Verlede maand
Fanie is ’n ou wat veels te lief is vir al sy drank
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons skop vandag af met ’n splinternuwe verhaal uit die pen van ELDRIDGE JASON. Hy noem dié verhaal van hom Gif. Geniet die eerste hoofstuk!

‘JIRRE, Fanie, kyk hoe lyk jy al van al die drank.”

Antie Merty staan met haar hande in haar sye.

Die swirlkous wat skuins op haar kop sit, het beslis al beter dae geken.

“Jy ken nie van ophou nie,” tier antie Merty voort. “Weet jy dan nie drank is nie die antwoord nie?”

“Nou wat is dan die vraag?” vra Fanie en vat nog ’n sluk van sy glas bier. “Ek kan nie onthou dat drank al ooit enige vrae gevra het nie.”

“En verder aan wil jy mos net vir jou slim hou,” kap antie Merty terug en skud haar kop.

“Daar is nie meer hoop vir jou nie. Die kanse dat daar wêreld­vrede gaan wees, is groter as dat jy ooit eendag die drank sal los.”

Fanie grinnik. “Ek drink omdat ek probleme het. Verstaan jy dan nie?”

Antie Merty sug swaar. “Jy drink nie omdat jy probleme het nie, jy het probleme omdat jy drink,” sê sy.

“Verder aan wil jy net vir jou slim hou,” sê Fanie en skink sy glas weer vol.”

“Weet jy al hoe stink jy van al die drank?” hou antie Merty dik.

Fanie se wenkbroue lig. “Is ek dan besig om perfume te drink?” wil hy dan weet.

Antie Merty skud haar kop. “G’n wonder Sandra het jou gelos nie. Jy suip dan soos ’n vis.”

Vir die eerste keer strip Fanie sy moer vir sy buurvrou.

Hy vat ’n sluk van sy bier en vee sy mond met die agterkant van sy hand af.

“Sandra het my nie gelos oor my drinkery nie,” sis hy. “Sy het my gelos omdat sy sleg was met my beste tjommie en toe saam met hom weggeloop het.”

Antie Merty se hand gaan geskok na haar mond. “Maar ek het dan gedink–”

“Julle dink te veel sonder om julle van die feite te vergewis,” val Fanie haar in die rede.

“Ek het julle skinderstories altyd maar verduur, want ek wou die gentleman in die verhaal wees.

“Maar ek kan nie langer julle prekery vat nie. Wat ek gesê het van Sandra is die heilige waarheid.

“Jaar in en jaar uit het ek myself afgesloof by die werk sodat sy net die beste kon hê en wat kry ek toe vir ’n dankie?

“ ’n Vrou wat my bankrekening leeg gesteel het toe sy met my beste pel happily ever after in Langebaan gaan bly het. Heel cosy met mý geld.”

“Arme mens, hoekom het jy dan niks gesê nie?” vra antie Merty nou simpatiek.

“Omdat ek nie bejammer en bespot wou word nie,” antwoord Fanie in ’n moeë stemtoon.

“Ek kan nie verstaan hoekom mense my nie net wil uitlos nie. Ek vra niemand tog niks.

“Dis my geld en ek skarrel nie rond vir my volgende dop nie.”

“Maar jou gesondheid ly daaronder,” antwoord antie Merty. Daar is nou baie minder beskuldiging in haar stem. “Ek sien hoe jy agteruitgaan. Hoe jou jeans van jou lyf afval, want jy het nie eens meer stêre nie.”

“Weet oom Flip jy hou ander mans se stêre dop?” vra Fanie.

Antie Merty raak rooi in die gesig.

“Daar is niks tussen my en Flip Booysen aan die gang nie,” sê sy verontwaardig.

Fanie smaal. “Jou secret is safe by my,” sê hy laggend en knipoog vir haar.

“Ek sien dan hoe oom Flip elke aand klokslag 7de Laan-tyd hier by jou opdaag. Weet elke keer kamma nie hou om die airtime op sy selfoon in te punch nie.”

“So, jy hou my huis dop?” vra antie Merty.

Fanie vat ’n sluk van sy bier. “Jy hou dan mý huis ook dop. Maar wag, ek moet in die pad val.

“Met hierdie winter raak dit mos nou vroeg donker en ek moet nou klaarmaak vir my shift vanaand.”

“Gaan jy dan so dronk nog werk?” vra antie Merty bekommerd. “Moet jy nie maar siek inbel nie?”

Fanie skud sy kop en staan van die tafel af op. “Ek pas maar net die skool op. G’n supervisor gaan in die nag kom kyk of ek op my pos is nie.”

Hy gooi die laaste bier in sy keelgat af. Dan breek hy kliphard wind. Daar is afkeur op antie Merty se gesig.

Fanie lag. “Wat? Ek kan mos nie help as daar ’n leeu in my keel brul nie.”

Hy voel lekker aangeklam toe hy antie Merty se hekkie agter hom toemaak en oor die pad stap na sy eie Hop-huisie toe nie.

Sy Hop-paradys, noem hy dit. Die huisie wat hy gekoop het met sy pension fund toe hy sy werk weens sy suipery verloor het.

Die res van sy pensioenfonds het hy met mening uitgesuip. Elke liewe dag van sy lewe. Tot die laaste keer, toe die ATM basies sy bankkaart in sy gesig teruggesmyt het omdat daar geen meer fondse beskikbaar was nie.

Toe moes hy vinnig vir hom ’n werkie kry en die enigste werk wat hy in die hande kon kry, was as security guard by die suinige Coenie Lombard se maatskappy, Best Security.

Fanie snork deur sy neus. Best Security my ass, dink hy terwyl hy sy voordeur met ’n gesukkel oopsluit.

Die enigste ding waarin Coenie se company goed is, is om sy werkers way onder die belt te betaal.

Toe hy finally sy deur oopgesluit kry, haas hy hom na sy kamer, waar sy slordig gestrykte uniform op hom wag. Hy haat dié uniform. Dit laat hom altyd soos ’n perv op ’n speelgrond voel, maar Coenie dring daarop aan dat ál sy werkers die lagwekkende uniform dra.

“Ek voel meer soos ’n skaap as ’n sekuriteitswag,” het een van sy kollegas, Lawrence Branders, eendag gesê.

“Al wat ek nou nog makeer, is ’n Batman-masker.”

Hulle almal het kliphard gelag vir Lawrence se grap, maar eventually besef dit is nie ’n grap nie, dis die waarheid.

Fanie wikkel homself met moeite in die uniform en trek agterna die stewels aan.

Dan haas hy hom na die bad­kamer om sy blaas te ledig.

Sonder om hande te was, stap hy weer na sy slaapkamer, waar hy sy werksak gryp wat eenkant in ’n hoek staan.

Dan stap hy uit sy huisie uit en sluit die deur agter hom.

Hy besef die drank is aan’t uittrek toe hy bibber toe die snedige windjie vir hom tong uitsteek.

“Dit gaan ’n lang, lang nag wees,” sê hy kliphard vir homself terwyl hy die pad afstap in die rigting van die skool.

Daar waar hy doelloos tussen die geboue sal moet loop op soek na tikkoppe wat anyway nooit daar inbreek nie ...

  • Lees more verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters