13 dae gelede
Entjie laat Jenny van der Block se pride verdamp
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Dis ’n splinternuwe lockdown-week en tyd vir ’n nuwe verhaal. Die Girls van Lockdown Avenue is ELDRIDGE­ JASON se jongste pennevrug. Geniet hoofstuk 1!

TOE sy by die hekkie inkom en die hond ewe vrolik groet, toe weet ek sy is hier om te leen ...

Nooit wou sy vir my kaarte val nie en het altyd my boulery geduck en dive. Maar nou staan sy hier, diep, diep lockdown-verleë.

Sy trippel rond en maak vir ’n vale keelskoon, maar ek maak asof my selfoon my verskriklik baie interesseer. Wat kan sy anyway maak? As jy verleë is, moet jy eenvoudig wag.

“Ek kan nie cold turkey gaan nie,” sê sy in ’n sagte stemmetjie.

Ek kyk stadig op, hopend dat my kamma geïrriteerde gesigsuitdrukking sy pose hou. “Ekskuus? Het jy iets gesê? Sorry, ek het nie eens geweet jy staan hier nie.”

’n Lae, lae hou, ek weet. Maar wat anders expect sy van my nadat sy my boul WhatsApps die laaste paar weke net geblue-tick het sonder om te respond?

Ek mag ’n man wees, maar ek het darem mos ook feelings.

Jenny van der Block mag dalk mooi wees en altyd al wat outjie is om daai oulike pinkie van haar gedraai het, maar ek laat nie meer met my feelings mors nie.

Van kleintyd af al het ek haar skooltas ná skool huis toe gedra. Op hoërskool het ek elke Maandag ná die naweek vir haar ’n tjoklit aangedra.

Tot ek agtergekom het sy share dit met ’n nuwe ou wat sy op skool date.

In matriek wou ek haar vra om my partner na die matriekafskeid te wees. Maar my hare kon mos nie spiky gemaak word nie.

Die vernedering van daai dag toe ek haar gevra het om my partner te wees, sit nog vars in my geheue.

Toe ek daar wegstap nadat sy koel en kalm gesê het sy gaan reeds saam met Curt Dohmann, het ek gehoor hoe giggel sy en haar groep ice cream-k*kkers agter my rug.

Blerrie Curt Dohmann, wat so onnooslik was dat hy met moeite tot by tien kon tel.

Curt Dohmann se enigste bate was dat kon rugby speel en soos ’n Calvin Klein-model gelyk het.

Die Dohmanns was dom, maar skatryk en dit was seker maar pappa Dohmann se pitte wat Curt deur matriek gedra het.

Hy moes daardie aand maar alleen na die matriekafskeid gaan in ’n suit wat sy ma op skuld by Markham gekoop het.

Sy arme ma het 18 maande harde bene gekou om daai suit af te betaal.

Ná matriek het hy verder gaan studeer en ná sy ma se afsterwe na sy ouerhuis teruggetrek. Danksy ’n lekker job ná graduation kon hy sy ma se huis kom restoureer.

Hy het vir sy tikkop-broer, Andy, ’n granny flat agter in die jaart gebou en ’n paar dae nadat hy in die hoofhuis ingetrek het, het hy Jenny van der Block hier verby sien model.

Sy het ná al die jare steeds in hierdie straat gebly.

Sy het hom herken en ’n stywe kopknik in sy rigting gegee. Maar aangeloop.

Steeds gedink sy is posh en dit terwyl haar enigste bron van inkomste ’n Sassa grant is vir die kind van haar wie se pa vir hom werk in Chips-land gaan soek het.

En nou, 53 dae nadat lockdown afgeskop het, staan sy dik verleë hier voor hom.

“Ek het anderdag gesien jy rook...” sê Jenny.

’n Lig gaan vir my op. Die rookgogga byt haar!

“Jaaaaa,” sê ek traag. “So nou en dan slaan ek ’n paar dampe. Een van my min plesiertjies in die lewe.”

Ek kyk haar vol in die oë. Die jong, selfvertrouelose laitie wat ek was, bestaan lankal nie meer nie.

Dit val my dadelik op dat sy veel ouer lyk as haar jare. Sy het haar try make-up vir haar trippie na my toe, maar ouderdom laat hom mos nie ’n kaart skiet nie.

“Ai, ek is nou so lus vir rook,” sê sy en fladder haar wimpers.

“Cos when people zol... they put... saliva on the pay-pa,” antwoord ek.

Jenny gaap my heel confused aan. Nie die brightste spark nie, onthou ek nou.

In gr. 4 moes ons ’n opstel skryf. Ek onthou dit baie goed. Die titel was “My Familie”.

Toe skryf Jenny: “My pa en ma is lank, maar nie te lank nie.”

Asof dit klaar nie erg genoeg was nie, het sy voortgekarring: “My kort beentjies hou van netbal.”

Hoekom het ek nie dáái dag al besef hierdie mooigesiggie en verstand is nie vrinne nie?

Dit sou my mos baie jare van gekweste feelings gespaar het.

“Het jy dan niks daar nie?” steek-steek Jenny weer voelers uit.

“Soos in wat?” hou ek my aspris dom. Ek weet goed wat sy voor skimp, maar terwyl ek hier op die stoep sit, besef ek ek het eintlik nooit vrede gemaak met die vernederings waardeur sy my jare gelede gesit het nie.

So, hoekom moet ek nice wees en haar uithelp? Wanneer is dom mense dan veronderstel om vir hul sondes te boet?

Ek maak asof ek nie sien hoe Jenny rooi in die gesig raak en ongemaklik begin rondtrippel nie.

Sy weet nie hoe om te reageer nie, besef ek maar alte goed. Sien, mense wat hul hele lewe lank met ’n goue lepeltjie ge-spoonfeed is, raak dan niks anders as ’n lepeltjie in die lewe nie.

As sy ’n rookding wil hê, sal sy my moet charm soos een van daai “Wat die roos in die tuin betref”-briewe wat ons kleintyd vir ’n crush geskryf het.

Jenny moenie dink net omdat sy lang hare en ’n mooi gesiggie het, gaan ek oopgat wees met my entjies nie.

In my mind speel daar sulke swaar, dramatiese musiek toe ek agteroor leun, die pakkie Camel uit my jean se sak uit haal en heel in slow motion ’n entjie in my mond sit.

Stadig soos ’n klong in die destydse aanpassingsklas steek ek my sigaret aan die brand en blaas aspris die rook haar kant toe.

Jenny van der Block lek oor haar droë lippe. Dit lyk asof sy enige oomblik gaan faint.

Hierdie is torture, weet ek. Iemand wat van torture wil leer, moet note vat van wat ek nou doen. My optrede sal die United Nations diep ontstel.

“En verder aan? Gaan dit goed met jou en die laitie? Wat is sy naam nou weer?” vra ek kamma vriendelik.

Jenny begin lyk of sy skeel kyk soos wat haar oë gefokus is op die ghwai in my hand.

“Tyrese,” prewel sy saggies. Ek moet glad my ore spits om te hoor wat sy sê. En toe doen ek ’n ding waaroor die Here my vir seker eendag diep gaan straf.

Ek staan traag op, vat ’n laaste skyf en trap daai lang, lang entjie onder my voet dood. En wikkel my voet nog ’n paar keer rond ook op daai entjie ...

  • Lees more verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters