2 maande gelede
Ghost, Bapu soek wraak en stel ’n ‘trap’ vir Jeppo
 ~ 

 HAAI, Sonlanders! Jeppo die Laksman het ’n mis­sion om as laksman op te tree vir gemeenskappe wat gatvol is vir misdaad. Jeppo is dié keer warm op Ghost se spoor. Hy is Rudi Geduldt, kamma ’n suksesvolle sakeman in die Wes-Kaap. Ghost run ook die grootste hijacking-sindikaat in die provinsie. Jeppo teiken Ghost nadat hy ontdek die vuilgat hou jong meisies aan en verkoop hulle as seksslawe. Jeppo red vyf ontvoerde skoolmeisies uit Ghost se plek. Die skote klap en bloed spat later toe Jeppo ál Ghost se h*lborsels bokveld toe stuur. En Ghost weet wanneer die laksman op jou spoor is, is dit nag. Geniet nou hoofstuk 4 van die jongste verhaal uit die pen van SALMON SMITH, Op die Spoor van Ghost.

DIT is ’n baie moerige Kongolees wat hier oorkant Ghost sit.

Ghost kan aan Emmanuel Bapu se groot, breë kakebeen sien hy byt hard op sy tande om sy humeur te beteuel.

Hy wat Ghost is, moes vanoggend die vyf skoolmeisies aan Bapu oorhandig het. Daarna sou dié hulle na Mosambiek smokkel.

Maar toe kom beduiwel die Laksman alles. Ál 14 van sy manne is sat en die meisies is gered.

En toe het die blerrie gemors nog die fine cheek om sy huis met manne en al uit te brand.

’n Gegrom van Bapu ruk hom terug uit sy gedagtegang.

Hy besef hy moet nou iets sê om die groot Kongolees te please.

Sy mond gaan oop.

“M-My brother, I-I will fix this! I wil get you another …”

“Hey, my bradda! Don’t call me your bradda! Cause I’m not your bradda, my bradda!” ontplof Bapu.

Sy bloedrooi oë is yskoud.

“My contact in Mozambique already paid for those girls! You’d better do something to fix this!”

Ghost se gedagte is nou in die hoogste versnelling.

Hy het ál sy manne verloor oor daardie laksman.

En hy weet hy is next en daardie man sal hom jag totdat hy dood is.

Hy moet eers sorg dat die laksman dood is voordat hy weer sy sindikaat op die been kan bring.

Hy kyk na die groot Kongolees hier oorkant hom.

Hy kyk vol bewondering na die frisgeboude liggaam van die man.

Skielik tref ’n gedagte hom.

“Ons kan saamwerk en daardie laksman uit die weg ruim. Dis deur hom dat ons nou in hierdie penarie sit!” sê Ghost hoopvol.

Bapu kyk hom lank en intens aan.

Ghost besef hy het nou per ongeluk Afrikaans gepraat. Hy was nou so opgewonde, dit het sommer net uitgeglip.

Hy maak sy mond oop ...

“Wie is die ou nou eintlik?” spring Bapu hom skielik in gebroke Afrikaans voor.

Ghost se mond val oop van verbasing. “J-jy kan Afrikaans praat!

“Ja, wat verwag jy van iemand wat al meer as 20 jaar hier in Suid-Afrika bly?” kap Bapu terug en ’n ligte glimlag speel om sy breë mondhoeke.

Hy raak weer ernstig. “Vertel my bietjie meer van die … ’m … Laksman?”

Ghost se oë begin vonkel.

“Dit is ’n ou wat homself die taak opgelê het om jag te maak op misdadigers wat in die hof loskom. Hy het om een of ander rede glo ’n grudge teen die misdaadwêreld.

“Hy maak almal dood op wie se spoor hy is. En as hy jou spoor gevat het, kan jy jou maar klaarmaak, dit is nag vir jou.”

“Enige specialties omtrent hom?’ vra Bapu.

“Ek bedoel, is hy ’n expert in fighting of wapenhantering?”

Ghost skud sy kop. “Ek ken die ou nie eintlik nie.

“Maar ek het gehoor die ander bende-dikdinge praat met vrees oor hom.

“Daar word gesê hy het altyd ’n donker, lang jas aan en ’n stetson-hoed wat so laag oor sy oë getrek is. Niemand het al sy gesig gesien nie.

“En diegene wat dit wel gesien het, is vandag dood.

“Ek self het die Laksman-praatjies altyd afgemaak as ’n mite, totdat ek hom gisteraand daar by my huis gesien het.”

“Waar kom hy aan sy inligting oor misdadigers wat hy so jag en hulle hofsake?” vra Bapu skielik.

“Hy check glo daagliks die koerante of sosiale netwerke en pick dan sy slagoffers uit,” sê Ghost.

“Ek het dit!” roep Bapu opgewonde uit.

Ghost kyk hom onbegrypend aan. “H-Hoe nou?”

“Ons lok die Laksman na ’n sekere plek toe en speel dan daar klaar met hom,” verduidelik Bapu.

“Hoe gaan ons dit regkry?” vra Ghost skepties.

“Kykie, jou huis daar in Plattekloof is mos die enigste adres waar daardie laksman jou kom soek het, reg?”

Ghost knik, maar daar is nog twyfel op sy gesig.

“Oukei, hy’t nou jou huis uitgebrand. Hy besef natuurlik nou tot sy spyt hy het die enigste skakel met jou vernietig en dit gaan nou ’n gesukkel wees om jou op te spoor,” gaan Bapu voort.

“Hy weet nie van jou strandhuis in Hermanus nie. So, kom ons lok hom deur die koerante na dáárdie plek toe.”

Dit lyk asof die boodskap wat Bapu wil tuisbring, wil deurskemer by Ghost.

Maar daar is nog iets waaroor hy nie so lekker die kloutjie by die oor kan bring nie.

“Hoe gaan ons dit regkry?” vra hy.

“Kykie, daardie storie oor jou huis wat met jou manne en al uitgebrand het, gaan groot nuus wees,” verduidelik Bapu.

“Die koerante gaan jou nou lastig val. Jy spin natuurlik dieselle storie aan hulle wat jy aan die polisie gespin het.

“Sê dat jou werkers ’n paartie by jou huis gehou het, terwyl jy uitstedig was.

“En toe jy terugkom, het hulle in hulle dronkenskap per ongeluk die huis afgebrand.

“En nou voel jy so depressed dat jy maar vir ’n paar dae gaan wegbreek na jou strandhuis in Hermanus.”

Daar gaan skielik ’n lig vir Ghost op.

“Ek het dit!” gil hy. “Die Laksman lees die berig en kom soek my daar in Hermanus!”

“Ja, dan wag ons hom in en maak hom dood!” kap Bapu terug.

Ghost se gesig helder op.

“My brother, you’re a genius!” gil hy.

“Hey, my bradda, don’t call me your bradda!” joke Bapu. Sy gevreet trek grotesk terwyl hy sy moerse geel tande wys.

Twee dae later sit Jeppo in ’n pub iewers in Kaapstad en blaai lusteloos deur Son.

Hy is spyt hy het Ghost deur sy vingers laat glip.

Maar hy gaan hom soek totdat hy hom kry. Toe tref die berig op bladsy 3 sy oog …

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters