Verlede maand
Hul gesprek vang die pragtige Layla en Ty ewe onkant
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons gaan vandag voort met Nicolette Fouldien se heerlike verhaal “Layla en die Drug Dealer”. Geniet nou hoofstuk 6.

‘EN WAT soek ’n aantreklike jong meisie op ’n mooi aand soos dié op haar eie?”

“Stilte en vrede,” mompel sy saggies.

“So, dan is ons al twee vanaand op die verkeerde plek.”

Layla kyk weer skrams na die vreemdeling.

“Ek raai jy is ook nie van hier nie?” Layla knik liggies.

“Ek ook nie. Nes jy is ek nie lus vir die geraas daar binne nie. Kan ek jou geselskap hou?”

“Ek dink nie ek sal goeie geselskap wees nie.”

“Ek dink jy moet dat ek self daaroor besluit, oukei?”

Layla knik weer.

“Hoekom wil jy nie daar binne wees nie? Jy het tog vriende daar binne, of nie?”

“Ja, maar... ek is nie eintlik ’n drinker nie. Of altans, ek is glad nie ’n drinker nie en hulle wil dit nie so aanvaar nie.”

“Weet jy, Layla, dis eintlik waar die probleem vir ons almal begin.

“Groepdruk. Soms gee ’n mens in omdat jy nie uit wil voel nie.

“Persoonlik dink ek dis die grootste fout wat jy in jou lewe kan maak: om in te gee, al weet jy dis nie wat jy vir jouself wil hê nie.”

Layla sit stil na die man en luister.

Hy het ’n mooi stem en hy praat anders as die mans wat sy ken.

Hy spreek sy woorde reg uit en hy laat haar aan ’n onderwyser dink. Dalk ís hy een?

Sy vra egter nie uit nie.

“Jy is ’n goeie meisie.”

Daar heers ’n ruk lank stilte voordat sy vra” “Hoekom sê jy so? Jy ken my nie?”

“Nee, ek ken jou nie, maar die hart van enige jong meisie wat van soveel plesier wegstap, sit op die regte plek. Jy het wilskrag.”

“Dankie, Tyrone.”

Dis die eerste keer dat sy sy naam noem. Dit kom lê vreemd bekend op haar tong.

“So, nou ken ons mekaar en ek mag seker vra wat ’n mooi meisie soos jy op ’n plaas soek. Het jy familie hier?”

“Nee, ek het vir die lockdown saam met ’n skoolvriendin gekom.

“Ek is net twee weke hier, maar ek weet nie of ek tot dan sal kan uithou nie. Ek is nie iemand vir partytjies nie, en nou voel dit asof ek Menta in die steek laat.”

“Ag nee, Layla, jy moenie só daaraan dink nie. Julle ken mekaar tog seker al lank?”

Layla knik.

“Nou ja, dan weet sy mos presies watter soort mens jy is en dit was verkeerd van haar om jou hierheen te bring en jou dinge teen jou sin te laat doen.”

Layla weet Ty is reg. Sy bewonder sy wysheid.

“As sy jou weer voor ’n ultimatum stel, weier jy beslis. Dis jou reg om keuses te maak oor wat jy dink die beste vir jouself is.

“Jou vriendin moet maar daarby berus. Niks staan mos in haar pad om dit te geniet nie? Dit lyk asof jy goed klaarkom so op jou eie.”

Layla kyk Ty verbaas aan.

“Weet jy Ty, dis presies hoekom ek Menta nie wou teëgaan nie. Ek het die hele tyd gevoel ek is dit aan haar verskuldig omdat sy my genooi het. Nou weet ek dit hoef nie so te wees nie.

“Dankie. Ek weet nie hoe ek sonder jou raad deur die volgende twee weke sou gekom het nie. Nou weet ek beter.”

Sy kyk hom dankbaar aan.

“Nie te danke, Layla. Ek is bly ek kon ten minste help.”

Hulle sit ’n ruk in stilte na die fonteintjie en staar.

Die lopende water en geluide van nagdiertjies skep ’n stil, kalm atmosfeer.

Al Layla se ongemak is weg. Sy is skielik ook nie meer spyt dat sy gekom het nie.

Dis Ty wat ná ’n ruk die stilte verbreek.

“Hoe oud is jy, Layla? Jammer, ek weet julle vroumense hou nie van die ouderdom-ding nie, maar ek is net nuuskierig.

“Jy’t genoem jy gaan nog skool. Tog is daar ’n soort volwassenheid aan jou? As jy verstaan wat ek bedoel?”

“Dis oukei. Ek is 18. Word oor twee maande 19.”

“Dis goed. So, jy kan darem wettig drink.”

Layla kyk skerp na Ty, wat wittand vir haar glimlag.

“Ag, ek trek net jou been. Dis goed dat jy nie drink nie.

“Dis beter om anders te wees. Almal dink altyd dis die norm om jonk te wees en jouself sinneloos te drink.

“Ekself is ook nie eintlik ’n drinker nie. Ek sal wel ietsie by ’n geleentheid vat, maar ek verkies om nugter te wees. Dronk mense doen dom dinge.”

Dié keer glimlag Layla terug, en Ty verbeel hom hy kan die sterre in die jong meisie se oë sien blink.

Daar is kuiltjies in haar wange, en sy het die mooiste hare wat hy nog ooit gesien het.

Vaneffe toe hy haar hier sien sit, voordat hy haar genader het, het hy ’n hele paar minute net stil na haar gestaan en kyk.

Sy het soos ’n bosnimf gelyk. Gehul in skadu, met die maan wat blink op haar hare skyn en strale daaruit tower. Dit het hom aan ’n kleintydsprokie laat dink.

Sy is mooi, en daar heers ’n onskuld aan haar wat hy nie weet hoe om te benader nie.

Hy het nog nooit voorheen met só ’n vroumens te doen gehad nie.

Hy’t nie eens geweet hulle soort bestaan nog in vandag se tyd nie.

Hy weet nie eens waarvandaan die woorde kom wat hy teenoor haar uiter nie.

Dis nie wie hy is nie! Tog voel alles net vir hom reg so. Hy wil nie verder as dit dink nie.

“Ek moet gaan,” sê sy.

Layla kom orent, en hy staan ook haastig op.

Skielik is hy onwillig om haar te laat gaan.

“Wag, Layla! Waarheen?”

Sy kyk hom verbaas aan. “Huis toe. Ek dink ek het genoeg gehad, en soos jy gesê het: Menta kan alleen haar ding doen. Sy het my nie hier nodig nie.”

Ty kyk haar verbouereerd aan. Hy weet hy moet iets doen.

Hy weet nie wát dit met hom is nie, maar iets sê vir hom hy kan nie so gou van dié meisie afsien nie.

“Kan ek saam met jou stap?”

Sy kyk hom lank aan. Oënskynlik besluiteloos. Dan: “Hoekom nie? Dis in elk geval net hier oor die laagwaterbruggie. My vriendin het gesê dis heeltemal veilig hier, so jy hoef regtig nie ...”

“Nee! Ek wil.”

Die eerste ent lê hulle in stilte af. Dan buk sy om ’n klippie uit haar sandaal te haal.

Sy wankel. Ty neem haar arm stewig in syne sodat sy haar balans kan hou. Die aanraking stuur ’n skokgolf deur albei, en toe sy regop kom, bevind sy haar eensklaps in sy arms.

Sy lippe kom sag op hare neer, en sy sluit haar oë teen die duiseligheid wat dreig om haar te oorweldig.

Haar bene wankel, en hy trek haar stywer in sy greep.

Dis eers toe sy tong soekend deur haar klam lippe beur dat sy tot haar sinne kom.

Sy ruk los en stamp hom weg voordat sy blindelings met die bospaadjie langs vlug.

“Layla! Layla, ek’s jammer!” hoor sy hom roep, maar gelukkig volg hy haar nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters