Verlede maand
Hul besigheid lyk baie goed, en die kinnes duidelik
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons gaan vandag voort met NICOLETTE FOULDIEN se heerlike verhaal “Layla en die Drug Dealer”. Geniet nou hoofstuk 8.

‘WAT ’n nag!”

Menta val in die bank oorkant Layla neer. Laasgenoemde kyk verbaas na die droomverlore uitdrukking op haar vriendin se gesig.

“Ek dink ek het my trouman ontmoet!” Sy spring regop. “O, Layla! Jy sal dit nooit glo nie! Hy is die aantreklikste man wat ek al ooit gesien het!”

Layla se maag trek op ’n knop. Ag, Here! Tog nie Menta ook nie!

“Wat het toe van jóú geword?”

Dis asof sy nou eers onthou Layla het verdwyn.

“Ek het huis toe gekom. Wie is die man van wie jy praat?” por sy haar vriendin aan.

“Die man? O, jy bedoel dié man. Troubles!” roep sy hartstogtelik uit. Layla slaak hoorbaar ’n sug van verligting.

’n Oomblik lank het sy gedink dis dalk Ty.

Sy sien nie kans vir konflik tussen haar en Menta ook nie.

Terwyl haar vriendin voortbabbel oor Troubles se goeie hoedanighede en alles wat hulle die vorige aand gedoen het, besluit sy om vir eers haar en Ty se ontmoeting stil te hou.

Sy wil eers kyk in watter rigting dit vorder.

“Wag, ek wil gaan kyk waar my skattebol is.”

Menta vlieg op. Layla keer haar net voordat sy die deur bereik.

“Ag nee, sies, Menta! Kyk hoe lyk jy? Dink jy dis hoe ’n kêrel sy nuwe meisie wil sien? Gaan bad en borsel eers jou tande, man.”

Menta kyk haar vies aan, maar besluit dan wyslik Layla is tog reg.

Terwyl sy bad, maak Layla hul beddens op. Deur die kamervenster gewaar sy Ty en sy vriende in die swart BMW klim en wegry.

Sy sien hoe hy vir oulaas in hul huis se rigting kyk. Haar maag maak ’n wilde draai.

“Hulle het gery,” sê sy droog toe Menta uit die badkamer kom. “Gery? Waarheen? Jy jok!”

Menta gee ’n gil en storm na buite. Op die stoep steek sy verdwaas vas. “Dis jou skuld. Ek kon eers gegaan groet het,” stuur sy ’n beskuldiging en ’n vies kyk in Layla se rigting voordat sy stadig na langsaan drentel. Layla glimlag net en stap in om haar ouers te bel, soos sy belowe het.

DIE Four T’s spandeer bykans vier ure in die Villiersdorp-plakkerskamp voordat hulle met tevrede uitdrukkings op hul gesigte regmaak om te vertrek. Hulle het goeie besigheid gedoen.

’n Rasta en twee swart ouens het ingestem om op kommissie vir hulle te werk.

Ty kry so ’n lekker gevoel in sy binneste. Hy’t nie verwag dinge sou so gou so vinnig vorder nie.

Maar hoe ook anders? Die dorpie lê weggesteek tussen die berge en valleie. Die plaaslike smokkelaars moet ver ry om hul goed aan te skaf en hulle moet dikwels van gehuurde voertuie gebruik maak.

Nou, met die corona-virus, is die risiko groter en hul uitgawes meer. Die dorp is gedek; nou moet hulle net probeer uitbrei na plase, waarvan daar tientalle in die omgewing is. Besigheid kan net goed wees. Ty ruik byna die sukses.

Die Covid-19-pandemie werk in hul guns. Die manskappe draai eers na mekaar om ’n stewige handdruk met ’n harde “hosh” te deel en druk dan die uitgestrekte duim en voorvinger teen hul bors. Dis die teken van sukses, kameraderie en mag.

Die ander twee wag al vir hom in die kar, terwyl Troubles op die sypaadjie besig is om met ’n jong meisie geselsies te maak. Ty klim agter die stuur in en trek sonder hom weg. Troubles wissel vinnig nog ’n laaste paar woorde met die meisie voordat hy met ’n skril fluit omdraai en agter die motor aanhardloop. Hy haal hulle by die stopteken in en spring uitasem langs Teddy in.

“Jarre, my broe’! Los dié gedagte, man. Daai was mos ’n duidelike kind.” Hy lyk net so bekaf soos hy klink.

“By djou is almal duidelike kinnes. Oppie plaas is da’ genoeg ve soelank, my broe’. Vanaand ka’ djy djou dik vriet aan lamsvleis! Los ma ve eers die dorp se taai skape,” laat Timmie hoor terwyl hy skuins draai sodat hy na die twee op die agtersitplek kan kyk.

“Jirre, my broe’. Daai Wendykind van giste’aand gie bed*nn*rd aan, hoor!”

Almal lag vir Timmie se uitgesprokenheid. Net Ty staar strak voor hom uit.

Dit lyk of hy op die hobbelrige pad voor hom konsentreer. Die ander gaan voort om oor die vorige nag se eskapades uit te wei.

“Djy praat soe. Djou kleinniggie is okkie te sleggie, ma’ ek wil eers daai een langsaan traai. ”

Ty spits dadelik sy ore, maar besef dan Troubles praat nie van Layla nie. Sover hy weet, het nie een van hulle haar al gesien nie.

“Ek dink ek sal ma’ dié keer huisbaas speel, ouense!”

Almal kyk vraend na Teddy, wat terugleun met sy hande agter sy kop om te wys hoe hy as ’n huisbaas sal lyk.

“Wat mien djy?” vra Timmie agterdogtig. “Nai, ek mien ma’ net, Sue lyk nog reg.”

Teddy lek sy lippe suggestief af en Timmie draai vies terug in sy sitplek.

“Whatever. Ma’ moet nettie djou luck push nie. Sue is ’n anne’ ene. Kyk djy ma’ hoe ver djy kom.”

Daar heers ’n kort stilte in die motor voordat Timmie weer praat.

“En wat sê djy, Ty?”

Ty kyk net vlugtig in Timmie se rigting. “Nai ek is orrait. Besigheid lyk goed. Ek’s bly ons het gekom.”

“Nai, man, my broe’! Dissie wat ek mien nie.”

Ty kyk hom vraend aan.

“Ek praat vannie kinnes!”

Timmie druk om die beurt teen sy tepels.

Ty trek net sy skouers op. “Ooo, hulle. Hulle lyk orrait.”

Die twee op die agtersitplek bars uit van die lag. Timmie besluit vererg om liewer stil te bly.

“So, ons ga’ vanmiddag oppie rugbyveld braai?” lok Troubles ná ’n ruk vir Timmie uit sy stilte.

“Ja. Die ouens ga’ ’n bietjie sokker speel.”

“Ennie netball-toeties?”

“Wietie. Sal ma’ sien. Ná giste’aand is hulle sieke te moeg.”

Ty weet nie of hy bly moet wees toe hulle by die plaashek indraai nie. Soms irriteer sy vriende die k*k uit hom, soos nou met al hul geselsies, maar hy sien ook nie uit na die ma en haar twee spuls dogters wat by die huis op hulle wag nie.

Gisteraand toe hy terug is pub toe, kon die susters hul hande nie van hom afhou nie. Hy het hom maar vroeg verskoon.

Ongelukkig is hy in ’n situasie waar hy nie openlik onbeskof kan wees en hulle afjak soos hy graag wil nie. Hy wens hy het dit in hom gehad om soos die ander in enige vrou belang te stel, maar dis nie hoe hy is nie.

Hy stel vir homself hoë standaarde en die ligsinnige mopkoppies laat net mooi niks aan die verbeelding oor nie.

Layla, ja. Sy is anders. Hoekom, weet hy nie, maar hy weet net sy is anders. ’n Andersheid waaraan selfs hy nie gewoond is nie, moet hy aan homself herken.

Hy hou in die oprit stil en skakel die enjin met ’n sug af toe sy oë op die drie wagtende meisies op die voorstoep val. Van Layla is daar geen teken nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters