12 dae gelede
Frieda onthul sy roam­ nie met toe oë in Covid-strate
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Nee kyk, hierdie tyd van lockdown is ’n anderse tyd van swaarkry en sukkel om jou geliefkoosde sondetjies in die hande te kry. ELDRIDGE JASON se “Die Girls van Lockdown Avenue­” probeer juis vertel van hierdie se geswaarkry. Geniet die tweede hoofstuk.

DIT lyk asof Jenny van der Block enige tyd flou gaan omkap.

Haar oë is vasgenael op die stukkie van die entjie wat nog onder my voet uitsteek.

“Jy ... jy ... is wreed,” prewel sy. “Ek kan nie glo jy het dit gedoen nie.”

“Wat gedoen nie?” vra ek en hou my nog steeds dom.

Ek gaan beslis nie dinge makliker maak vir haar nie. Ek weier!

“Ek staan hier, diep lus vir rook, en jy verniel daai entjie net so?”

Ek trek my skouers op.

“Sharing is mos nie meer caring nie. Dis nou die season van corona.

“Het jy dan nie gehoor daai antie sê ons mag nie meer saliva deel nie?”

Jenny skud haar kop in ongeloof. Ek het duidelik haar bubble laat bars en haar geloof in die Tandemuis en Kersvader onherroeplike skade aangerig.

Sy maak haar mond oop om iets te sê, maar dan swaai die voorhekkie weer met ’n kraakgeluid oop.

Ons albei gaap met verbasing die meisie aan wat met ’n vaart na ons aangestap kom.

“Whoa, whoa!” probeer ek walgooi. “In die naam van social distancing, staan net daar waar jy is!”

Die meisie vries in haar spore. Sy kom met so ’n spoed tot stilstand dat die pikswart doekie op haar kop glad skeef gaan sit.

Frieda. Frieda Cadbury. Maar moenie ’n fout maak nie. Daar is niks soets aan haar soos dit die geval is met ’n Cadbury-tjoklit nie.

Frieda is Roamer-straat se resident-tikkop. Hier roam sy rond en werk op al wat siel is se nerves.

So, waar Frieda is, is daar gewoonlik ’n paar potte stront aan die prut.

Frieda is die antoniem van aangenaam. Die noem van haar naam alleenlik maak mense onaangenaam.

Toe ek nog voor lockdown laas in die kerk was, het dominee Schutte almal wakker geskud met sy preek wat net oor Frieda gegaan het.

“Die Here gee, maar soms wil die Here ook nie terugneem nie,” het dominee Schutte daai dag geskimp-preek.

Almal van ons wat daai dag daar was, het geweet dominee Schutte praat van Frieda.

Hy het nou wel nie haar naam genoem nie, maar so heilig soos baie hulle gehou het, het baie gewens liewe Jesus kom self om vir Frieda daai “Weer ontmoet”- koortjie te sing.

Niemand was gepla oor wat Simon Cowell dalk oor liewe Jesus se sangtalent te sê sou hê nie. Ons wou net hê Hy moes vir Frieda kom sing.

Want sien, al die mense hier in Roamer-straat het geweet Frieda het ornamente vir ore.

Haar lang vingers het nie ingeboude brieke nie en selfs haar eie skaduwee sal haar met agterdog bejeën.

So, toe Frieda daar uitsteek, het selfs Jenny van der Block van haar intense rooklus vergeet.

Frieda het die vermoë gehad om jou van jou eie sondes te laat vergeet.

Daarvoor moes ’n mens in haar teenwoordigheid veels te veel op jou hoede wees as om nog oor ’n dal van doodskaduwee te worry.

As jy nie ’n hoed gehad het nie, was dit just too bad. Dan was jy Frieda s’n for the taking.

“En as julle so lekker staan en gesels sonder julle masks op?” vra Frieda.

Haar sluwe oë spring tussen my en Jenny asof ons op Wimbledon speel. ’n Slang op die uitkyk vir ’n nuwe victim.

Haar gif soek ’n nuwe host.

Daar en dan besef ek Frieda is nie net enige slang nie. Sy is daai gifappel wat die hele tuin van Eden ’n lewenslange Day Zero gegee het.

“Jy kan nie net kom in-chime nie,” hap Jenny geïrriteerd terug.

Frieda was saam met ons op skool en van skooldae af kon dié twee vroue nie vattigheid aan mekaar kry nie.

Van gr. 1 af het hulle gehap na mekaar tot in gr. 8, toe Frieda besluit het die skool kan haar niks meer leer nie.

“Is dit nodig om so nasty te wees?” spoeg Frieda terug. Letterlik en figuurlik.

Ek het daai druppeltjies wat genadiglik nie ver van haar af geval het nie, so staan en kyk en gewonder of ek nie maar gou my masker moet gaan opsit nie.

Die way hoe ek dinge sien, is dat Frieda en Covid-19 op daardie oomblik bloedverwant is.

Selfs Jenny van der Block, so lig in verstand wat sy was, het dit besef en stadig agteruit beweeg.

Frieda skud haar kop en grawe in die sakke van die hoodie top waarin sy permy boer.

Toe haal sy die mooiste Stuyvesant uit wat ek al in my lewe gesien het en light dit.

Met welbehae en ’n passie wat nie eens in Mel Gibson se Passion of the Christ te sien was nie, blaas sy die rook die lug in.

Ek draai na Jenny en sien hoe daar ewe skielik ’n lig aan haar oë aangaan. Ewe skielik lyk dit asof daar finally mense tuis is.

“Hoe gaan dit met jou, Frieda?” vra Jenny vriendelik.

Daar is so ’n Moeder Teresa- glimlag op haar gesig.

Die smile word weliswaar met Pritt op Jenny se gesig gehou, maar dis daar. Vir my en Frieda om te sien.

Frieda ignore Jenny se vriendelikheid soos ’n stopstraat in Philippi en kyk my stip in die oë.

“Waar kry jy jou gwhais?” vra sy my reguit.

Haar vraag vang my nogal effe onkant.

Ek mean maar – a gentleman mos doesn’t kiss and tell.

Jenny draai skuins na my.

Ewe skielik voel ek dan toe nou soos ’n Henri met ’n byl in die hand.

’n Byl wat beslis nie myne was nie, cos why ek bly mos nie in ’n posh area nie.

“Ek weet jy het ’n lekker job wat jou baie pitte betaal,” gaan Frieda voort.

“Maar so baie entjies kan een mens mos nie hê nie.

“Elke keer as ek verbyloop, sit jy met ’n nuwe pakkie op die stoep en rook.

“En ek het netnou gesien hoe trap jy daai skyf voor Jenny moer toe.

“Jou van mag dalk Geldenhuys wees, maar ek dink nie jy het soveel geld dat jy so windgat kan rook nie.

“So, ek vra weer: Waar kry jy al daai entjies wat jy so rook?”

Ek staan heeltemal verstom daar.

Deels omdat ek nie eens bewus was dat Frieda my so elke dag dopgehou het nie en deels omdat ek nooit kon dink dat gr. 8 so ’n Jessica Fletcher van Frieda kon maak nie.

Jenny draai haar sommer nou heeltemal om na my toe en bekyk my so beskuldigend soos judge Judy aan.

“Oukei, oukei,” antwoord ek en gooi my hande in die lug.

“Maar julle girls moenie dink dat enigiets in die lewe verniet kom nie.

“Ek het my prys.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters