4 maande gelede
Gerrit boet oor hy die bendebaas se eise ignoreer
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die laksman is terug! Ons skop vandag af met ’n splinternuwe, aksiebelaaide verhaal van Jeppo die Laksman. SALMON SMITH noem hierdie verhaal Die Galgtoutjie. Geniet die eerste hoofstuk.

DIE koeldrankbottel vol petrol waaruit ’n brandende lappie by die tuit uitsteek, trek met ’n sierlike boog deur die lug.

Die teiken is die groot voorhuisvenster van ’n massiewe siersteenhuis.

Die momentum van die petrolbom laat die glas van die venster in duisende stukkies spat.

Binne-in die huis ontvlam dit in ’n vuurwerkvertoning van brandende petrol toe dit ’n granietstandbeeld tref.

Onmiddellik begin die vuurtonge gulsig alles in hulle pad verteer.

Gerrit Lukas en sy gesin spring al gillend op van die eetkamertafel, waar hulle nog besig is om hulle aandete te geniet.

“Hoy-jaaaa!”

“Hosh, djulle franse!” klink die gangster-krete van buite af op.

“Dis Don Festus se manne! Gou! Vlug by die patio-deur uit daar agter!” gil Gerrit op sy vrou en hulle tweelingdogtertjies.

Hy kies egter koers reguit na sy studeerkamer, waar sy kluis met sy vuurwapen is.

“Hosh! Dala ouense, dala!” gil die voorbok van die vier jongens die bevel uit.

Gerrit besef die skurke wil verhoed dat hy en sy gesin uit die brandende huis ontsnap.

Hulle wil seker maak dat hulle almal boet oor hy nie aan Don Festus se eise gehoor wil gee nie.

Dié bendebaas van die Wakka Boys gang hier in Bonteheuwel wil hê die besigheidseienaars moet protection aan hom betaal sodat sy gangsters hulle met rus moet laat. Watter stront is dit?!

Hy is een van die min sakemanne wat volstrek weier om gehoor te gee aan ’n gewetenlose gangster.

Met bewerige hande sukkel hy met die pinkode op die keypad van die kluis.

Hy hoor hoe die skurke sy jaart al skietende binnestorm.

Toe twee kortaf tjankgeluide opklink, besef hy dat die gemorste nou sy twee waghonde doodgeskiet het.

Hy besef sy vrou en kinders gaan nou reg in die skurke se hande hardloop.

“Linda, kom julle terug in die huis! Gou!” gil hy na agter. Hy besef hy is te laat toe die angsgille van sy vrou en kinders opklink.

’n Kermgeluid ontsnap uit sy keel en hy pluk vinnig sy kluis oop. Hy gryp sy vuurwapen en hardloop na agter.

Vrees gemeng met hartseer en woede laat hom egter roekeloos by die patio-deur uitstorm.

Die laaste ding wat hy sien, is die bebloede liggame van sy geliefdes voordat ’n koeël uit een van die skollies se vuurwapens deur sy kop ontplof.

“TAXIBAAS en sy gesin doodgeskiet.”

“Nog ’n sakeman se huis gepetrolbom,” basuin die koerantopskrifte dit daai Maandagoggend vroeg op die lamppale uit.

“Die eienaar van ’n taxibesigheid en sy gesin is Saterdagaand wreed in hulle huis in Bonteheuwel doodgeskiet,” begin die berig in Son.

“Gerrit Lukas se huis in Bluegumstraat is eers met ’n petrolbom bestook, waarna hy, sy vrou en hulle tienjarige tweelingdogters agter by hulle brandende huis wou uitvlug.

“Hulle is egter in hulle spore deur die aanvallers doodgeskiet.

“Dit lyk asof die aanval op die gesin verband hou met die vlaag aanvalle op besigheidseienaars die laaste tyd in Bonteheuwel.

“Die polisie se mediawoordvoerder, kaptein FL van Dyk, noem dat hulle op die oomblik niks wil bespiegel nie.

“Dit wil egter voorkom asof die aanval bendeverwant is.

“Hy noem verder die polisie is hard besig om leidrade op te volg.

“Niemand is tot dusver in verband met die voorvalle in hegtenis geneem nie.”

Die volgende aand is die Thu­song-sentrum in Bonteheuwel tjok-en-blok vol moerige inwoners wat antwoorde soek oor die vlaag geweld wat hulle gemeenskap gevange hou.

Voor op die verhoog sit die raadslid van Bonteheuwel, Agnes McKrieling, die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Daniël Renoster, en hoër offisiere van Bishop Lavis se polisiekluster.

“Vir hoe lank moet ôs nog deur die bendes gevange gehou word in ôse eie huise, ha?

“Ôs kinnes kannie ee’s meer buite innie strate speelie!” gil ’n antie in die voorste gestoeltes.

“Ja, ôs het djulle weer aan bewind gevote om te kyk na ôs! “Maar djulle doen niks!” gooi ’n papbek-omie ook ’n stuiwer in die armbeurs en wys na raadslid McKrieling.

Agnes McKrieling hou haar hande in die lug op om die gemoedere te kalmeer.

“Kan ons asseblief tog net op ’n ordentlike manier ’n oplossing vind vir die probleme hier in Bonteheuwel?

“Ons is bewus van die geweld hier wat handuit ruk en ek verseker julle ons gaan geen steen onaangeraak laat …”

“Stop die lorrie net daar!” onderbreek ’n ongeduldige stem haar uit die linkervleuel die raadslid.

Almal se koppe swaai in daardie rigting.

’n Man in ’n netjiese pak klere staan op.

Hy kyk na die hooggeplaastes daar voor op die verhoog.

“My naam is Pieter Maritz en ek is die eienaar van Maritz Express Shop hier in Jakkalsvlei Avenue.

“Die storie van ‘geen steen onaangeraak’ is al holrug gery. Dis ’n rympie wat elke keer voor ons koppe gegooi word,” spoeg hy dit uit.

“Maar daar word niks gedoen aan die geweld hier in ons gemeenskappe nie.

“Ek sê sommer nou vir julle wie verantwoordelik is vir die hernude geweld hier in Bonteheuwel.

“Dit is Don Festus, die leier van die Wakka Boys! Hy dreig al van die begin van die jaar af die besigheidsmense hier om aan hom protec­tion money te betaal.

“Dis hy wat klein laities stuur om business owners af te haal as hulle nie wil betaal nie.

“Hy’t my ook al gedreig, maar sy moer!”

Hy wys na die grootkoppe van die polisie daar voor.

“Julle weet mos van Festus se dinge, maar julle doen niks daaraan nie!”

Agter in die saal in ’n donker hoekie sit iemand in ’n lang donker jas en ’n swart Stetson-hoed laag oor die voorkop getrek.

Dis niemand anders nie as Jeppo die Laksman. Sy oë is op die vier jong latte wat die saal verlaat.

Hy weet hulle is lede van die Wakka Boys-bende en hulle gaan nou aan Don Festus verslag doen oor die vergadering.

Hy kyk terug na Pieter Maritz en besef dat dié man nou sopas sy eie graf gegrawe het.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters