Verlede maand
Gerald weet wat vrind Fanie op ’n ysige nag skort
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Dit lyk of Fanie omtrent op ’n missie is om sy lewe weg te drink. Sy buurvrou, antie Merty, probeer sense in sy kop praat, maar hy wil niks hoor nie. Fanie kan nie sien dat hy besig is om sy lewe met drank te verwoes nie. Een só ’n aand gaan Fanie lekker getjwalla na sy job as sekuriteitswag by ’n skool. Geniet nou hoofstuk 2 van ELDRIDGE JASON se kortverhaal Gif.

OM ’N skool snags op te pas, sit nie in almal se broek of rok nie, dink Fanie vies.

Hy sit eenkant in ’n hoekie op ’n skoolbankie en bibber van die ysige aandlug.

Hy wat Fanie is, kan sy baas, Coenie Lombard, nie verstaan nie. Hy en die ander securities het Coenie al hoeveel keer gesoebat om by die verskillende persele bungalows op te sit sodat hulle darem teen die wind en weer beskut kan wees. Coenie hou egter dik sulke bungalows sal hulle net lui maak.

Fanie snork hard. Daai blerrie Coenie lê met sy vet gat en sewe dubbelkenne nou lekker onder sy groot duvet terwyl hy wat Fanie is, hier buite van die koue vrek.

’n Bottel Old Brown-sjerrie sou nou net die truuk gedoen het, maar payday is mos nog ’n hele paar slape weg.

Hy sal maar later wanneer sy skof klaar is by antie Merty iets moet gaan leen.

Daai ou tannie gaan seker eers weer ’n preek wil afsteek, maar as hy wat Fanie is sy lewer wil bederf, sal hy maar na antie Merty se halleluja-krete moet luister.

Fanie sit meteens regop en spits sy ore. Het hy hom verbeel hy hoor ’n geluid? Hy luister fyn, maar skud ná ’n paar oomblikke sy kop.

Al wat hy in die verte hoor, is die geblêr van die jukebox by Ivor se jaart. Hy klik sy tong vies.

Vandat hy nie laas maand se drankskuld kon betaal nie, is hy nie meer daar welkom nie.

“Lus virre dop?”

“Oe, jou masse!”

Fanie wip van die skrik toe hy ’n stem agter hom hoor. Hy voel dadelik ’n souserigheidjie aan die gatkant van sy broek.

Die ou oorkant hom bars uit van die lag. “Jy is ook maar lekker bang, nè? Het jy gesien hoe hoog vlieg jy die lug in?”

Fanie vervies hom toe hy die man voor hom herken.

Gerald, hulle dorp se resident-wynvlieg. Gerald, wat gewoonlik wanneer hy ’n dop in het, nêrens kan loop sonder om aan ’n paal vas te hou nie.

Baie mense wonder altyd hoe Gerald by die huis uitkom wanneer hy so gesuip is.

Sulke tye gee hy een tree vorentoe en drie agteruit.

“Gerald, hou jy vir jou djas?!” skel Fanie. “Jy kan mos ’n man ’n hartaanval of ’n ding gee.”

Gerald grinnik. “Het jy dan ’n hart? En besides, moenie vir my kwaad wees nie. Ek het vroeër gevoel hoe die koue hier buite byt en toe dink ek: Wag, laat ek my dop met ou Fanie loop share.”

Fanie merk vir die eerste keer die kannetjie OBS wat Gerald onder sy arm vashou asof dit die kosbaarste edel­gesteente in die universe is.

Sy kwaadgeid vir Gerald is skielik soos die skietstilstand wat tussen die mis en die son bereik is.

“Jislaik, jy is mos die antwoord op al my gebede,” prewel Fanie en vryf sy hande ingenome teen mekaar.

“Maar moenie net daar staan nie,” sê hy. “Sê tog net jy het ’n glas ook saamgebring?”

“Hoe ken jy my dan?” vra Gerald laggend. Hy knoop die eerste knope van sy jacket los en grawe aan die binnekant. Oomblikke later hou hy triomfantelik ’n oop gesnyde Coke-blikkie omhoog.

“Nei, Gerald, you’re the man,” sê Fanie beïndruk. “Ek skuld jou big time, brudder.”

Gerald het nie ’n kind of selfs ’n mak kraai nie. Nie eens ’n stokperdjie wat van hout gemaak is nie.

Nes Fanie deel hy ’n onblusbare passie vir drank. Van al die gedrink het hy een jaar na hulle plaaslike kliniek gegaan. Toe sê die nurse hy moet die drank los.

Toe drink Gerald ’n hele ruk lank sy dop met ’n straw.

Gerald skink met bewende hande – en beslis nie van die bibberende koue nie – vir Fanie ’n dop. Dié vat die halwe Coke-blikkie dankbaar, maar stort ’n paar OB-druppels op die grond.

“ ’n Mens mors nie met drank nie,” sê Gerald afkeurend. “Daar is mense in hierdie wêreld wat nie vanaand drank het nie.”

Fanie grinnik en down sy dop. Hy klik sy tong behaaglik en vee dan sy mond met die agterkant van sy hand af.

Dan nooi hy vir Gerald om langs hom te kom sit.

Gerald skink vir homself ’n dop en slaan dit ook met een teug weg.

“ ’n Mens kan sien jy het ook f*kk*l respek vir die drank nie,” grap Fanie en loer uitgevreet na Gerald se kannetjie OBS.

“Waar kry jy ewe hierdie tyd van die week geld vir dop?” vra hy nuuskierig. “Het jy dan die Lotto gewen?”

Gerald skuld sy kop. “Ek glo mos nie in daai stront nie,” sê hy heftig. “Op hierdie aarde sal net die rykes ryker word. Nee wat, ek het ’n nuwe goudmyn ontdek.”

“Vertel,” moedig Fanie sy drinkebroer aan. “Moenie so stingy wees met info nie.”

Gerald lag en skink weer vir Fanie ’n dop. Dié keer drink Fanie stadiger. Sy skof is immers nog ’n leeftyd lank.

“Relax,” paai Gerald hom. “Haastige hond skop sy dop om.”

Die twee drink ’n ruk lank hulle drankies in stilte.

Hulle luister albei na die nag­geluide.

Albei is vasgevang in gedagtes wat niks met rocket science te doen het nie.

Dan draai Gerald na Fanie. “Ek gaan my geheim met jou deel,” sê hy en hik. “Maar jy moet my promise hierdie bly net ons twee se geheim. Oukei?”

Fanie knik plegtig. Soos die dag toe hy die heel eerste keer in sy lewe in die kerk was en die dominee gepreek het van daai keer toe die Here water in wyn verander het. Daai dag het hy die innerlik gewens dáái resep was op Google beskikbaar.

“Ek is serious, Fanie,” maan Gerald. Daar is ’n ernstige trek op sy gesig. “Jou lippe is baie pap wanneer jy gesuip raak en ek kan nie bekostig dat ander hiervan uitvind nie.”

“Oukei, oukei,” sê Fanie vererg. “Ek het mos klaar belowe ek sal vir niemand sê nie.”

Gerald hou nog OBS na Fanie uit. “As jy maak soos wat ek sê, is al jou drank-worries een van die dae iets van die verlede.

“En dan hoef jy nie weer hierdie lame werk te doen nie. ‘Rait, listen carefully …”

Gerald swaai sy kop van kant tot kant. Nie soos een wat die fits kry nie, maar soos ’n voormalige president wat sub A deur die venster gekyk het.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters