12 dae gelede
Flip warn sy vrou om niemand van die spook te vertel
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Flip Heynz word uit ’n begraafplaas-nagmerrie wakker en hoor ’n vrou wat om hulp skree. Hy besef dis sy vrou, Magrieta, en jaag na die badkamer waar die geskree vandaan kom. Hy skop die deur oop en vind ’n bang Magrieta ineengekrimp op die koue vloer. Flip is geskok oor haar woorde – sy het ’n spook by die venster gesien. Flip glo haar nie, maar Magrieta is oortuig dis die vrou wat drie maande gelede wreed aan haar einde gekom het. En dit lyk of die vrou haar iets wou vertel. Die couple glo nou haar siel rus nie. Geniet hoofstuk 2 van die gewilde CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk, Spookvrou.

MAGRIETA sug. “Ek kan nie glo die polisie het nog nie ’n deurbraak gemaak nie. Wil jy vir my sê die moordenaars het geen leidrade op die toneel gelos nie?”

“Jy moet onthou ons het net een speurder hier in Oosbank, my vrou, en dit is die eerste keer dat hier so ’n wrede moord plaasvind.”

“Ja, maar sersant Tamatie spog dan altyd dat hy die beste ondersoekbeampte onder die son is.”

Flip Heynz gee ’n laggie. “Tamatie weet duidelik nie wat dit beteken om die beste te wees nie. Al wat hy kan goed doen, is skoolkinders arresteer wat chips en ander lekkergoed by die winkels steel.

“Hy weet niks van regte, egte speurwerk nie.”

“Ek het gehoor hulle wou speurders uit die stad laat kom om die saak op te los,” sê Magrieta, “maar Tatie Tamatie het teen die karre geskop.

“Hy sê die gemeenskap moet meer vertroue in hom hê en hy gaan hierdie saak op sy eie oplos.”

“Ai, dis drie maande later en niemand is nog gearresteer nie.

“Ek glo nie Tamatie is die regte man vir die job nie.”

“Magrieta, kan ek jou ’n groot guns vra?”

“Ek luister.”

“Moet nou nie môre vir almal loop en vertel wat vanaand gebeur het nie.”

“Haai, Flip, ek is mos nie so nie. Jy maak of ek ’n skinderbek is.”

“Nee, liefie, dis nie wat ek bedoel nie. Dis net, soms is jy geneig om uit jou beurt te praat.”

Magrieta bly ’n rukkie stil. Dan sak sy saggies af: “Ek kan maar net bid Olivia se moordenaar word gou vasgekeer, anders kom sy my weer lastig val.”

Flip besluit om liewer niks van sy droom oor die begraafplaas te sê nie. Dit kan alles net vererger ...

DIE volgende oggend kan Magrieta nie wag om die nuus met haar buurvrou te deel nie.

Sy steur haar nie aan Flip se waarskuwing die vorige nag nie.

Hy verstaan nie hoe moeilik dit vir haar is om so ’n sappige brokkie vir haarself te hou nie.

Sy en Bettie is al jare vriendinne en het geen geheime nie.

In haar binneste bid sy Flip kry sy ry werk toe. Hoekom draai hy vanoggend so lank?

Skaars vyf minute nadat Flip weg is, gaan klop Magrieta aan Bettie se deur.

“Môre, Grieta. Skuld ek dan vir jou geld waarvan ek vergeet het dat jy so vroeg op my voorstoep staan?

“As dit so is, moet jy maar wag tot die volgende AllPay. Ek is platsak.”

Magrieta lag. “Jy skuld my niks. Mag ek dan nie hierdie tyd van die oggend vir my bestie kom kuier nie?”

“Natuurlik, natuurlik. Jy is enige tyd welkom.”

“Nou toe, skakel solank die ketel aan. Ek het iets om met jou te deel.”

“As dit weer oor Flip se jakob is wat sukkel om regop te kom, wil ek liewer nie hoor nie. Ek het nie raad vir jou in daai afdeling nie.”

“Nooit gesien nie, vriendin. Dis iets baie meer juicy as daai.”

Bettie se oë raak groot. “Kom binne en maak jou tuis. Ek haal solank die koppies uit.

“Jy moet maar tevrede wees met swart koffie. Ek het nie geld vir melk nie.”

“Ag, come on, Bettie, jy weet ek is als gewoond. Vir wat maak jy of ek ’n vreemdeling is?”

Toe die twee vroue elk met ’n stomende koppie Frisco by die kombuistafel sit, begin Magrieta uitpak.

Sy vertel hoe vreesbevange sy die vorige aand was en hoe sy ’n oomblik gedink het iemand wil haar aanval.

“Ek verstaan nou nie so mooi nie,” sê Bettie ná ’n ruk. “Wat het jy daai tyd van die nag by die venster gesoek as jy net toilet toe is om jou blaas leeg te maak?”

“Ai, jinne, Bettie, jy luister ook nie reg nie.

“Ek sê jou dan ek het ’n geluid gehoor. Ek het eers gedink dis ’n vreemde hond wat vir Pokkel kom kuier.

“Jy weet self hoe graag my hond gaste kry wat ’n mens van nêrens af ken nie.”

Bettie neem nog ’n slukkie van haar drinkgoed. “Het Pokkel nie geblaf nie? Hy sit dan altyd so ’n groot bek op.”

Magrieta dink ’n oomblik na. “Vreemd genoeg het hy nie ’n geluid gemaak nie. Die spook het hom seker gehipnotiseer. ’n Mens hoor mos baie van sulke gevalle.”

“Of dalk het Pokkel die vrou nie eens gewaar nie. Spoke maak hulle mos onsigbaar as hulle nie wil hê jy moet hulle sien nie.

“Wie sou nou kon dink dat dit eendag hier reg onder ons neus sal spook, Griet?

“En dit nogal die pragtige Olivia van alle mense. Sy was so dierbaar en saggeaard.”

“Ai, Bettie, ek kan my nie die pyn indink wat sy in haar laaste oomblikke verduur het nie. Watter normale man druk ’n bottel in ’n vrou se privaat dele op?”

Magrieta skud haar kop. “Dis barbaars en dit alles omdat Olivia anders as ander vroue was.”

“Dis tog so seer dat daar mans is wat nie aanvaar dat vroue tot vroue aangetrokke kan voel nie.

“Mense het die reg om verlief te raak op wie hulle wil. Om ’n vrou so wreed om die lewe te bring net omdat sy nie in mans belang stel nie ...”

“Ek glo ook dis hoekom Olivia vermoor is, maar daai verdomde Tamatie met sy grootkop is ’n regte good for nothing.

“Tot dusver is niemand aangekeer nie. Hy vreet te veel en doen te min.”

Magrieta het skaars Bettie se woning verlaat, toe haas Bettie haar na ’n woning verder af in die straat.

Sy wat Bettie is, hou nie daarvan om vroeg in die oggend huis tot huis te loop nie, maar sy het groot nuus wat sy met Anna moet deel.

Anna is mos een van daai mense wat glo daar bestaan nie iets soos spoke nie, maar sy sal vinnig van deuntjie verander as sy hoor wat Magrieta oorgekom het.

Magrieta praat die waarheid, daarvan is Bettie oortuig. Sy het dit in haar oë gesien.

Daar is nie ’n manier dat sy ’n liegstorie so oorspronklik sou vertel nie.

En hulle is te lank bevriend dat Magrieta haar vir die gek sal hou.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters