3 maande gelede
Hierdie potjierol het planne met hom, besef Fanie
 ~ 

FANIE het in sy lewe nog net op een song gedans.

Dit was jare gelede toe hy ook ’n draai in die jol gaan maak het.

Daardie jare was die “La Maca­rena” song nog die in ding.

Dit was nie vir hom so ’n lekker experience nie. Niemand wou met hom dans nie.

En daar is oomblikke in die lewe waar dit glad nie oukei is om met jouself te dans nie.

Toe dit daardie aand by die jazz numbers kom, het hy Lizzie Koekemoer vir ’n jazz gevra.

Hy het ook maar eers ná ’n hele paar doppe die guts gehad.

En hy het ook maar net gevra omdat Lizzie nie juis iets vir die oog was nie en niemand anders met haar wou jazz nie.

Carlos Santana se “Maria Maria” het net begin klop toe hy en Lizzie die dansvloer inwals.

Maar toe trap hy op Lizzie se groottoon.

Dit was nie sy skuld dat Lizzie so ’n groot groottoon gehad het nie, maar dit was die einde van hulle jazz.

En sy aand.

Hy het toe maar besluit om by sy huis alleen verder te gaan drink.

En hier staan hy nou voor ’n tuisgemaakte verhoog en wag op Gerald, wat vanaand se show gaan open.

Die vroue se aandag maak hom ongemaklik. Hy is nie gewoond daaraan dat die teenoorgestelde geslag só om hom koer nie.

Maar hy kla glad nie dat Sammy elke keer seker maak sy glas bly vol nie.

Sammy … Wat ’n pragstuk van ’n vrou, dink hy.

Hoekom sal hulle sulke entertainment verkies?

Dit lyk vir hom of mense met geld ook nie meer weet wat hulle in die lewe wil hê nie.

Sammy het nou al ’n paar keer sy rug gevryf. Diep binne hom het hy gewens sy vryf iets anders. Soos sy hand, natuurlik.

Hy vat ’n sluk van sy dop en trek sy gesig.

Johnnie Walker-goeters, het Sammy vroeër gesê.

Hy wat Fanie is, is ’n Vat 69-man. Hierdie drank is dalk duur, maar dit smaak vir hom na pie. Dit sal net rykgatte wees wat só duur vir pie sal betaal, dink hy.

Hy loer om hom rond. Sammy gesels met ’n dikke­rige vroutjie.

Dan loer die tweetjies in sy rigting en giggel.

Oud maar nog spuls, dink Fanie en lig sy glas in hulle rigting.

Antie Dik kom in sy rigting gestap. Van ver af sien Fanie al die bielie van ’n diamant wat aan haar ringvinger pronk. Geld se baas is haar man, besef hy dadelik.

“Hallo, nuwe gesiggie.”

Antie Dik se stem klink soos ’n irriterende, skril fluitjie.

Dit sou beter wees as sy net sign language kon doen, dink Fanie en vat nog ’n sluk van sy dop.

“Ek hoor jy gaan ons ook vanaand entertain.”

Antie Dik beloer Fanie skaamteloos op en af.

Hy kry die idee sy is besig om hom met haar oë uit te rek.

In your dreams, Antie, dink hy, maar sê niks.

“Ek is Monica,” stel die antie haar voor en steek ’n hand uit.

Fanie soen haar uitgestrekte hand soos wat hy gesien het die ouens in die movies maak.

“O, dan is jy nog ’n gentleman ook. Ek is impressed,” sê Monica goedkeurend.

Fanie lag verleë. “Ek probeer maar my bes,” antwoord hy.

“Ons sal later moet gesels,” sê Monica betekenisvol.

Fanie trippel ongemaklik rond. Hy weet steeds nie wat om te sê nie. Genadiglik begin die musiek hard klop.

I like to move it, move it

I like to move it, move it …

Die vroue rondom hom begin gil.

Net toe Fanie nog ’n sluk van sy aaklige maar duur dop vat, spring Gerald agter die gordyn uit.

Hy het net ’n tiervel-tangatjie aan. Fanie raak aan die proes. Dis net holle en walle.

Fanie se oë begin traan. Het hierdie drinkebroer van hom dan waaragtig geen skaamte nie?

Die vroue blyk min gespin te wees met Gerald se figure wat so uit lyn uit is.

Erg vrolik begin hulle spontaan hande klap.

Gerald begin sulke rukkerige dansbewegings maak soos iemand wat ’n fit kry.

Dan skeur hy sy T-shirt van sy lyf af en maak brulgeluide wat selfs ’n leeu sal laat weghardloop.

Gerald begin op en af spring. Sy man boobs doen ’n 360.

Die vroue kraai “oe-oe!” en maak soos hoenders klapgeluide met hulle arms. Fanie merk ietwat jaloers op dat Sammy heel voor in die koor dans.

Daar is ’n opgewonde blos op haar wange. Monica lyk weer soos iemand wat gesterf en toe straight hemel toe is.

’n Mens sou sweer Gerald is gebou soos daai WWE-rofstoeiers, dink Fanie vies. Wat het Gerald anyway wat hy nie het nie?

Gerald dans rugkant na die gehoor, buk vooroor en loer onderdeur sy bene na die vroue.

Fanie se dop smaak meteens totaal ondrinkbaar.

Hy stap vies na die kroegtoonbank. Daar maak hy vir hom ’n bier oop.

As Gerald gedink het sy nasty dansgiere gaan hom van die drank genees, dan maak hy hom laat, dink hy vies.

Ná wat soos ’n ewigheid voel, is Gerald genadiglik klaar met die dansery. Onder groot en spulse applous van die vroue spring hy soos ’n wafferse spring chicken van die stage af en stap na Fanie.

Die sweet tap hom af. Fanie kan nie uitfigure of dit van die dansery is en of dit drank is wat Gerald uitsweet nie.

“Kan jy sien hoe love die vroue dit?” vra Gerald.

Fanie knik.

“Nou is dit jou beurt, tjomma,” sê Gerald. “Monica sê hoeka sy kan nie wag om jou lyf te sien nie. En soos ek haar ken, het sy vir jou ’n groot tip in mind.”

As dit maar ’n groot tip was wat sy in gedagte het, dink Fanie.

Sy maag gee skielik ’n draai. Sal hy die pyp kan rook?

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters