Verlede maand
Floors sien aan syneef se blink oëiets groots kom
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Bewaker van Donkerhoek is GWENDOLINE KORDOM se jongste pennevrug. Geniet vandag hoofstuk 1.

’N GEKLOP aan sy voordeur laat Floors hardop swets.

Hy stel die televisie se klank sagter en lig sy lang lyf uit die rusbank.

Tien oor tien, sien hy op die horlosie teen die muur. Wie is so ontydig?

Hy pluk die deur oop. ’n Hewige frons rus tussen sy wenkbroue toe hy sy besoeker eien.

Danie Basson staan met ’n breë glimlag op sy voorstoep.

“Ou neef, wat talm jy so lank om die deur oop te maak?

“Dis nie asof hier juis misdaad in Harspan is nie. Behalwe nou natuurlik die spoke wat snags hier ronddwaal.”

Danie skud van die lag terwyl Floors met ’n uitdrukkinglose gesig na hom staar.

Hy en Danie is neefs. Danie is ook ’n drywer by die plaaslike munisipaliteit in die distrik.

Daarby is hy ’n gladdebek en ’n joller. Sy ontrouheid aan sy vrou is onrusbarend.

Hy wonder met watter slenter hy nou weer hier aankom.

“Wat soek jy dié tyd van die dag op my drumpel?” vra Floors bars.

Danie druk hom aan die skouer na binne.

Toe kyk hy vinnig na links en toe regs voordat hy instap en die voordeur toestoot.

“Ons moet praat, Floors.”

Hy neem ongenooid plaas op die bruin bank in die klein vertrek.

Aan die blink van Danie se oë weet Floors instinktief hier is ’n groot ding aan die kom.

“Ek het ’n kraak geslaan,” sê Danie kortasem. Hy beduie Floors moet sit.

“Die mure het ore, weet jy.” Floors gaan sit gedwee langs hom.

“Loukie, van Jaars en Fiela, was vroeër by my. Die seun was onseker met wie hy moet praat oor sy geheim.

“Toe deel hy dit met my. Nou sit en wonder jy seker hoekom ek, ou Floors. Want Loukie, in sy domheid, weet ek is ’n ou met konneksies.”

Danie druk sy gesig byna teen Floors se voorkop.

“Hy het loop grawe op ’n plek wat jare toestaan. Daar sien hy toe ’n klippie in die grond blink.

“Van skrik spring hy toe op en nael huis toe.”

Hy leun terug en wag dat sy woorde by Floors insink. Maar Floors se gesig verklap geen emosie nie.

“Jislaik, Floors, hoor jy dan nie wat ek sê nie, ou neef?”

“Ek hoor jou, Danie. Ek verstaan net nie by watter deel ek inpas nie.

“Hoekom deel jy die geheim met my? Loukie moet daar wegbly as hy weet wat goed vir hom is. Daar is net een plek.”

“Stop net daar, Floors, en luister klaar. Donkerhoek staan nou al jare onaangeraak nadat dit toegemaak is.

“Niemand bodder om daar in te gaan nie. Loukie het uit nuuskierigheid oor die heining geklim.

“Jy weet mos die outjie se verstand is nie aldag lekker nie. Noem dit kinderlike nuuskierigheid.

“Maar, glo my, dit was die beste besluit wat hy al ooit in sy lewe geneem het. Ek en jy kan net baat vind daarby.

“Jy is die kenner van die veld. Loukie is skrikkerig om alleen in die nag daar op te gaan.

“Toe sit en dink ek Floors is die regte man vir die job. ’n Man wat sy trap ken. Jy hoor meters ver ’n ding aankom. Boonop skrik jy nie vir diere nie.

“Hoekom vra ek nie net vir jou om te help nie. Ek ken baie ouens in die Port en sal lag-lag die diamante van die hand sit.”

“Vergeet dit. Kry vir jou iemand anders, Danie. Donkerhoek is ’n ou myngebied wat vir ’n rede gesluit is.

“Ná weke van delf het die grond niks opgelewer nie.

“Wat soek Loukie in die eerste plek daar? Daar gaan niks aan nie. Boonop dwaal die –”

“Magtig, Floors. Steur jy jou wragtig aan spookstories? Jy wat as kind by die einste Donkerhoek verdwaal het.

“Dieselfde ding het nou met Loukie gebeur. Al verskil is, die outjie het die jackpot geslaan. Anders as jy, wat met blinde oë jare terug daar was.

“Dink aan die geld wat ons gaan kry. Jy kan vir jou ’n motorkar aanskaf. Vir die eerste keer in jou lewe sal jy weet hoe dit voel om regte geld in jou hand vas te hou.”

Danie se neus druk nou teen sy voorkop.

“Ek het jou nie net kom inlig nie. Ek het jou inderwaarheid kom haal. Die gereedskap lê in die bakkie.”

Floors staar na sy neef met die breë voorkop. Danie lyk doodernstig. Wat as daar waarheid steek in wat hy vertel?

Kan hy so ’n kans laat verbygaan?

Hy kan doen met die ekstra geldjie. Nee, sommer met baie. Hy hoop net hy berou nooit sy besluit nie. Op die ou end gee hy toe.

“Nou goed, ek sal julle help – op een voorwaarde. Ons deel die opbrengs gelykop.”

Vir ’n sekonde flikker Danie se na-aan-mekaar-ogies heen en weer voor hy breed glimlag.

“Natuurlik, Floors, hoe ken jy my?”

Dis juis die ding. Hy ken Danie so goed soos wat ’n mens jou eie familie ken. Seep is nie verniet sy bynaam nie.

Hy wil nie met Danie geassosieer word nie, maar vir geld sal hy die duiwel soen.

“Wat daarvan as ek voorheen mense ingeloop het?” sê Danie asof hy Floors se gedagtes lees.

“Dit was in die verlede en jy is eie. Ek het ’n splinternuwe blaadjie omgeslaan. Jy moet my glo,” eindig hy kamma verstom.

“Ek glo jou, Danie.”

As Danie hom durf bedrieg, sal hy bloedvyandskap pleeg as dit moet.

Vir ’n oomblik dink hy Danie gaan hom om die nek vat. Maar hy leun stadig agteroor en vryf sy hande ingenome saam.

“Jy gaan nie spyt wees nie, ou neef. Ons moet wikkel.

“Kry vir jou ’n dikker baadjie. Die veld raak koud in die nag. Jy behoort te weet.”

Terwyl hy na sy kamer stap, wonder hy of Loukie verkeerd is.

Hy onthou jare terug het oom Sampie Nero ook met dieselfde storie hier aangekom.

Een, twee, drie was elke man daar bo met ’n graaf en sif.

Ná dae van grawe het hulle met leë hande huiswaarts gekeer. Daar was nie ’n teken van ’n diamant in sig nie.

Ken Loukie ooit die verskil tussen ’n blink klip en ’n diamant?

Namakwaland se grond is ryk aan minerale, maar daar moet ’n rede wees hoekom ’n mens nie sommer op een afkom nie.

Dis ’n onuitgesproke reël. ’n Geheim wat die diep buik van die aarde bewaar.

Sy oorlede oupa Piet het geglo geluk het alles daarmee te doen. As jy iewers ’n kraak slaan, moet jy nie deel nie.

Ook nie op Liewe Jesus se dag daar loop rondkrap nie.

Binne minute is Floors aangetrek. Sy skoensole knars hard op die sementpaadjie toe hy Danie na die bakkie volg.

’’n Skraal wind roer die fyn blare van die peperboom in sy voorerf.

’n Rilling trek onverwags deur sy lang lyf.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters