3 maande gelede
Flip en Magrieta besef die besoeker se siel rus nog nie
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons regular CHRISTO MEYER is weer oppie bol met sy jongste skryfstuk, Spookvrou. Geniet hoofstuk 1!

DIS koud, nat en donker.

’n Slaapbroek is die enigste kledingstuk aan Flip Heynz se skraal lyf.

Sy liggaam bewe en dit voel of hy enige oomblik gaan verkluim.

Op 52 is hy nie meer vandag se kind nie.

Hy het al baie koue winters in sy lewe beleef, maar nie een van die voriges kom naby die winter van 2019 nie. Hierdie is beslis die ergste ooit.

Dis nou eers begin Junie. Wat van die twee maande wat voorlê?

Waar op aarde bevind hy hom? Hoe het hy hier beland? Alles lyk so onbekend.

Waarom onthou hy niks? Daar moet ’n logiese verduideliking wees.

Hy probeer dink, maar sy brein weier om saam te werk.

Is hy dalk ontvoer en teen sy sin hierheen gebring? Wie sit agter alles en wat probeer hulle bereik?

As hy net geweet het wat presies aan die gang is. Hy draai sy kop toe hy iemand hoor gil.

Dit klink soos ’n vrou in nood: “Help my ... help my ... help my.”

Angstig kyk hy in die rondte, maar grafstene en hoë bome is al wat hy sien.

Die omgewing beantwoord een van sy vrae: Hy bevind hom in ’n begraafplaas.

’n Benoudheid gryp hom aan die keel. Niks maak sin nie.

Watter normale mens soek dié tyd van die nag dooies se geselskap op?

“Help my ... help my,” hoor hy weer in die verte.

Vir ’n oomblik skuif hy sy eie bekommernis op die agtergrond.

Hy wil die gillende vrou gaan opspoor, maar om een of ander rede bly hy op een plek staan. Sy bene wil nie beweeg nie.

Dit neem ’n ruk voordat Flip uit sy onderbewussyn terug na die werklikheid ontsnap.

Hy is natgesweet. Wat ’n aaklige nagmerrie. Hy wonder wat dit beteken.

Vlugtig kyk hy rond en steek sy hand uit om liggies aan sy vrou te raak.

Toe hy niks anders as die laken onder sy palm voel nie, tref die besef hom soos ’n vuishou tussen die oë: Magrieta. Dit is sy Magrieta wat so skree.

Sy is in gevaar en hy moet haar gaan red.

Flip vlieg uit die bed. Die boek waarmee hy vroegaand aan die slaap geraak het, beland op die grond.

Soos die Springbokkaptein, Siya Kolisi, in die onlangse wedstryd teen die Highlanders op Nuweland storm Flip in die gang af.

Op pad om sy vrou te hulp te snel, gryp hy sommer die besem om wie ook al die indringer is, te verwilder.

As daar gevaar is, moet hy darem iets hê waarmee hy hom en sy vrou kan verdedig.

“Vrou, is alles reg daar binne?” vra hy benoud toe hy voor die badkamerdeur tot stilstand kom.

“Help my, Flip, help my, asseblief.”

Flip laat nie op hom wag nie.

Hy dwing die deur oop en tref sy vrou ineengekrimp op die koue vloer aan.

Skok staan in hoofletters op haar bang gesig geskryf.

“Wat gaan hier aan, Magrieta? Hoekom lyk jy so?”

“Ek ... ek dink ek het ’n spook gesien.”

Hy wil uitbars van die lag, maar besluit daarteen.

Hy is net verlig hier is nie ’n inbreker nie.

“Waar is die vuil uil, my vrou? Waar steek hy hom weg?”

“Hy ... sy het ’n oomblik gelede daar by die venster gestaan.”

“ ’n Vroue-spook?” wil Flip verbaas weet.

Dit was die laaste ding wat hy verwag het.

Magrieta knik. “Sy het ’n wit rok aangehad. Lang swart hare. Sy het net roerloos daar gestaan en stip na my gekyk.”

Versigtig skuif Flip die gordyn oop. Hy kyk deur die venster, maar dis te mistig om iets te sien.

Het sy vrou haar verbeel? Hy draai hom weer na Magrieta. Hy steek sy hand uit en hou dit teen haar voorkop.

“Jy is so warm soos ’n koolvuur. Kom saam met my. Wat jy nou nodig het, is iets om jou te kalmeer, anders raak jy nie vanaand aan die slaap nie. Ek het jou nie eens langs my hoor opstaan nie.”

“Dis daai tee wat ek voor slapenstyd gedrink het wat my uit die bed gedwing het. As die natuur roep, moet ’n mens mos luister.”

Flip lig Magrieta van die vloer af en lei haar aan die arm kombuis toe.

Daar gekom, trek hy ’n stoel uit en laat haar daarop sit. Dat sy vrou ’n groot skrik weg het, betwyfel hy nie.

Hy gaan haal ’n groot beker uit die kas en tap dit vol koue water. Hy gooi ’n klomp suiker in en roer dit deeglik.

“Hier,” sê hy en hou die beker na haar uit, “sluk so vinnig as wat jy kan. Dit sal jou in ’n japtrap beter laat voel.”

Magrieta sluk sonder om teë te praat. Flip hou haar onderlangs dop. Toe die beker leeg is, neem hy dit by haar.

“Nou moet jy gaan slaap. Ek dink nie die spook sal twee keer op een aand kom kuier nie.”

“Jy dink dis ’n grap, nè, Flip? Jy glo my nie, nè? Jy dink ek speel toneel.”

“Natuurlik glo ek jou. Ek weet dis nie iets wat jy uit jou duim sal suig nie.

“Kom ons gaan bed toe, dan vertel jy my alles.”

Soos ’n laerskoolkind gee Magrieta gehoor.

“Die spook het bekend gelyk,” sê Magrieta toe hulle albei onder die komberse is.

Flip trek sy asem skerp in. “Wat sê jy daar?

“Is dit iemand wat ons geken het?”

“Onthou jy die vrou wat so drie maande gelede wreed aan haar einde gekom het?”

“Praat jy van die jong vrou wie se moordenaar tot nou toe nog nie gevang is nie? Ek onthou haar. Wat was haar naam nou weer?”

“Olivia,” antwoord Magrieta vinnig. “Olivia Olivier.”

“Dis reg. Jy sê dis Olivia wat jy vanaand daar by die venster gesien het? Maar wat sal sy hier kom soek? Ons het tog niks met haar dood te doen gehad nie.”

“Ek weet nie, my man, maar dit het gelyk of sy my iets wou vertel.”

Flip vryf sy ken. Hy het al van alles gehoor, maar ’n spook wat ’n boodskap wil oordra, is vir hom ’n eerste.

Hy wil nie sy vrou in die gesig vat en dit laat lyk of hy dink sy maak die storie op nie.

“Weet jy wat ek dink?” vra Flip ná ’n ruk.

“Nee, Flip, ek weet nie. Ek kan mos nie jou gedagtes lees nie.”

“Ek dink Olivia se siel sukkel om tot rus te kom omdat haar moordenaars nog vry rondloop. Eers wanneer hulle veilig agter tralies is, sal sy ook vrede vind.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters