4 maande gelede
Fanie skrik hom asvaal vir Gerald se G-string-dans
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Op ’n koue wintersaand terwyl hy as sekerheidswag diens doen, steek ’n ou drinkebroer by Fanie uit. Ná ’n paar doppe vertel Gerald vir Fanie daar’s ’n lekker easy manier van geldmaak. Hoe vergesog dit ook al vir Fanie kan klink, vertel Gerald hom dat hy ’n exotic danser vir ryk, verveelde anties is. Anties wat hom ’n fortuin betaal om vir hulle te dans. Gerald nooi Fanie om deel van sy geldmaakskema te wees en hoewel hy skepties is, stem Fanie in, want sy geld vir dop is maar aan die skaars kant. Geniet nou hoofstuk 4 van ELDRIDGE JASON se kortverhaal Gif.

DIS op die kop 13:00 die volgende middag toe daar ’n klop aan Fanie se voordeur is.

Nog dik deur die slaap vlieg hy op en nael voordeur toe.

Dis ’n afspraak dié waarvan hy selfs in sy diepste groef van babelas nie sou vergeet nie.

Vandag is die dag dat Gerald hom gaan wys hoe om geld te maak. In hulle gesprek die vorige aand het Gerald beloof om hom ’n bietjie touwys te maak voordat hy hom saamvat na ’n show met die ryk anties.

“Dis alles in die heupe,” het Gerald gesê toe die OBS klaar was.

“Maar jy sal sien. Ek sal jou môre alles wys ...”

Fanie sluit met bewende hande sy voordeur oop. Toe hy die deur oopruk, hang sy mond oop van verbasing.

Voor hom staan Gerald met ’n sweetband om sy kop en ’n sweetpak aan. In sy linkerhand het hy ’n klein CD-spelertjie.

“Waar ruk die jol dan?” vra Fanie en grinnik.

Gerald skuur verby hom. “Joke jy maar,” sê hy in die verbyloop oor sy skouer, “maar dit gaan alles oor die beat. No beat, no pay.”

In die sitkamer begin Gerald dadelik ’n paar strekoefeninge doen.

Fanie stap kombuis toe en gaan haal ’n kannetjie yswater uit die yskas. Die water sal maar vir eers moet doen. Hopelik koop Gerald ná hulle sessie ’n paar biere.

Fanie verstik byna aan sy water toe die musiek uit sy sitkamertjie begin blêr.

I like to move it, move it

I like to move it, move it

I like to move it, move it

We like to ... move it!

Hy haas hom na die sitkamer en kap amper flou om toe hy Gerald aan die dans sien.

Dis so ’n aardige kombinasie van die Running Man en Bart Simpson se dans dat Fanie nie weet of hy moet lag of huil nie.

Toe Gerald die moonwalk doen, breek die damwal. En ou Fanie lag. Hy lag dat die trane oor sy wange weghardloop. Hy lag oor sy kaalgat bestaan waarin debietorders kwaaivriende met hom is; hy lag oor die politiek van die land wat niks anders as polisiek is nie; hy lag oor Gerald wat met so ’n ernstige trek op sy gesig hom verbeel hy is Jessica Alba se dansmaat in Honey ...

En toe doen Gerald iets wat Fanie na sy asem laat snak – in een move skeur hy die sweetpak van sy lyf af. En daar pronk hy in ’n einaklein manlike G-string.

“Eeuw, dude!” gil Fanie geskok. “Wat dink jy doen jy?”

Gerald is ashes. “Hoe mean jy dan nou?” vra hy. “Bedoel jy dié dingetjie? Dis ’n Good Devil G-string.

“Sammy, die dokter se vrou, het dit ook vir my gekoop. Sy sê dit beklemtoon my bates.”

Fanie skud sy kop heftig. “Ek sou eerder sê die cops se bate­beslagleggingseenheid sal op jou beslag lê as hulle jou in hierdie ding sien,” proes hy. “Nee, man, ek kan mos nie sulke goed aanvang nie. Dis mos nie reg nie.”

Gerald stap tot by die CD-spelertjie en skakel dit af.

Fanie weet nie waar om te kyk nie. As hy na Gerald loer, sien hy net boep en holle, holle en boep ...

“Hierdie is ’n guaranteed way na sukses en hope geld,” sê Gerald. “Dit baat nie jy trek jou neus op vir wat ek nou vir ’n living doen nie.

“Ten minste breek ek nie soos ’n tikkop by ander se huise in nie.

“Is jy in of nie?”

Fanie vryf oor sy baard. Hy kan nie anders as om ongemaklik oor die hele affêre te voel nie. Om so halfkaal voor ’n paar belustige anties te dans? Sal hy dit kan doen?

“Oukei,” sê Fanie ná ’n ruk traag. “Ek gaan nie lieg nie, hierdie is die laaste ding wat ek expect het.

“Maar as dinge nie anders kan nie ...

“Jy sal my daai moves moet leer, want ek dans my hele lewe lank al soos ’n stokmannetjie.”

Gerald grinnik. “Moenie worry nie, broe. As ek jou die ropes gewys het, gaan jy die anties van hulle voete af dans ...”

NÁ SOWAT ’n uur en ’n half van oefen sit Fanie en Gerald lekker agteroor met ’n bier.

Fanie voel lyfseer. En skaam.

Gerald het hom dans moves gewys wat selfs ’n porn star sou laat bloos.

“Die anties hou van sulke aansitterige dansery,” het hy verduidelik toe Fanie weer teen die karre wou skop.

“Die anties wil ge-entertain wees en as hulle sien jy gaan uit jou way om hulle te entertain, is hulle nie skaam om jou met geld en presente te bederf nie.”

Fanie vat ’n sluk van sy bier. Dan draai hy na Gerald. “Gaan jy hierdie job vir altyd doen?”

Gerald glimlag lui. “Natuurlik nie! Hoekom dink jy het ek jou daarvan vertel?

“Ek het een van die dae ’n opvolger nodig, want hierdie lyf van my kan nie meer nie. Die gout is besig om my onder te kry en my lyf like nie meer so lekker om te move it, move it nie.”

“So, is ek nou die master se apprentice?” vra Fanie skepties.

Gerald knik. “Tensy jy natuurlik nog nie kan sien hoe jy geld soos bossies in hierdie bedryf kan maak nie.”

Fanie krap sy kop en maak sy mond oop om iets te sê, maar Gerald spring hom voor.

“En jy sal daai baard van jou moet skeer. Jou beenhare ook. Die anties hou nie van ’n harige man nie. Jou liggaam moet seepglad wees as hulle oor jou arms en bene streel.”

“Ek hoop dis ál waaroor hulle wil streel,” merk Fanie droogweg op en vat nog ’n sluk van sy bier. Hy breek hierna onbeskaamd ’n wind op.

“En jy sal moet stadiger met die bier,” vermaan Gerald hom. “Weet jy, een bier is die ekwivalent van ’n halwe brood?”

Fanie verstik amper in sy volgende sluk. “Wat, is jy dan nou ’n fiksheidsghoeroe ook?”

Gerald lag. “Stick with me and I’ll make you famous.”

“Ek dink eerder jy gaan my in die k*k laat beland,” antwoord Fanie.

Daar is ’n ernstige trek in Gerald se oë. “Dan moet jy maar self sien,” sê hy. “Ek het reeds die anties laat weet my opvolger dans môreaand vir hulle.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters