoerder, brig. Beneke, wou egter niks weet nie. Iets gemompel van klaar short-staffed en ander detectives wat tans onder kwarantyn is.

So asof corona sy skuld is. Hy is nie lus om die hele dag met ’n masker by die werk te gaan sit nie. Dit voel dan jy spoeg heeldag in jou eie gevreet!

Hy sug en kom swaar orent. Hy is diep, diep lui.

Hy sit op die kant van sy bed en voel-voel met sy voete vir sy kapalangs.

Lusteloos steek hy sy tone daarin en kom dan orent.

’n Pyn skiet by sy lae rug af en laat hom ’n oomblik snak na asem.

Verdomde ou kooi van hom! As hy nie van beter geweet het nie, sou hy kon sweer die matras van hom het vuiste en slaan hom in sy slaap.

Sleepvoet stap hy badkamer toe om ’n fluit te gaan vat.

Die koue van die badkamerteëls slaan reg deur sy kapalangs.

Kamma-likes Sportscene-materiaal, but beteken ook maar lekker f*kk*l nie, dink hy vies.

Maar kapalangs moet hy dra, want hy wil nie nou verkoue staan en kry nie.

Nie met antie Corona in die lug nie.

Hy sug weer swaar. Wie-ever laas jaar op Oujaarsaand na 2020 verwys het as twenty-plenty, makeer ook ’n paar PK’s.

In Februarie het hy nog ’n bietjie down gevoel oor hy nie ’n date vir Valentine’s Day het nie. Toe kom Maart en die onsigbare Groot Griep van oor die waters hier aan.

Toe is dit nuwe vloekwoorde soos “social distancing”, “lockdown” en “Covid-19” wat ruk.

Hy en sy kollegas het nog jokes daarvan gemaak en dit lekker geniet om die winkels te raid wat onwettig gwhaais verkoop.

Maar toe sy kollegas die een ná die ander positief getoets word vir Covid-19, toe is dit nie meer ’n grap om grosse entjies uit te rook sonder om daarvoor te betaal nie.

Sy ever-end was toe daai Beneke, hul benerige bevelvoerder, ná elke positiewe geval net beveel het dat hul kantore met Dettol-lappies afgevee word.

En toe sterf Niemand, Hollenbach, Januarie, Mat­thysen, Ludick en Zimmery sommerso in ’n ry.

Goeie cops wat jare lank soos pit bulls gewerk het om kroeks agter tralies te kry.

Goeie cops wat weens Covid-19 nie eens ordentlike begrafnisse kon hê nie.

Hy skud sy gedoente af, trek sy trunky op en trek die toiletpot se chain. Die dood kom klop die een of ander tyd aan ons almal se deur, sê die politicians.

Maar weet hulle hoe dit voel om soveel kollegas te verloor en dan kan daar nie ordentlik van hulle afskeid geneem word nie?

Hy skud sy kop. Baat nie hy werk homself op oor hierdie hele drama nie.

Sy baas is iemand wie se oopdeur-beleid net ’n oop kantoordeur beteken.

Laat hy maar ’n shower vat, ’n lining in die maag kry en die bul met gesaniteerde hande aan die horings gryp.

HY IS net op pad na sy kar toe hy besef hy het sy masker in sy flat vergeet.

Hy vloek saggies. Sonder daai blerrie lap-ding word ’n mens mos deesdae nêrens toegelaat nie.

Maar die ding maak hom benoud. Dit voel of hy nie lekker kan asemhaal nie.

Hy ruik die hele tyd sy eie ou rookasem.

Haastig klim hy die trappies na sy woonstel uit en sluit sy voordeur weer oop. Hy gryp vies na die masker wat op die rusbank in sy sitkamertjie lê en hy is net op pad deur toe toe sy selfoon lui.

Nog vies haal hy die selfoon uit sy jeanssak. Hy herken onmiddellik sy polisiestasie se nommer.

“Yebo, yes,” antwoord hy.

Die vrou aan die ander kant van die lyn lag saggies.

“Jirre, wie praat dan nou nog van ‘yebo, yes’?” vra sy.

“Het jy dan niks nuwe dinge geleer in jou week af nie?”

Hy herken dadelik die stem van speurkonst. Layla Fortuin en lag.

Die mooie Layla helder darem altyd die kantoor op met haar looks, maar vandat almal deesdae maskers dra, sien ’n man ook maar f*kk*l van haar mooigeid.

“Fortuin, as jy my so vroeg bel, dan het ek either die Lotto gewen of ek is in die k*k.”

Layla giggel.

Daai giggel wat hom baiekere op kantoor so laat dagdroom het.

Maar waar sal ’n mooi goose soos sy met ’n pittekop soos hy op ’n date gaan?

Kinnes soos Layla soek ouens met spiky hare – en dit maak nie saak hoeveel keer hulle haar hart breek en haar matras net deurlê nie.

“Nie een van die twee nie, sorry,” antwoord Layla steeds laggend.

“Ek bel om te sê jy hoef nie werk toe te kom nie; ek sal jou sommer nou kom optel.”

Hy voel hoe sy maag draai. Dit kan net een ding beteken.

“Op my nugter maag?” vra hy met die minste van geesdrif.

“Op jou nugter maag. Maar jy sal hierdie ene likes. Derde soortgelyke moord in ’n week.”

Hy frons. “Maar hoekom het ’n mens dan nog niks hiervan in die koerante gelees nie?”

“Ag, jy weet,” sê Layla. In sy geestesoog sien hy hoe sy daai oulike skouertjies van haar optrek.

“Die brigadier is nog die moer in vir die media oor veral Son mos laas geskryf het oor hy wat Beneke is wat nie die stasie wil sluit vir ’n deep clean nie.

“En sy ander verskoning is dat hy nie paniek wil saai nie, veral nie oor die description van die killer nie.”

“Wat is so spesiaal aan hierdie killer?” vra hy.

Hy kan nie help nie, hy is nuuskierig en ja, hy moet admit, hy het eintlik die werk gemis.

“Ooggetuies kon nie veel van die verdagte sê nie. Behalwe dat hy ’n masker opgehad het.”

Hy vloek. “Maar dra almal dan nie maar nou maskers nie?”

“Exactly,” antwoord Layla. “Wag vir my, ons gaan na die toneel van die jongste victim.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters