27 dae gelede
Fanie is sonder woorde toe hy die ‘anties’ ontmoet
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Fanie se drinkebroer, Gerald, oortuig hom dat om vir ryk, verveelde vroue te dans, net die regte ding is om mee geld te maak. Fanie is skepties maar ook nuuskierig om te sien waaroor Gerald so ’n bohaai maak. Hy stem in om Gerald te vergesel na een van sy togte na die ryk anties. Maar weet hy waarvoor hy hom inlaat? Geniet nou hoofstuk 6van ELDRIDGE JASON se verhaal Gif.

TOT Fanie se verbasing ry hulle Langebaan binne, en nie die Kaap, soos wat hy aanvanklik gedog het, nie.

“Gaan ons dan nie Kaap toe nie?” vra hy vir Gerald.

Dié drink die een bubbly ná die ander vandat hulle van sy huis af vertrek het.

Gerald hik. “Wat, soek jy dan Kaapse lekkers?” vra hy vrolik. Veels te vrolik. “Jy weet natuurlik alle lekkers is oralste dieselfde?”

Gerald lag hardop vir sy eie flou grappie.

Fanie dink nie dis snaaks nie. Langebaan is veels te naby aan die huis, dink hy paniekerig. In die Kaap kan hy nog een van die vele in die massas wees. Daar groet niemand mos vir niemand nie. En jy moet iemand betaal om goeie maniere te wys.

Maar hier? Knap naby waar hulle bly? Die risiko is groot dat iemand hulle sal herken.

“Jy sal moet leer om te relax, broe,” sê Gerald en klap hom agter die blad.

“Die lewe is veels te jonk om jou te worry. If you worry, you die. And if you don’t worry, you also die. So, why worry?”

Fanie skud sy kop. “Die lewe werk nie so nie, broe.”

“Ek verstaan nie wat jy bedoel nie,” antwoord Gerald terug. “Nes ek en jy werk die lewe dan nie eintlik nie. Die lewe skuld ons niks. Dís hoekom ons ons kan geniet. Hou nou op aangaan soos ’n ou antie met ’n nat panty aan en chill.”

Fanie sug en sak terug op die fancy leersitplek. Hy fight ’n losing battle, dít besef hy. In Gerald se drankbenewelde mind is hy ’n filosoof en kenner van die lewe sonder weerga. Fanie maak sy oë toe. Gerald skreeusing kliphard saam met een van Tevin Campbell se songs.

Last night I

I saw you standing

And I started

Started pretending

That I knew you and you knew me too

And just like a roni

You were too shy

But you weren’t the only

Cause so was I

And I’ve dreamed of you ever since ...

Daai was sy en sy eksvrou, San­dra, se gunsteling song toe die liefde nog skaamteloos tussen hulle gebloei het. Sandra met die mooi bruin bokkie-oë en lyf wat met sy gemoed kon toor.

Tóé kon hulle nie genoeg van mekaar kry nie. Totdat Sandra later nie genoeg van sy voormalige beste vriend, Collin, kon kry nie.

Fanie forseer sy oë oop. Dit baat nie hy kasty homself met vergeelde oomblikke van die verlede nie. Wat tussen hom en Sandra was, is weg. Op. Soos laas Krismis se pay.

“Ons is hier,” sê Gerald en smile in sy rigting. “Vandag, broe, vandag gaan die beste dag van jou lewe wees.”

Fanie draai die ruit af en loer nuuskierig uit. Sy asem slaan weg. Soveel rykdom het hy in sy ganse lewe nog nooit aanskou nie.

Die dubbelverdieping-kasteel van ’n huis is oorweldigend. Hy sien ’n swembad met die blouste water, omring met lowergroen gras. So, die gras ís groener aan die ander kant, dink Fanie.

Die limo kom tot stilstand. Oomblikke later maak hulle chauffeur, Chico, die deur vir hom oop.

Fanie mompel ’n dankie, maar Chico staar hom net uitdrukkingloos aan.

Verbeel hy hom, of was daar afkeur in Chico se oë te bespeur?

Dis of dít of sy nerves wat hom pla, sê Fanie vir homself.

Gerald gee hom nie tyd om lank oor die saak te tob nie en kry hom aan die arm beet.

“Kom, die girls wag,” sê hy en wys in die rigting van die huis.

Fanie volg sy blik en sluk swaar aan die knop in sy keel toe hy die vrou op die voorstoep gewaar. Sy maag gee ’n draai.

Van hier af kan hy die glase sjampanje in die vroue se hande sien. Daar is vier van hulle.

Met lam bene laat hy Gerald toe om hom te lei.

Soos ’n gewillige skaap, op pad slagpale toe.

“Ladies, ladies,” skree Gerald al van ver af. “Looking good, ek sê.”

Die vroue giggel, maar sê niks.

By hulle gekom, merk Fanie vir die eerste keer op die viertal is nie so oud soos hy verwag het nie.

Hy’t nie verwag hulle sou met loopringe oor die weg kom en die grootste bloomers dra nie, maar die vroue hier voor hom is anderkant pragtig. Hulle dra hulle jare goed, danksy al die geld tot hulle beskikking.

’n Pragtige gryskopvrou steek haar hand toe uit. “Ek is Sammy. Ek neem aan jy is Fanie?”

Haar stem ... Dit klink soos musiek in sy ore, dink Fanie. Hy grinnik skaapagtig en steek dan ’n slap hand uit.

“F-f-fanie,” stamel hy.

“Aangename kennis, F-f-fanie,” sê Sammy en gee ’n klokhelder laggie.

Fanie kan nie anders as om na haar spierwit tande te staar nie.

So wit soos hierdie tande lyk ’n mens wie se sondes weggewas is, dink hy verwonderd.

“Kom ek stel jou aan die ander voor,” sê Sammy en wys na die ander drie vroue.

Almal knik wanneer Sammy hulle aan hom bekend stel.

“Dis nie almal dié nie,” gaan Sammy voort.

“Ek weet nie waar die ander girls draai nie.

“Ek stel voor ons gaan solank na die onthaal-area en geniet ’n drankie. Julle is seker lekker dors?”

“Girl, moenie praat nie,” antwoord Gerald en vryf sy hande ingenome teen mekaar. “As ek nog een glas champagne moes drink ... Ek sou in ’n fontein verander het.”

Sammy knipoog vir Gerald. “Ai, Gerald, my stoutkat-ramkat. Jy is veels te lief vir daai Black Label-goeters van jou.”

“Ek is ’n Zamalek-man, ja,” antwoord Gerald en stoot sy bors uit.

Fanie kan nie anders as om te voel dat Gerald hulle in die skande steek by hierdie classy vroue nie.

Wat sien hulle in hom? Dis duidelik hulle het geld. Seer seker kon hulle beter bekostig het. So, hoekom Gerald?

Hy volg die res die kasteel binne en word gelei na ’n onthaal-area wat so groot soos ’n rugbyveld is.

Die eerste ding wat Fanie se oog vang, is die massiewe bar counter.

Die ding is so groot soos sy ewige dors na drank, dink hy verwonderd. Sammy glimlag toe sy sien waarna hy staar.

“Ek hou van ’n man wat sy dop waardeer,” sê sy.

Fanie kry nog ’n knop, maar dié keer nie in sy keel nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters