Verlede maand
Frankie se raad laat beland oom Basil innie sop
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Oom Basil Talmakkies word finansieel gekasty deur sy vrou en kinders. Soveel so dat die oom net-net kop bo water kan hou wat sy geldsake betref. Die lewe in die stad is duur, maar dit lyk nie asof sy vrou en kinders dit besef nie. Dan gee sy kollega Frankie die oom raad en stel voor hy moet net so spandabel soos sy gesin begin leef. Oom Basil besluit om dié raad te volg en daag een aand ná werk in ’n perperduur ryding by die huis op. Geniet nou die voorlaaste hoofstuk van ELDRIDGE JASON se Die High-flyers.

’N PARTYJIEDIER.

Die woordeboek wil ons laat glo partyanimals is mense wat daarvan hou om te socialise en hulle lyf ’n gawe tyd te gee.

Die dictionary sit egter die pot liederlik mis, want die definisie van ’n partytjiedier bestaan slegs uit twee woorde: Oom Basil.

Mense, antie Naomi sukkel tot vandag toe nog om te verstaan wat oor oom Basil se lewer geloop het die dag toe hy met die bloedrooi Range Rover by die huis opgedaag het.

Daardie selfde aand is oom Basil en sy kollega Frankie uit jol toe.

En eers knap voor 06:00 die volgende oggend het oom Basil heel onstabiel op die voete by die huis opgedaag.

Vir die eerste keer in hulle huwelik was antie Naomi die een sonder woorde.

Hulle kinders, Leandra en Lee-Shandra, was soos twee tjoepstil muisies wat deur die tandemuis in ’n donker stegie gerob is. Hulle pa het ’n gedaanteverwisseling ondergaan wat die twee nie verstaan het nie.

Oom Basil het onder die geskel van sy vrou aan die tiep geraak en natuurlik nie daardie oggend gaan werk nie. Ook nie die daaropvolgende dag nie. Toe die oom die derde dag by sy werk opdaag, het hy sommer straight in ’n dissiplinêre verhoor ingestap.

En later daardie oggend uitgestap met sy kosblik nog vol brood. Jam en brood wat antie Naomi met sulke kwaai hale op sy brood geplak het.

Oom Basil het gebewe toe hy by sy huis in Soneike optrek.

Nie net oor die babelas wat hom steeds gekasty het nie, maar oor die vrees oor hoe hy nou vir sy gesin sou sorg.

Frankie het die oom diep teleurgestel en nie in sy dissiplinêre verhoor kom getuig soos wat oom Basil hom mooi gevra het om te doen nie.

Antie Naomi het vanuit die kombuisvenster gesien toe haar man in hulle oprit optrek – en hoe lank hy agter die stuurwiel gesit het.

Antie Naomi mag dalk spandabelrig van nature wees, maar sy het dadelik besef hulle fonteintjie is aan die opdroog.

Die laaste keer toe sy haar man so depressief gesien het, was ná ’n gesprek met haar pa toe hy die oom om sy dogter se hand gaan vra het.

En antie Naomi het besef hulle sprokieslewe in die stad lê nou op life support ...

’N WEEK ná sy afdanking is oom Basil soos ’n beer met ’n seer tand in die huis.

Hy is gefrustreerd, anderkant moedeloos en sy hol is aan die knyp, want dit is amper die einde van die maand en skuldbetaaltyd.

Vir ’n week speel oom Basil Lotto asof dit uit die mode uit sal raak.

Dis Lotto, Daily Lotto, Powerball, you name it. Nie een keer het die oom die groot jackpot geslaan nie. Selfs ’n draai by GrandWest het hom niks behalwe ’n gat in die sak gebring nie.

En hoe meer die maandeinde met groot oë vir oom Basil begin loer, hoe meer voel hy hoe sy finansiële einde ook al hoe nader kom.

Vir die eerste keer in hulle huwelik moes hy antie Naomi vat om by Shoprite te gaan shopping.

Antie Naomi is so skaam dat sy haar kop met ’n serp bedek en ’n groot sonbril opsit. Amper soos iemand wat in die geheim met pink eye worstel.

Oom Basil is nie meer in haar goeie boekies nie. In fact, hy is nie eens meer in hulle slaapkamer nie en slaap al ’n week op die couch in die sitkamer.

Die kinders hou hulle ook nou baie skaars en bring nie eens meer tyd met die bure se dogters, Tara en Lara, deur nie.

Leandra en Lee-Shandra is natuurlik veels te bang die Kardoessin-susters twiet oor hulle skielike armoede.

Almal is die hel in vir oom Basil en terwyl die oom buite Shoprite op sy vrou wag, verwens hy homself stilweg dat hy ’n skobbejak soos Frankie se raad gevolg het.

Sy spaargeldjie is besig om sy laaste asempie uit te blaas, sy skuldeisers begin in sy nek te blaas en van antie Naomi se kant af kan hy maar net droom van ’n blaaskans ...

Life is nie meer vir die oom ’n sorgelose journey op pad na salige, ewige rus nie.

Sy dae is rusteloos. Sy aande is rusteloos. Sy drange is goddeloos.

Terwyl die oom nog so buite staan en suig aan ’n verfrommelde losse entjie wat in sy baadjiesak was, nader een van die car guards hom.

“Wat lyk die timer dan so erg depressed?” vra die uittand-man vir oom Basil.

Oom Basil wou hom eers kaf vertel, maar toe besef hy dat hy sy hart leeg moet maak. ’n Sielkundige kan hy immers nie afford nie.

Toe begin die oom sy hartseerverhaal aan die car guard vertel.

Die trane stroom oor sy wange en hier en daar snik oom Basil skaamteloos.

Die car guard trippel ongemaklik rond.

“Ek was eintlik net vriendelik oor ek ’n entjie wou loaf,” sê hy eerlik toe oom Basil ’n break vat om eers sy neus te snuit.

Toe oom Basil weer opkyk, is die car guard skoonveld. Die Pink Ladies soek nou nog na hom.

Oom Basil skud mismoedig sy kop, vou sy kwaai besnotte sakdoek stadig op en sit dit terug in sy baadjiesak.

“Askiestog ... askiestog?” klink ’n stem hier vlak agter die oom op.

Oom Basil draai traag om, diep aan die bid dat dit nie weer iemand is wat iets by hom wil kom loaf nie.

Voor hom staan ’n jong meisie, vriendelik, met ’n glimlag wat in haar oë weerkaats. Amper soos wat die mense aan die Weskus met totale opregtheid kan smile.

“Ek is baie jammig, maag ek’t oem se stogie gehoog,” sê die meisie met ’n bry wat skrik vir niks.

“Jy is van die Weskus, dis ’n Weskus-bry daai,” sê oom Basil verwonderd.

Die meisie knik glimlaggend.

“Oem is soe reg soese pot sop oppe geënegigge dag,” sê sy.

“En omdat ek oem soe djammig kgy, het ek ’n plan wat ál oem se woggies gaan laat vigdwyn.”

Oom Basil staar die meisie skepties aan. Hy het dan al klaar sy vingers met Frankie se raad verbrand.

Wat hy nou in sy lewe nodig het, is ’n ware miracle, nie nog iemand wie se raad hom net in dieper moeilikheid gaan laat beland nie.

Maar die meisie lyk dan so opreg, so soos iemand wat ’n regte plan kan hê.

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters