Verlede maand
Fanie byt nie aan Gerald se storie oor ryk anties
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Fanie is ’n ou wat enige iets vir ’n dop sal doen. Selfs ’n sekuriteitsjoppie om sy bodemlose dors na voggies te les. Op ’n bibberkoue wintersaand is Fanie diep lus vir ’n dop besig om ’n skool op te pas toe ’n vriend, Gerald, onverwags daar uitsteek. Ná ’n paar doppe laat Gerald val daar’s ’n easy manier om geld te maak en vra Fanie of hy belang stel. Wat kan hierdie easy-peasy geldmaak-skema wees? Geniet hoofstuk 3 van ELDRIDGE JASON se kortverhaal Gif.

GERALD drink tydsaam sy dop.

Veels te tydsaam vir Fanie, wat al ongemaklik rondtrippel.

Ná wat soos ’n ewigheid en ’n kwart voel, begin Gerald finally praat.

“Ek was down en out,” sê hy in ’n skor stem. “In my tjops.

“Almal het gedink ek is die joke van die town, die loafer wat nooit geld het om sy eie dop te koop nie.”

Hy draai na Fanie.

“Maybe het jy ook so gedink?”

Fanie laat sy kop sak.

“Ons struggle mos maar almal,” sê hy onoortuigend.

Gerald staar hom ’n oomblik aan en vat dan weer ’n sluk van sy OBS.

“Die grootste fout wat baie mense maak, is om te dink hulle is beter as ander mense. Veral as hulle ’n bietjie geld het.

“Maar die realiteit is dat mense partykeer so arm is dat geld ál is wat hulle het.”

Fanie luister aandagtig. Dit is wraggies die eerste keer dat hy Gerald só hoor praat. Gerald se tong was mos altyd so dik van klontjies kry dat niemand kop of stert kon uitmaak wat hy sê nie.

“Ek het eendag op ’n winkelstoep gesit toe ’n fênsie kar met ’n CA-nommerplaat daar langs my optrek.

“Twee grys anties het uitgeklim en my gevra of ek dalk ekstra geld wil maak.”

“Om in hulle tuin te gaan werk?” vra Fanie.

Gerald grinnik.

“Ek het ook so gedink en was nie lus vir tuinwerk nie. Weet jy, ek is nie lui vir drink nie, maar werk ... Ek kry net nie die plak om dit te doen nie.

“Maar hulle wou hê ek moes in ánder tuine werk, you know.”

Hy knipoog vir Fanie. ’n Lig gaan by Fanie op.

“Nee, man!” gil hy. “Jy praat mos nou skoon k*k.”

Gerald bars uit van die lag. “O, jy sê dis nie moontlik nie?”

Fanie skud sy kop. “Nei, man, Gerald, hoe lykit dan die OBS het na jou kop toe geslaan?

“Waar het jy dan hierdie storie raakgelees wat jy nou vir my try spin?”

Gerald tel die kannetjie OBS op en skink vir Fanie ’n dop.

Hy wag eers tot Fanie sy eerste sluk vat voordat hy sy storie hervat.

“Daar is baie eensame vroue in hierdie wêreld,” gaan hy dan voort.

“Vroue wie se mans millions in die boardrooms verdien, maar nie aandag aan hulle skenk nie.

“En, nee, jy met jou vuil gedagtes, ek het nie seks met hierdie vroue nie, hulle gebruik my net vir live entertainment.”

“Live entertainment?” vra Fanie. “Hoe moet jy hierdie vroue entertain?”

“Deur vir hulle te dans, Fanie. Ek dans die sorrows en eensaamheid uit hulle lewe weg.”

Fanie sluk sy laaste dop af. “Gerald, ek wil nie snaaks wees nie, maar as jy getjwalla is, kan jy dan skaars op jou voete staan. Wat nog van dans?”

Gerald haal sy skouers op.

“As jy my nie wil glo nie, sal jy moet saamgaan. Hulle sê mos sien is glo, dan nie?”

“Wel ...”

“Kom nou, Fanie. Jy sê nou wel nie so nie, maar jy dink ek is ’n liegbek. Hier gee ek jou die kans om te sien dat wat ek sê nie ’n wolhaarstorie is nie.

“Hier is goeie geld involved, pel. Jy moet ’n draai by my huis kom maak dat jy kan sien hoeveel geskenke dié vroue my gee.”

Fanie is nog nie oortuig nie, maar dan val sy oë op Gerald se peperduur tekkies.

Gerald volg sy oë. “Sammy het vir my hierdie tekkies gekoop. Sy het gesê ek kan nie so kaalvoet wil dans nie. Ek het gaan google op een van my fone. Die goed is ’n hele paar duisend rand werd.”

Gerald haal sy beursie uit sy sak en maak dit oop.

Fanie se oë rek toe hy die velle R200-note sien.

“Ek maak sommerso ’n paar duisend rand ’n aand, pappa,” spog hy.

“Maar hierdie vroue is baie diskreet. Niemand mag van hulle dinge weet nie. Hulle is soos mense wat eendag hemel toe wil gaan, maar nie wil doodgaan nie.”

Fanie krap sy kop. “Maar Gerald, as jy dan so vol cash is, hoekom suip jy dan nog hierdie k*k?”

Fanie wys na die kannetjie OBS waarvan die gô amper uit is.

Gerald lag. “Drank is drank. Ek is nie ’n uitsoekerige mens nie.

“Hoekom moet ek nou vir my kom staan en hou wat ek nie is nie? En besides, die girls likes éérs my moves as ek ’n paar happe OBS in het.”

“Die girls?” vra Fanie nuuskierig.

“Ek noem die vroue so,” verduidelik Gerald­ geduldig. So amper asof hy met ’n kind praat.

“Daar is Sammy. Haar man is ’n bekende dokter. Dan is daar Nina, wie se man ’n CEO van ’n bankgroep is. Dis hulle twee wat my eerste genader het.

“Die ander se mans is almal dikdinge in die samelewing. Vroue van professors, politicians, regters ... You name it.”

“En hulle choose jóú terwyl daar ouens is met six-packs wat hulle halfdood gym?” vra Fanie skepties.

Gerald bars hardop uit van die lag.

“Hei, as ek by die liquor shop instap, kom ek ook uit met ’n six-pack,” grap hy. “En besides, die wêreld is aan die verander.

“Vandag se vroue wil nie deur ’n man gewine en dine wees nie, hulle het hulle eie geld.

“Hulle wil gesien wees. Hulle wil weet dat mans hulle sien vir die wonderlike wesens wat hulle is en nie die peperduur pearls en designer outfits wat hulle dra nie.”

Fanie kyk met verlangende oë na die laaste bietjie OBS in die kannetjie. Sy keel is nou so droog nadat hy na Gerald se storie geluister het.

Gerald het die meeste praatwerk gedoen, maar dit voel asof hy tot diep in sy ingewande uitgedroog is. Is Gerald besig om spek te skiet? Is die suiper van formaat hier voor hom ’n windverwaaide gigolo vir ryk, verveelde anties?

Hy wat Fanie is, weet darem nie so mooi nie. Tog, die geld in Gerald se wallet en die tekkies aan sy voete vertel ’n ander storie.

“So, is jy in? Wil jy sien of ek die waarheid praat?” onderbreek Gerald sy gedagtegang.

Fanie trek sy skouers op.

“Hoekom nie?” vra hy dan.

“Daar is tog net een way om uit te vind of jy die waarheid praat.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters