22 dae gelede
Emma is angstig dat sy nie haar besoeker herken
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die Oujaarsdag-tragedie is CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk. Geniet die eerste hoofstuk!

OP DIE laaste oggend van die jaar is daar ’n ligte klop aan Emma Bonthuys se voordeur.

Toe die 48-jarige taalonderwyser oopmaak, staan ’n hemelbesem met ’n Bybel in die hand op die stoep.

Hy het ’n swart broek, wit hemp en donkerblou baadjie aan.

Hy glimlag en sy wonder of hy dalk by die verkeerde adres is.

Sy woon al amper ’n jaar hier op Avokadovlei en die meeste inwoners is aan haar bekend, maar sy ken dié man van g’n kant af nie.

Tog moet sy erken hy is vrek aantreklik.

Kyk net sy breë skouers. Sy het nog altyd ’n oog vir ’n mooi man gehad.

As sy so 20 jaar jonger was ... Sy skat hom om en by 30 jaar oud.

“Môre, Suster,” groet hy vriendelik.

Hoor net sy diep bariton-stem. Dis mos genoeg om enige vrou se knieë lam te maak.

Onseker groet Emma terug.

“Wie is jy nou weer?” vra sy soos iemand wat die gesig onthou, maar nie seker is van die naam nie.

“Genade, Suster, hoe lyk dit dan daar is vanoggend fout met jou oë? Dis ek, diaken Kiewiets. Almal hier rond ken my goed.”

“Jammer, Diaken. Sonder my bril is ek nie myself nie. Kom gerus in.”

Met ’n skok dink Emma aan die artikel in die vrouetydskrif van twee weke gelede.

Daarin staan een van die tekens van Alzheimer se siekte is om bekende mense as vreemdelinge aan te sien.

Die gedagte laat haar sidder. Wat is dit met haar? Sy was nog nooit vergeetagtig nie. Hoekom kan sy dan nie die diaken onthou nie?

Toe hy binne is, vra sy: “Iets te drinke?”

“Rooibostee sal lekker wees, dankie. Net een suiker. En as daar dalk ’n beskuitjie is ...”

Sy skakel die ketel aan en vererg haar byna vir die man se voorbarigheid.

Hy sal hom wat verbeel.

“Dominee het my gestuur om ’n bietjie huisbesoek te kom doen.

“Net kom hoor hoe dit met almal gaan. Hy het vandag ander verpligtinge.”

“Met my gaan dit goed,” sê Emma.

“Ek is gesond en uitgespaar deur God se genade. Daar is niks om oor te kla nie.”

“Ek is bly om dit te hoor, Suster.”

“Diaken, ek is jammer, maar hier is geen beskuitjies in my kaste nie,” sê Emma toe sy die tee op die koffietafel neersit.”

“Ek gaan eers die naweek weer winkels toe.”

“Dis in die haak, Suster. Moenie jou kop daaroor breek nie.

“Ek sal later by Bianca, my verloofde, kry.

“Sy bak mos van laerskool af haar eie beskuit.

“Haar ma het haar mooi geleer. Haar ouers is so trots op haar.

“Bianca se hande staan vir niks verkeerd nie.

“Ek is gelukkig om haar in my lewe te hê.”

Emma frons bekommerd.

Wat is fout met haar geheue? Bianca is ook ’n naam wat nie ’n klokkie laat lui nie.

“Ons albei sien uit na die groot dag.

“Ek kan nie wag om die res van my lewe met Bianca te wees nie.”

Sy gesig helder op elke keer wanneer hy Bianca se naam noem, merk Emma op.

Dit is asof Bianca die sonskyn in sy lewe is. Hy moet baie lief wees vir haar.

Aan sy praat lei sy af hulle gaan ’n gelukkige egpaar wees.

“Bianca gaan sprokiesmooi lyk in haar trourok.

“Ek weet dit sommer.

“Ek het klaar haar ouers belowe ek sal nooit hulle dogter se hart breek nie. Sy is die enigste vrou vir my.”

Hoe meer diaken Kiewiets van Bianca praat, hoe banger raak Emma. Bang dat Alzheimer se siekte klaar kop uitgesteek het en sy niks daaraan kan doen nie.

Wie is Bianca? Hoe oud is sy? Hoekom is daar dan nie eens ’n prentjie van die vrou in haar kop nie?

Sy moet ’n afspraak met haar dokter maak.

Miskien is daar nog ’n tikkie hoop.

Sy is dan nog nie eens 50 nie.

“Wat is jou planne vir die dag, diaken Kiewiets?

“Gaan jy iewers braai?”

Emma vra dit net om sy aandag weg van Bianca te kry, want vandat hy hier aangekom het, is dit ál waaroor hy praat.

Die man het sonder twyfel die skoot hoog deur.

“Nee, my suster, daar gaan nie tyd wees vir braai nie.

“Ek moet my troupak gaan aanpas. Die groot dag kom nou vinnig nader.”

Emma verlang sommer na haar troudag.

Dit was die mooiste dag van haar lewe.

Daar was baie gaste en almal was so gelukkig.

Sy het gedink sy en Gerbrand gaan saam oud word.

Hy was ’n ware gentleman.

Of dis wat hy haar laat glo het.

Hulle was skaars twee jaar getroud, toe begin sy oë dwaal.

Hy is die een wat ’n egskeiding voorgestel het en sy het hom sy vryheid gegee.

Vir ’n breukdeel van ’n sekonde draai Emma haar rug op diaken Kiewiets.

Toe sy weer kyk, is hy skoonveld. Sy begryp dit nie.

Wat kon van hom geword het? Hy was dan ’n oomblik gelede nog hier.

Haar oog val op die koffietafel. Sy skud haar kop.

Hoekom het hy tee gevra as hy niks daarvan gedrink het nie?

Emma kyk deur die venster, maar daar is geen teken van haar besoeker nie.

Sy hardloop by die deur uit na Wilmien, wat langs haar bly.

“Wilmien, het jy die man gesien wat nou net by my tuinhekkie uit is?”vra sy uitasem.

Wilmien kyk haar snaaks aan.

“Ek het niemand gesien nie, Emma. Is alles reg? Jy lyk ’n bietjie bleek.”

“Ag, Wilmien, ek het nie tyd vir grappies nie.

“Is diaken Kiewiets regtig nie hier by jou verby nie?”

Emma sien hoe Wilmien se oë vernou. “Wie, Emma?”

“Diaken Kiewiets. Hy was nou net by my op huisbesoek.

“Hy sê Dominee het hom gestuur. Ek weet nie of ek iets kwytgeraak het wat hom ontstel het nie, maar toe ek weer sien, is hy weg.

“Hy het nie eens gegroet nie.”

Wilmien trek Emma aan die arm by haar huis in.

“Wat jy nou nodig het, vriendin, is ’n beker suikerwater.

“Dan gaan sit jy op ’n stoel. Daar’s iets wat jy moet weet.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters