28 dae gelede
Floors besluit toe om vir oulaas sy luck te gaan try
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Floors besef in sy gesprek met sy buurman Jorsie dat sy neef Danie hom en Loukie op Donkerhoek met diamante gecon het. Hy sweer wraak teen Danie en belowe homself hy gaan soontoe terugkeer. En toe kom ’n moerige Lettie daar aan en klim Floors in oor Siena spog oor haar “verhouding” met Floors. Dieselfde Lettie wat lekkergoed vir Floors aandra. Geniet hoofstuk 5 van Bewaker van Donkerhoek deur GWENDOLINE KORDOM.

HY VOEL skuldig toe hy hoor hoe Lettie met die skottelgoed baklei.

Sy sorg altyd dat daar vir hom ’n bord kos wag wanneer hy saans moeg uit die veld kom. Dit kom al jare aan.

Sommige oggende verras sy hom met vars gemaalde koffie en die heerlikste warm brood.

Het hy onbewustelik vals hoop in haar hart geplant? Is dít die rede dat Lettie nog geen man of kind het nie?

Sy is al amper 40 en loop haar bene op agter hom aan. Floors, wat niks het nie. Ai ...

Hy weet ook nie of hy gevoelens vir haar het nie. Gewoonte is ’n ander ding.

Siena is sy drinkmaat. Daar skort niks met haar nie, behalwe dat sy te diep in die bottel kyk en drie kinders het.

Haar oudste, Katryn, kry juis so swaar weens haar ma se drinkery.

Hoeveel nagte het sy hier kom klop en dan het hy skaamteloos gelieg oor haar ma wat hier by hom oornag.

Siena is hier om sy lus te blus. Dit beteken nie hulle is saam nie. Watse stront praat sy?

Beteken dit Siena het gevoelens vir hom?

Hy het glad nie gevoelens vir haar nie.

Hy het al dáái tyd sy dronk spykersessies met Siena gestop. Vir haar kinders se onthalwe, veral Katryn.

Daai arme kindjie gaan deur hel, meer so ná die gebeure met Bobby Joe.

Eintlik het hy lief geraak vir Katryn en daai twee boeties van haar.

Hy speel nie pa nie. Hy gee net leiding en hou toesig oor die roostuin, die een wat hy spesiaal vir Katryn gemaak het.

Wat dan van Siena? Is sy net ’n maat?

Sy is darem nou al ’n paar maande sonder drank. Maar sy kan hom skaars in die oë kyk wanneer hy gaan inloer.

Dis Katryn wat die tee maak en by hom sit.

Die kind se verlange na ’n pa rus soos ’n klip in sy binneste.

Aan die ander kant staan Lettie. Sonder kind of kraai. ’n Goeie vrou, maar ’n regte kermgat.

“Floors, ek kan nie dink dat jy so blind kan wees nie. Of kyk jy vas teen haar skeeloog?” vra Jorsie voordat hy van die stoel verdwyn toe ’n nuwe lagbui hom oorval.

Floors gee hom ’n vernietigende kyk voordat hy by die stoep afstorm.

Hy soek nie vir Lettie wat heeldag op sy kop karring nie.

As ’n vrou aanhou só lyk, kan Siena en Lettie maar verby hou.

Hy kies blindelings ’n koers die veld in.

Sy gedagtes is steeds by Lettie.

Wanneer het hy haar ooit iets gevra? Sy is die een wat kos agter hom aandra.

Môre sal hy ’n sit-storie met haar praat.

Sy is dwarsweg die moeilikste vrou onder die son.

Tog kan hy nie sonder haar etes klaarkom nie.

Die son trek al water toe hy die vee in die kraal injaag.

Sy kop draai vanself in die rigting van Donkerhoek.

Die skaduwees kruip saggies oor die aarde.

Moet hy dit waag om nou daar besoek af te lê? Niemand sal tog wonder waar hy is nie.

Sy asem jaag en sy hart galop toe hy koers kies in die rigting van die vervloekte plek.

Hy stop skielik toe ’n geluid aan sy regterkant sy oor vang.

Hy luister aandagtig, maar dis skielik doodstil om hom.

Jorsie se stories oor die slang spring in sy kop. Hy skud sy kop driftig.

Hy was nog nooit ’n bang mens nie. Dis met nuwe drif dat hy verder stap.

Die sagte grond naby die hek van Donkerhoek verdof sy voetstappe.

Die skemer het hom ingehaal. In die verte hoor hy die naggeluide van diere.

Hy glo nie aan toeval nie. Ook nie dat dieselfde ding twee keer met dieselfde persoon gebeur nie.

Floors kan sy oë nie glo nie. Die hek wat gisteraand wawyd oopgestaan het, is toe.

Die ketting en slot blink soos ’n mooi herinnering in die laaste sonlig.

Hy stap al langs die heining af en kyk dan eers vir oulaas rond voordat hy oor die draad klouter.

Hy stryk vinnig aan na die kol waar hulle gisteraand gegrawe het.

Alles lê nog presies soos hulle dit gelos het.

Hy gryp die graaf en begin werk. Ná ’n uur is dit amper stikdonker.

Om hom waai ’n koel briesie. ’n Saligheid oorval hom.

Gisteraand was ’n nagmerrie, iets wat nie herhaal sal word nie.

Hy staan stadig van die grond af op en voel meteens hoe sy rug verstyf.

’n Paar meter voor hom verskyn ’n steenbokkie. Sy blik is vasgenael op Floors.

Floors staar terug soos een wat gehipnotiseer is.

Die bokkie beweeg nader. Floors kry met moeite sy oë weggeskeur.

Die volgende oomblik slaan ’n rukwind langs sy voete op.

Hy spring weg en nael vir die heining. Hy is oor.

Met die opstaan kyk hy terug en verstar. Hy slaan amper teen die grond neer van skok.

Uit die bokkie se nek kom die lyf van ’n slang.

Die lang stert eindig amper teen die rand van die klipkoppe.

Jorsie was reg oor die slang.

Floors hardloop soos ’n besetene in die rigting van die dorp.

Iewers langs die pad stop hy om te rus.

Hy luister, maar niks agtervolg hom nie. ’n Doodse stilte hang in die lug.

Toe weet hy met sekerheid dit was sy lááste keer. Sy voete sit hy nooit weer op Donkerhoek se grond nie. Nie ná vanaand nie.

Eendag sal sy skip inkom. Vir eers kan hy net hoop en bid die mense van Harspan sal hom glo.

’N PAAR dae later kom hy agter niémand glo sy skrikwekkende verhaal nie. Hulle lag sodra hy die storie vertel.

Die twee wat saam met hom die gedaante aanskou het, is nie hier om die storie te staaf nie. Selfs Jorsie is skepties.

Dan kom die nuus. Loukie is vir waarneming na ’n inrigting gestuur.

Hy het blykbaar heeltemal koekoes geraak.

Daarna hoor hy ’n kar het Danie doodgetrap.

Sy vrou word oornag ’n ryk weduwee van die diamante wat Danie verkwansel het.

Toe weet hy dis sy geluk.

As daar één vrou in Harspan is by wie hy gaan vlerksleep, is dit Danie se vrou.

Só kyk hy mooi na sy neef se belange en kry darem ook in die proses ’n bietjie geld.

Geld waaroor hy sy hele lewe lank nog net kon droom.

  • Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters