3 maande gelede
Fanie wonder of Gerald nie weer tokkies vang nie
 ~ 

HAAI, Sonlanders! As ou Fanie ’n Romeo is, dan is die drank definitief sy Juliet. Fanie se drinkebroer Gerald vertel hom van ’n easy way om genoeg drankgeld te maak – deur exotic dancing vir ryk, verveelde anties te doen. Fanie is skepties en sluk maar swaar aan Gerald se storie. Maar hy is tog nuuskierig en wonder of so ’n plan dalk die einde van sy kopseer oor drankgeld gaan wees. Hy besluit om saam met Gerald na een van sy shows te gaan. Geniet nou hoofstuk 5 van ELDRIDGE JASON se verhaal Gif

FANIE besluit Gerald gaan hom nie weer onkant betrap nie.

Op die kop 15:45 Vrydagmiddag staan hy voor sy deur en wag vir sy drinkebroer.

Dié het mos beloof om hom aan die ryk ou anties te gaan voorstel.

Fanie is skepties. Hy weet nie so mooi nie. Om half kaalbas voor gryse anties te gaan paradeer is nie sy style nie. Wat as dié anties vatterig raak en meer wil hê?

Die Vader weet, daar is niks meer in sy tenk nie. Hy kan nie eens meer onthou wanneer laas sy enjin gestart het nie.

Hy vryf oor sy baardstoppels. Wanneer laas het hy ’n bietjie binneboud gelê?

Laas Krismis? Easter? Hemelvaartdag? Het sy drange nie al lankal opgevaar hemel toe nie?

Hy skud sy kop so asof hy dié somber gedagtes uit sy diff wil skud. Dit baat nie hy probeer ou, vergeelde herinneringe oproep nie, herinner hy homself.

Solank hy en die drank liefde kan maak, is daar world peace.

En dit is die einddoel wat hy nie uit die oog moet verloor nie – as alles volgens plan verloop, is ál sy worries oor dopgeld iets van die verlede. Dis nou as hy Gerald kan glo.

Gerald ... Hy wat Fanie is, weet nie aldag van dié pel van hom nie. Gerald het seker so 10 jaar gelede vir ’n paar jaar verdwyn.

Toe, eendag knap voordat die mense bonus moes kry, kom Gerald­ asvaal hier aan en sê hy is deur aliens ontvoer.

Gerald het toe aangevoer ’n alien het hom buite ’n smokkie voorgekeer en beloof om hom die galaxy se hele drankvoorraad te gaan wys.

Omkom van die bom toe skrik hy wat Gerald is, buite Club Galaxy wakker. ’n Metro cop het hom wakker gemaak, opgelaai en toe sommer op Stikland se voorstoep gaan drop.

Daar het dit hom jare gevat om al wat sielkundige is, te oortuig ’n glas kan nie half vol of half leeg wees as daar glad nie eens ’n glas is nie.

Fanie sug swaar. Hy hoop nie hierdie is weer so ’n episode van Gerald nie, want dan beteken dit hy het verniet ’n liegstorie by die werk gespin dat hy griep het.

Hy het dadelik die oproep beantwoord toe sy bel, want airtime kan soms duurder as drank wees.

Die sekkie by sy werk wou toe weet of hy voëlgriep het. Verleë het hy geantwoord hy’t nie ’n voël nie en eers toe sy skater van die lag, het hy besef in watter strik hy getrap het.

Fanie haal sy foon uit en staar na die gekraakte skerm.

Eendag het die skollies hom gerob toe hy lekker dikgesuip van sy gunsteling-smokkie af geslinger het. Hulle het sy selfoon gegryp en weggehardloop.

Maar skaars 10 minute later het hulle die foon teruggebring, dit na hom geslinger en gesê hulle stel nie belang in k*k nie. Hy’t geweier om sleg te voel.

Dan kry hy gedagte dat hy nie eens weet of Gerald ’n selfoon het nie. Gerald het die vorige aand so gespog van die duur tekkies en klere wat die anties vir hom koop, maar hy wat Fanie is, kan glad nie onthou of Gerald ooit genoeg het sodat hy sellulêr aktief is nie. Maar dit moet wees, want hoe anders kry die anties hom dan in die hande?

Hy staan nog so en wonder toe ’n lang, slap kar voor sy deur optrek. Fanie wonder vir ’n oomblik wie dit kan wees, want hy ken mos niemand famous nie.

En die kanse dat die president by hom gaan kom besoek aflê om hom ’n kabinetspos aan te bied, is skraler as ’n muggie op tik.

Dan rol die venster stadig en dramaties af. Gerald se drankvoos geslaande gesig is ingekleur met een moerse groot smile.

“Wat, wag jy dan vir ’n invite?” vra Gerald.

Fanie stap versigtig nader. Vir ’n oomblik wonder hy of Gerald se naam nie ook dalk genoem is voor die Zondo-kommissie oor staatskaping nie. Hy wonder of Gerald in die jare toe hy verdwyn het, nie miskien by Bosasa werksaam was nie.

Toe gaan die bestuurder se deur oop en ’n lang, dun man klim uit. Hy is deftig geklee in ’n swart pak met ’n swierige swart pet op sy kop.

Ongelukkig is die spykertjappies wat sy hele gesig attack, nie ook swart nie, dink Fanie met verwondering.

“Hierdie is Chico, ons chauffeur,” verduidelik Gerald.

Chico knik stram vir Fanie.

Seker bang daai kop val van sy dun nekkie af, dink Fanie.

“Kom, Broe, die fridge in hierdie limo is gelaai met drank!” skrou Gerald.

Hierdie is die magic words en Fanie skiet vorentoe met ’n wegspring wat goud in die 100 m op die Olimpiese Spele sou wen.

Hy gee skaars kans vir Chico om die deur vir hom oop te maak. Voordat jy nog “suipgat” kan sê, is Fanie in die slap kar. Hy gooi sy toksak voor hom neer.

“Wat is dan in daai sak? Jou outfit?” vra Gerald en hou ’n dumpy Black Label na Fanie toe uit. Dié gryp die bier asof dit die laaste manna is wat uit die hemel geval het.

“Ek het mos nie ’n outfit nodig nie,” sê Fanie nadat hy ’n sluk van sy bier gevat het. “Dis maar net ’n paar oornag-goedjies.”

Gerald grinnik. “Hoe lyk dit dan jy het planne met die ou anties?” vra hy. “Daai vroue is nie by nie, hoor! Dis classy vroue daai.

“As hulle klaar ge-entertain is, gaan hulle terug na hulle rykgat mans toe. Dis hoe dit werk en dis hoe dit altyd sal werk ...

“Ken jy Facebook?”

Fanie skud sy kop. “Jy weet mos ek hou nie van boeke lees nie.”

Gerald verstik amper in sy bier.

Ná ’n paar oomblikke van geproes, bring hy ’n selfoon te voorskyn. Die ding skree van vrek duur wees.

Hy druk ’n paar knoppies en wys dan ’n foto aan Fanie.

“Hierdie is Sammy. Is sy nie mooi nie?”

Fanie staar na die foto van die gryskopvrou. Hy moet erken sy lyk nogal nie te onaardig nie. Maar hoekom lyk sy dan so bekend?

Gerald gee hom egter nie kans om lank daaroor te tob nie.

“Chico,” sê Gerald luidrugtig deur die opening tussen hulle en die chauffeur, “laat ons weg wees, mater!

“Die anties wag om ge-entertain te wees en vanaand sal Fanie moet dans dat die rook draai.”

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters