26 dae gelede
Grecia is bly oor sy baas se plan met kapt. Setera
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag begin ons met hoofstuk 1 van Salmon Smith se verhaal “Projek Bionies”. Geniet dit!

‘WELKOM terug hier buite in die beskawing, my lanie!” Die deftig geklede man buig eerbiedig voor die groot man voor hom en beduie na die wagtende motor.

“Ek het spesiaal ’n limo gehuur vir my lanie.”

Terror Gambino kyk met skrefiesogies na die grênd motor en die vyf lyfwagte wat almal rondom die kar staan – almal natuurlik tot die tande toe gewapen.

Hy merk die koerantmanne en fotograwe op wat soos aasvoëls daar rondstaan, gereed vir die lekker sappige storie. Maar hy steur hom maar min aan hulle.

Hulle het destyds ’n klomp stront oor sy hofsaak geskryf, maar hy worry nie. Hulle kan maar weer hul stront oor sy vrylating ook skryf.

Hy kyk vlugtig terug na die hekke van die Pollsmoor Gevangenis, waardeur hy pas as ’n vry man gestap het.

Hy kyk na die man hier voor hom. “Dankie, Grecia.

“Ek’t gewiet dat ek op djou kan staatmaak hie’ buite.

“Ko’ laat ôs net hie’ wegkô’ van die k*k plek af!”

Saam stap Grecia – die hoofholborsel – en sy groot gangster-baas met afgemete treë tussen die flitsende kameras deur na die wagtende motor.

Die bodyguards mol om die deure oop te maak en Terror en Grecia skuif hul groot liggame by die agtersitplek in.

Die bodyguards stoot die kameramanne weg van die motor af en maak vinnig die deure van die limo toe. Hulle kyk vlugtig rond en spring vinnig in ’n backup-kar. Hulle volg die limo op ’n afstand toe dit voor Pollsmoor wegtrek.

Grecia skink vir hom en sy grootbaas elkeen ’n fênsie glas vol whiskey. Hulle lê behaaglik agteroor terwyl hulle aan die duur vloeistof suie.

“Het hulle darem my lanie lekker behandel daarbinne? Ekke mean, 12 jaar is ’n lang tyd,” vra Grecia.

Terror kyk met yskoue oë na sy second-in-charge.

“Grecia, moet my liewerste nie oor die tronkliewe uitvra nie. Ekke wil daai episode vir eens en altyd uit my geheue verwyder.

“Ekke moes in die eerste plek nie gaat bandiet hettie. Maar ek is net bly jy het darem nog die dinge hier buite stewig vasgevat en die trade laat run.”

“Dis ’n plesier, my lanie. Ek het weer ons connections opgebou en ons trade staan weer sterk biene hie’ buite!”

Grecia sluk die laaste bietjie whiskey uit sy glas en kyk ernstig na sy grootbaas. “Wat gaan my lanie doen omtrent daai cop wat my lanie tronk toe gepos het?”

Terror kyk Grecia eers lank in stilte aan. Toe tuur hy verby die limo driver die verte in.

“Ek gaan vir kapt. Morgan Setera wys jy mors met nie met Terror Gambino nie.

“Ek gaan eers sy familie voor hom sat maak. Dan martel ek hom grusaam en stadig, totdat hy my smeek om hom die genadeslag toe te dien.

“Dan, terwyl hy my in die oë kyk, stuur ek ’n koeël deur sy voorkop.”

Grecia se lelike grynslag ontsier sy gesig. “Is ja! Dis soos ek my lanie mos ken … vattie k*k van kabouters nie.”

DIE volgende oggend sit kapt. Setera in sy posh huis in Proteahoogte, Brackenfell, en ontspan met ’n lekker koppie koffie.

Hy het laas jaar besluit om uit die polisie te bedank. Hy het hom 15 jaar afgesloof vir die Highflyers Unit wat hulle destyds gestig het.

Hy was nog een van die stigterslede en hulle het dit hul werk gemaak om die Kaap skoon te kry van die dwelms en onwettige sindikate.

Hy onthou die grootste saak waaraan hy destyds nog gewerk het, was toe hy die grootste motoronderdele-sindikaat hier oopgevlek het en die grootbaas, Terror Gambino, tronk toe gepos het. Dié boef se sindikaat het wyd gestrek.

Sy trawante het motors gesteel. Hulle het dit disassemble en die motoronderdele op die swartmark verkoop of uitgevoer na Namibië, Mosambiek en Botswana.

Die dag met Terror se vonnis het die skurk hom aangegluur.

“Ek gaan djou nog kry as ek die dag uitkom, djou platpoot!” het Terror hom toegesnou voordat hy in die gat af verdwyn het.

Voor sy geestesoog sien hy nog steeds daai skurk se wrede, yskoue blik – ’n blik wat ysige rillings by sy rug afgestuur het.

Hy het ná sy bedanking getrek uit Bishop Lavis – waar Terror se stronghold was – en dié netjiese huis hier in dié posh noordelike voorstad gekoop.

Hier is hy, sy pragtige vroutjie, Bianca, en 17-jarige dogter, Chrystal, veilig.

Dit is ’n stil woonbuurt en hier kan hy lekker sy lewe geniet sonder dat hy oor sy skouer hoef te kyk.

Sy oog val op die Son wat sy vrou vroeër van die winkel af gebring het. Hy tel die koerant van die koffietafel af op en wil net vlugtig daardeur blaai toe die pic op die voorblad sy oog vang.

Dit voel of die bloed in sy are stol en ’n yskoue rilling gaan langs sy ruggraat af.

Die foto beslaan byna die hele voorblad. Die man op daardie foto sal hy in enige crowd herken.

“Terror Gambino!” hyg hy.

“Veroordeelde sindikaatleier vry!” lees Setera die opskrif.

“So vry soos ’n voël moes dié dikding gevoel het toe hy deur die hekke van Pollsmoor na sy vryheid stap,” lees Morgan die intro van die berig.

“Die bekende en veroordeelde leier van die motoronderdelesindikaat, Terror Gambino, is gister ná tronkstraf van 12 jaar uit die gevangenis vrygelaat.

“Hy is verwelkom deur ’n groep mans en hy het in ’n grênd limousine daar weggery.

“Terror is ná deeglike ondersoekwerk van die top-cop kapt. Morgan Setera van die Highflyers Unit tjoekie toe gepos.

“Kapt. Setera het laas jaar besluit om die polisie vaarwel-”

Morgan snak na sy asem toe hy sy naam lees en die klein foto van hom langsaan sien. Hy smyt die koerant eenkant neer.

“Die blerrie joernaliste!” swets hy.

Was dit nou nodig dat hulle sý naam noem en sy pic plaas?

Daar kom sit opeens ’n beklemming op sy bors.

Hy besef dat daardie boef hom ná al die jare steeds nie sou vergeet het nie en natuurlik sal wil wraak neem.

Hy weet die onderwêreld het oral oë en ore en dat dit maklik is om hom op te spoor. Hy sal vandag dringend ’n plan moet maak vir sy familie se veiligheid.

DIE aand ná ete begin Setera, sy vrou en dogter vinnig die nodige klere inpak.

Nadat hy sy familie van die moontlike gevaar ingelig het, het hulle besluit om tydelik by Bianca se ma in die Paarl te gaan bly.

“Is julle gereed? Ons sal nóú moet vertrek!” jaag Setera sy vrou en dogter aan.

“En waarheen gaan djulle, as ek mag vra?!” klink ’n stem van die voordeur af op.

Almal se kop ruk daarheen. Setera se oë verstar in hul kasse.

“T-Terror Gambino!” stotter hy.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters