29 dae gelede
Floors se koppie is koorsig oor Danie en die diamante
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Floors sien ’n vrou in swart geklee terwyl hy, Danie en Loukie diamante op Donkerhoek soek. ’n Donderstorm dwing hulle om te vlug. Hulle dink hulle het ongemerk weggekom, maar Floors moet nou bontstaan vir Jorsie se vrae. Geniet hoofstuk 4 van Bewaker van Donkerhoek deur GWENDOLINE KORDOM.

‘ONS het iemand by Dassie se Kop ontmoet. Ek het nie uitgeklim nie.

“Weet nie wie dit was of hoekom Danie die persoon daar ontmoet het nie. Hy het net ’n maat gesoek vir die saamry.”

“Dit is niemandsland aan daai kant, ou maat. Jy behoort dit te weet.

“Onthou jy dan nie wat met Sampie se klong gebeur het nie? Arme Sampie probeer nou nog sy dood verwerk.

“Daar was nie eens ’n lyk om klein Max te begrawe nie.”

Floors ken die storie. En, ja, hy voel jammer vir Sampie, maar watter nugter denkende mens vat ’n vierjarige kind veld toe?

Hy kan Jorsie nie oor gisteraand inlig nie. Wat hy weet, mag hy met niemand deel nie, veral nie met Jorsie nie.

“Floors, jy is ook ’n regte hardekwas.

“Wat as ons jou ook nooit weer sou sien nie? Die wêreld is onveilig daarlangs.

“Danie is weer besig met sy skelmstreke. Dit kan ek jou sê.

“Sy vrou vertel aan Sampie hy is douvoordag weg. Met ’n groot tas. Moes blykbaar stad toe.

“Die vrou is in trane. Dit lyk asof Danie haar gelos het.”

Floors kantel amper van die stoel af.

“En as jy nou so bleek om die kiewe is, ou Floors?”

Dit kan nie waar wees nie. Danie het hom sowaar ’n kop aangesit.

Hy wat Floors is, bly ’n mislukking. Die hopelose een. Danie het van hom ’n poephol gemaak. Gek wat hy is.

Sy gesig verhard. Danie sal boet. Daarvoor sal hy sorg.

Hy sal hom aan die kaak stel. Hom aan Harspan uitwys vir die skelm wat hy is. Hy sal hom onteer.

Terwyl sy gedagtes onverwyld voortduur, kry hy perspektief. Vuil spel was nog nooit in sy woordeskat nie.

Hy gaan Danie soos ’n skip laat sink. Hy wil mos sy lyf jakkals hou.

“Aan die ander kant, vertel Sampie, het Loukie oornag in ’n wrak verander,” sê Jorsie.

Floors probeer konsentreer op wat hy vertel.

“Volgens Fiela het die kind laatnag ingekom. Sy oë het blykbaar soos pierings in sy kop gestaan.

“Sy vermoed hy gebruik dwelms. Oornag, sê ek jou Floors.

“Toe sy ma sê sy gaan hom pos na haar suster in Kuruman, wou hy met alle geweld op die daad gaan. Hy wil blykbaar nie ’n dag langer in Harspan wees nie.

“Floors, lyk vir my jy het ook iets ingekry. Wat gaan aan, ou maat.”

“Ek, Loukie en Danie was gisteraand saam op Donkerhoek. Diamante uitgegrawe,” sê Floors oplaas.

Hy sien hoe Jorsie se oë rek. Dis asof hy die geheim moet deel. Hy vertel vir Jorsie presies wat gebeur het. Toe hy klaar is, voel hy ietwat ligter.

“Magtig, Floors. Wil jy vir my sê die gedaante was op jou hakke en jy leef?

“Jy weet natuurlik die presiese oorsprong van die gedrog. Wat dit werklik is.

“Dis die waterslang. Die regmatige Bewaker van Donkerhoek. Sy woonplek sit bo in die koppies en hy waak oor die skatte aan sy voete.

“Destyds toe daar water was, het die vroue op die klipkoppies gaan uitspan om hulle wasgoed te was.”

“Tot een vrou, Martha Smit, op ’n dag ’n mooi klippie vir haarself toegeëien het.

“Sy het dit daar op Donkerhoek se grond ontdek. Later het mense vasgestel die klippie wat Martha opgetel het, was inderdaad ’n edelgesteente.

“Die volgende oomblik is daar sprake van myn. Al die gebeure het die slang boos gemaak.

“Met haar terugkeer het die slang vir Martha voorgekeer. En ’n vloek op haar gesit.

“Sy het deurmekaar geword, eendag in die veld verdwaal en later van die honger omgekom. Die slang se wraak.

“Van daardie dag dwaal haar gees daar rond. Die gehuil en gekerm is die manier hoe sy gesterf het.”

Floors ken die verhaal. Bangmaakstories. Hel, die oumense glo vas aan dié stront.

Hy is langs die vuur met dié stories grootgemaak. Hoe die slang verskillende vorms aanneem en sy slagoffers lok met gedaanteverwisselings.

Waar in jou leeftyd het jy sulke stront gehoor? Sy kop dink nie soos ander s’n nie.

Tot hy dit met sy eie oë aanskou het, sal hy dit wragtig nie glo nie.

En nou het hy self die vrou gesien. Sy bleddie kop is koorsig oor die diamante.

Liewe Jesus het sy swaarkry gesien. Sy hele lewe pas hy ander se vee op. Doen dit al vandat hy in standerd ag die skool gelos het.

Op 40 lyk hy soos Jorsie. Oud en verniel van die wind, reën en son. Maar ná gisteraand moes sy swaarkry-dae iets van die verlede gewees het.

Die besluit kom sonder waarskuwing. Hy gaan terug. Alleen.

“Jy kan dankbaar wees jy leef, Floors. Anders sou ek nie nou langs jou gesit het nie.”

Floors vervies hom. Hy moet terug Donkerhoek toe.

Net een diamant, dis al wat hy soek.

Daarna sal hy hom wreek op Danie. Al moet hy langs sy skoene tot in die stad loop.

“Die son trek water. Ek moet die vee gaan haal, Jorsie.”

Hy trek die verkyker nader en staar oor die veld.

“Dit lyk of die bokke minder word. Ek moet die res gaan soek.”

Hy gryp na sy hoed op die stoel.

“Jy gee mos nie om as ek die pyp klaar rook nie, ou Floors?”

Hy wil amper sê hy gee nie ’n flenter om of hy aan die pyp verstik nie, maar bedink hom.

Arme Jorsie is eindelik skadeloos en eensaam.

Hy is die Vader in die hemel dankbaar Jorsie is so krank. Anders sou dié seker nou agter hom aangepiekel het.

“Dis reg, ou Jors, vat jou tyd. Trek net die deur toe as jy loop.”

Hy verstar in sy spoor toe hy omdraai. Langs hom skater Jorsie.

“Ou maat, dit lyk nie of jy gou hier gaan wegkom nie.”

Hulle oë steek gelyktydig vas op die hek waar die wasemdun figuur van ’n vrou aankom. Haar oë is koorsig op Floors gerig.

Floors ontduik Lettie al ’n paar dae. Sy is die praatsiekste vroumens in die kontrei. Vandag gaan hy seker nie loskom nie. Hy sug.

Sy is met blitsige treë op die stoep en druk haar wysvinger teen sy bors.

“Waarheen is jy op pad, Floors Kloet? My kos is mos genoeg, maar ek nie. Stank vir dank, sê ek jou.

“Siena loop en spog oor julle twee se verhouding. Die vernedering!

“Jy sal hiervoor betaal, jou ellendige bliksem!

“Ek het my skottelgoed kom haal. Uit my hande kry jy nie weer ’n krieseltjie kos nie.”

Sy stamp hom uit die pad.

Jorsie se gesig frommel van ingehoue lag toe sy verby hom stoom.

Floors staan met ’n beteuterde gesig. In die veld het hy rus en vrede, maar hier …

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters