3 maande gelede
Fanie proe finally wat die lekkerste gif in die lewe is
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Nadat Fanie oor die groot skok gekom het van sy eksvrou, San­dra, wat sy kaalstertdansery gadegeslaan het, hoor hy later by haar sy’s nie meer getroud nie. Ongelukkig kom chime Monica, ’n spulse getroude antie, in en rokkel hom weg. Monica bied Fanie duisende rande aan om voortaan net vir haar te kom dans – ’n aanloklike aanbod vir Fanie wat so lief vir sy dop is. Maar gaan hy dit vat? Geniet nou die slothoofstuk van ELDRIDGE JASON se Gif.

FANIE sien Monica se lippe beweeg, maar hy hoor nie ’n woord wat sy sê nie.

Sy rammel net aan en aan en aan, maar hy kan sy gedagtes nie van Sandra af wegskeur nie. Sandra, wat mooier is as wat hy haar kan onthou.

Sandra, wat nou smile, maar hy kan die seer in haar oë sien.

Ai, wat hy nie sal gee om haar nou in sy arms te ...

Fanie skud sy kop. Wat makeer hom om dié gedagtes te hê?

Hy het mos sy kans by haar gehad. Daar sal tog nooit weer iets tussen hulle wees nie.

Nee, daarvoor het hy haar in die verlede veels te seer gemaak.

“As R15 000 te min is vir jou, moet jy so sê.”

Monica se woorde ruk hom terug na die werklikheid.

Fanie hoor Sandra lag en hy draai hom in haar rigting. Hy sien Gerald by haar staan. Sy hand rus veels te cosy na sy sin op haar skouer.

Jaloesie spoel soos ’n tsoenami oor hom.

Wat het Gerald wat hy nie het nie? Hoekom lag sy so lekker vir Gerald se flou jokes?

“Luister jy ooit na wat ek vir jou sê?”

Monica se irriterende stemmetjie krap aan hom. Dit remind hom aan daai tandekners-oomblikke wanneer ’n pot met ’n lepel skoon geskraap word.

“Monica, weet jy wat?” sê Fanie en sit sy glas drank neer.

“Daar is mense in hierdie wêreld wat nie eens weet wat om met ’n R15 000 te doen nie. Dis ’n moerse klomp geld vir hulle.”

Monica smile van oor tot oor. “Dis hoekom dit so ’n goeie aanbod vir jou is,” antwoord sy en pruil haar mond.

Fanie vind haar optrede egter nie sexy nie. Dit voel eerder vir hom asof daar ’n deel van haar lippe missing is.

Hy maak sy keel skoon. Hoe kan hy haar nou k*k vertel sonder om haar te offend?

“Ek kan jou meer aanbied,” gaan Monica voort. “Maar nie meer as R20 000 nie. Joseph, my man, gee nie vir my ’n groot allowance nie.”

“Joseph moet sy kop laat lees.”

Die woorde is uit voordat Fanie homself kan keer.

Monica frons.

“Hoe bedoel jy dan nou?” vra sy en trek haar oë op skrefies. “Hoe klink dit dan jy is besig om my te beledig?”

Fanie sug. Ai, dom was nog nooit slim nie, dink hy. Maar dié keer darem nie hardop nie.

“Jy is ’n orrait vrou en alles,” sê Fanie en pause ’n oomblik. Hy sal sy woorde goed moet kies.

“Maar ek is jou nie werd nie. Jy verdien beter. Iemand soos Gerald wat jou na hartelus sal bederf en net vir jou daar sal wees.”

“Maar ek wil vir jou hê,” sê Monica in ’n amperse kinderstemmetjie. “Nie vir Gerald nie. Hy is eintlik mos maar ou nuus, if you know what I mean.”

Fanie maak sy mond oop om iets te sê, maar dan sien hy die mooie Sammy al glimlaggend in hulle rigting gestap kom. Vader in die hemel, prewel Fanie. Hoekom is die duiwel dan vandag so lastig?

“Kan ek gou met jou praat?” vra Sammy. Monica wip haar en stap vies weg.

“Ek sien Monica het jou klaar as haar eie opgeëis?” vra Sammy en lag. Fanie staan verleë en grinnik.

Hy kan steeds nie glo dat so ’n mooi vrou met hom wil gesels nie.

“Ek is behoorlik klaar gekoop vir ’n groot bedrag,” sê Fanie.

Sammy klik haar tong.

“Ai, Monica wil ook nie hoor nie.

“Haar man se business is diep in die rooi, maar sy wil nie ophou geld mors nie.

“Nie dat jy geldmors is nie,” sê sy vinnig.

“No offence taken,” antwoord Fanie.

Sammy draai in die rigting van Sandra.

“Ek hoor julle was getroud?”

Fanie knik.

“Ek het gesien hoe jy na haar kyk,” gaan Sammy voort.

“Jy moet haar sê hoe jy oor haar voel.”

Fanie gaap haar verbaas aan.

“Ek het seker alles wat ’n vrou begeer: ’n Massiewe huis, ’n man met ’n kleinhuisie vol geld, kinders wat privaat skole toe kan gaan, trippies na die Serengeti en oorsee ...

“Maar weet jy wat? Ek het nie liefde in my lewe nie. Vir my man is ek maar net een van sy horde besittings. Amper soos ’n aandeel waarin hy belê het.

“Wat ek tussen jou en Sandra sien, is iets wat geld nie kan koop nie.”

“Maar ek is gif, ek is toxic vir haar,” skop Fanie teen die karre.

Sammy lag. “Al ooit gehoor van goeie gif?

“Jy kan daai goeie gif wees wat haar gelukkig kan maak. Gaan sê haar hoe jy voel of ek gaan roep weer vir Monica.”

Fanie laat hom nie twee keer nooi nie en haas hom na Sandra.

Hy kry Gerald aan die skouer beet.

“Verskoon ons tog gou, my broe.”

Gerald gaap hom verbaas aan, maar stap dan sonder ’n woord weg.

Sandra kyk hom vraend aan.

“Ek is nog lief vir jou,” val Fanie met die deur in die huis.

“Ek is so lief vir jou dat ek elke aand moes drink om die pyn en verlange na jou te stil.

“Ek moes drink sodat ek nie hoef wakker te lê en na jou te verlang nie.

“Drank was my gif om van jou te vergeet, maar ek soek nie meer hierdie gif in my lewe nie. Ek soek vir jou. Ek wil jou hê.

“Ek wil hê jy moet die nuwe gif in my lewe wees.”

Die trane dam op in Sandra se oë en sy prewel: “Ons het mos al probeer en toe werk dit nie uit nie. Wat gaan dit hierdie keer anders maak?”

Fanie vat haar aan die hand en streel met sy ander hand ’n traan weg wat oor haar wang loop.

“Hierdie keer is ek nie Fanie die dronkgat nie. Hierdie keer is ek Fanie die oorwinnaar van gif.

“Ek wil daar wees vir jou; daar wees vir ons.

“Nou, nes maar altyd, glo ek dat ons vir mekaar bedoel is. Vir nou en vir altyd.”

Sandra lag en gooi onverwags haar arms om sy nek en soen hom.

Fanie hoor hoe die anties naby hulle hulle asems skerp intrek.

Maar dit pla hom nie. Hy is in ’n wêreld van sy eie waar dit net hy, Sandra en haar lekker lippe is. Hy is in ’n wêreld waar liefde die lekkerste gif is ...

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters