Verlede maand
Festus panic toe sy holborsel Jeppo se galgtou bring
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Jeppo die Laksman is terug in ’n splinternuwe, aksiebelaaide verhaal. Die immergewilde SALMON SMITH noem sy jongste verhaal Die Galgtoutjie. Festus slaan in sweet van paniek uit toe een van sy manskappe ’n galgtoutjie aan hom oorhandig. Hy weet presies wat dit beteken – hy is in groot moeilikheid. Festus beveel dat al sy top-manne byeenkom by ’n vakansieoord sodat hulle planne kan beraam om met die bedreiging te deal. Geniet nou hoofstuk 3.

‘WAAR k-kry djy dáái?!” hyg Don Festus geskok terwyl Boytjie heel onskuldig die galgtoutjie na hom uithou.

“By daai uncle in daardie huis waar ôs daai hit moes dala, Mister Festus!

“Hy’t gesê dat ekke dit vir Mister Festus moet gie.

“Hy’t gesê sy naam is … ’m … Ek dink hy het iets genoem van ’n laksman,” bevestig Boytjie Festus se vermoede.

Groot sweetdruppels rol van Festus se voorkop af.

Dit voel asof sy bors toetrek en hy gryp gou na sy asmapompie hier op die tafeltjie langs hom.

Hy weet Jeppo is die mees gevreesde mens hier onder die bendes in die Kaap.

Hy maak jag op elke gangster, moordenaar, verkragter of hijacker wat nie deur die land se howe skuldig bevind kon word nie.

Hy beweeg soos ’n skim en is deeglik as hy toeslaan. Niemand weet wie hy is en waar hy vandaan kom nie.

Hulle weet net as hy jou ’n galgtoutjie stuur, dan moet jy as boef weet dis klaarpraat met jou.

En vanaand is sy beurt, besef Don Festus.

“Hy’t nog gesê Mister Festus se dae is getel.

“ ’m … M-mister Festus … H-hoe tel ’n mens iemand se dae?” gaan Boytjie ongestoord voort.

“Hou djou bek! Moetie nog kô k*k praatie!” bulder Festus.

Hy haal ’n sakdoek uit sy hempsak en vee vinnig die sweet van sy voorkop af.

“I-is alles orrait, Mister Festus?” vra sy holborsel-lyfwag bekommerd.

Don Festus kyk op na sy body­guard, maar antwoord niks nie.

Sy gedagtes is nou ’n warboel.

Skielik begin een van die skurke in die lug snuif.

“Sies, wat stink soe?!” vra hy skielik.

Boytjie trippel ongemaklik rond.

Hy kyk met groot oë na Festus, wat ook nou in die lug snuif.

“E-ek het in my broek gek*k, Mister Festus.

“D-daai laksman uncle het my groot laat skrik!” stotter Boytjie bewerig.

Festus se gesig verkleur verskillende skakerings van pienk en rooi terwyl hy Boytjie aangluur.

“F*k uit hier, djou f*kken k*kgat! F*k djulle ammal uit hier!

“Djulle is useless!” tier hy woedend.

Hy keer egter sy bodyguard toe dié ook vir die deur mik.

“Mankas, bly djy hie, my broe. Ôs moet gesels!”

Toe die ander uit is, beveel hy Mankas om die deur te sluit.

“Kykie, Mankas, hie’s sommer nou groot k*k!” sê hy dringend toe Mankas voor hom kom staan.

“Ja, ek kan sien Mister Festus lyk nie goed nie. Is dit slegte nuus?” vra Mankas.

“Onthou jy nog die legende oor ’n man wat homself ‘Die Laksman’ noem?” vra Festus.

“Hy hunt die misdadigers wat in die hof loskom of gangsters en sindikate wat glo gemeenskappe in die greep van geweld gevange hou,” verduidelik hy verder.

Mankas knik vinnig.

“Ja, Mister Festus. Ek het al gehoor van dit.

“Maar niemand het al sy gesig gesien nie. Hy beweeg soos ’n skim, hy slaan toe en verdwyn weer soos mis voor die son.

“En die enigste mense wat al sy gesig gesien het, is dood.”

Skielik val iets Mankas by …

Hy kyk na die galgtoutjie wat daar op die vloer lê. Hy trek sy asem skerp in.

“O jislaik! Nou verstaan ek Mister Festus se predicament.

“Die Laksman stuur aan almal met wie hy wil afreken, só ’n galgtoutjie!” hyg hy.

“Presies, Mankas!” beaam Festus.

“Ons sal nou baie vinnig moet plan maak oor hoe ons met Jeppo die Laksman gaan deal.”

Festus kyk op na Mankas en dit lyk asof hy in die kort tydjie jare ouer geword het.

“Eers moet ons nou eers alle hits op die business owners stop,” gaan hy voort.

“Dan moet jy al ons main ouens in die hande kry.

“Bel hulle sommer vanaand!

“Ons vertrek sommer môremiddag na daai holiday resort daar in die Slanghoekvallei naby Rawsonville vir ’n bosberaad.

“Ons moet daar planne gaan maak om die bleddie Laksman te uitoorlê.

“Hy is ’n groot bedreiging vir ons gangsters se voortbestaan hier in die Kaap.”

“Is daai man regtig soe kwaai soos daar oor hom vi’tel word, Mister Festus?” vra Mankas.

Festus kyk sy main bodygaurd reguit in die oë.

“Djy ken nog sommer min jokes, ou Mankas!”

DIE Donderdagmiddag laat daag Don Festus en tien van die top-brasse van sy gangster-netwerk by die Mooiberg-vakansieoord in die Slanghoekvallei op.

Dis ’n klein, intieme oord en is lekker weggesteek tussen die berge.

In die oord is daar altesame 9 chalets, 12 tentkampeerplekke, ’n konferensiesentrum en ’n lekker groot swembad.

Daar word vinnig drie chalets aan die skurke uitgeboek.

Festus is bly toe hy hoor dat hulle tans die enigste besoekers daar is.

Dis beter dat min mense van hulle teenwoordigheid hier in die berge weet.

Nou kan hulle ongestoord aan hulle planne werk.

“Dis mos winter en die besigheid is gewoonlik maar swak dié tyd van die jaar, menere,” verduidelik die vriendelike ontvangsdametjie met ’n breë, geforseerde Colgate smile.

Toe alle formaliteite afgehandel is, laat waai die boewe vinnig na hulle onderskeie chalets.

Skielik trek ’n ouerige motor in die besoekersparkeerplekke op.

’n Lang man klim uit die motor. Hy kyk eers die grand voertuie van Don Festus en sy manne agterna terwyl hulle met die beboste grondpaadjie na hulle chalets toe aankruie.

Tóé stap hy met afgemete treë na die ontvangstoonbank.

Die ontvangsdame kyk op en adverteer weer Colgate dat dit goed gaan.

“Kan jy vir my ’n chalet boek naby daardie gaste wat nou so pas hier opgedaag het, asseblief?” beveel die man haar en beduie in die rigting waarin Don Festus-hulle nou verdwyn het.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters