21 dae gelede
Emma hoor wie haar besoeker is, wat sy storie is
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Die Oujaarsdag-tragedie is CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk. Dit gaan oor Emma Bonthuys wat besoek kry van diaken Kiewiets, wat baie praat oor sy verloofde, Bianca. Iets is nie pluis nie en die volgende oomblik verdwyn hy in die niet. Sy vra haar buurvrou of sy die man gesien het. Geniet die slothoofstuk!

SOOS ’n laerskoolkind in afwagting op ’n slaaptydstorie kyk Emma na Wilmien.

Wat is dit wat haar buurvrou haar wil vertel? Het dit iets met diaken Kiewiets te doen?

Daar is ’n ernstige kyk in Wilmien se oë toe sy langs Emma gaan sit.

“Wat ek jou nou gaan vertel, kan soos iets klink wat ek uit my duim suig, maar ek kan jou verseker dis die reine waarheid. Jy is vry om my enige tyd te onderbreek as jy iets wil vra.”

Emma luister met belangstelling. Sy val Wilmien nie een keer in die rede nie. Ná ’n ruk sug sy verlig toe sy besef haar ondervinding van vroeër het niks met Alzheimer se siekte te doen gehad nie.

Maar as sy eerlik moet wees, sy het haar boeglam geskrik.

“Bianca het op Oujaarsdag verdwyn,” gaan Wilmien voort. “Dit was ’n bietjie meer as ’n week voordat sy en diaken Kiewiets sou trou. Alles was klaar gereël.”

Wilmien neem ’n slukkie water.

“Tot vandag weet niemand wat van Bianca geword het nie. Die polisie-ondersoek het niks opge­lewer nie. Bianca se verdwyning bly vir ons almal ’n raaisel.”

“En diaken Kiewiets,” wil Emma weet, “hoe het hy dit hanteer?”

Wilmien is na aan trane toe sy verder vertel.

“Diaken Kiewiets was verpletter. Hy kon nie glo die liefde van sy lewe was net weg nie.

“Oornag het hy in ’n introvert verander. Hy het hom in sy kamer toegesluit.

“Elke dag het hy voor die venster gesit en in die pad af gestaar.

“Ek dink hy het nooit ophou glo dat Bianca weer eendag haar verskyning sou maak nie. Maar sy het nie.”

“Foei tog, Wilmien, dit moes verskriklik gewees het. Ek kan my so iets nie indink nie.”

“Diaken Kiewiets het hom doodgetreur, Emma. Hy is graf toe sonder dat hy geweet het wat van Bianca geword het.”

“En dis seker die rede hoekom sy siel nie kan rus nie, nè? Omdat hy steeds na Bianca verlang.”

Wilmien knik instemmend. “Dis waarom ons hier in Avokadovlei al 15 jaar nie meer op Oujaarsdag braai nie.

“Dis uit respek vir diaken Kiewiets en Bianca.

“Ons vind dit nie meer vreemd as hy uit die bloute by iemand se huis opdaag en sê hy kom huisbesoek doen nie, want dit was iets waarvoor hy lief was. Om mense moed in te praat met wie dit nie so goed gaan nie.

“En was diaken Kiewiets gaande oor rooibostee en Ouma-beskuit?”

“Hy kon nooit genoeg daarvan kry nie.”

’n Stilte volg. “Wat kon dan van Bianca geword het, Wilmien?”

“Ek wens ek kon jou antwoord.

“Daar was gerugte van ’n man in ’n swart bussie met donker ruite wat plattelandse dorpies aangedoen en mooi vroue ontvoer het om hulle as seksslawe aan buitelanders te verkoop.”

“Dink jy ...?” Emma laat die vraag in die lug hang.

“Ek weet nie wat om te dink nie. Hier loop steeds ’n storie dat ’n vrou se gehuil sommige aande teen middernag gehoor kan word by die hoë bome naby die ou begraafplaas.

“Van die skindertonge glo vas dis Bianca.

“Hulle sê iemand het haar vermoor en daar gaan begrawe.”

“Glo jy dit?” vra Emma.

“Nee wat, dis sommer net praatjies. Baie aande lê en lees ek tot laat, maar ek het dit nog nooit gehoor nie.

“Mense op die platteland is mos maar so: As niks interessants gebeur nie, dink hulle iets uit.”

Die res van die dag kan Emma diaken Kiewiets nie uit haar gedagtes kry nie.

Dat die arme man se siel so swerf, gaan haar verstand te bowe.

Wanneer gaan hy tot rus kom?

Sy kan nie glo sy was vandag van aangesig tot aangesig met sy gees nie.

Met diaken Kiewiets in haar gedagtes gaan Emma daardie Oujaarsaand bed toe.

Sy is nie iemand wat makietie hou en wakker bly tot die nuwe jaar aanbreek nie. Sy raak aan die slaap die oomblik toe haar kop op die kussing beland.

Iewers in die nag skrik Emma wakker van die wind wat soos ’n besetene te kere gaan. Sy voel hoe haar kamervenster ruk.

Dis vreemd, want Wilmien het haar vertel in die somer waai die wind nooit sterk hier in Avokadovlei nie.

Emma sit regop in haar bed.

Haar hart begin vinniger klop. Sy snak na asem en kyk angstig rond.

Dit voel meteens of iemand hier saam met haar in die vertrek is.

Sy weet dit is nie die wind of sommer net haar verbeelding nie.

“Diaken Kiewiets,” fluister Emma­ bewerig.

“As dit jy is, los my net uit. Ek smeek jou. Ek het niks verkeerds gedoen nie.”

Dan hoor sy nog ’n geluid. Dit klink soos ’n vrou wat huil.

Eers sag, maar later so hard dat sy haar ore toedruk.

Die gehuil is so erg dat dit voel asof sy enige oomblik van haar kop af gaan raak.

Sy wil opspring, die gordyn oopmaak en deur die venster loer om te kyk of sy die huilende vrou gewaar, maar haar bene wil nie beweeg nie.

Op die punt van haar bed sien sy iemand kop onderstebo sit. Sy is nie seker of dit ’n man of ’n vrou is nie.

Haar keel trek toe. Sy kan nie onthou of sy al ooit vantevore so bang was nie. Sy steek haar hand uit en slaag tog daarin om die bedlampie aan te skakel.

Die wind het skielik ophou waai. Die gehuil is ook stil.

Hier is niemand saam met haar in die kamer nie. Tog is sy seker sy het ’n oomblik gelede iemand gewaar.

Iewers hoor sy ’n kerkklok lui en sy besef dis die begin van ’n nuwe jaar.

Emma kan nie anders nie as om te wonder of diaken Kiewiets rus vir sy siel gaan kry en of hy aan die einde van 2019 weer kom huisbesoek doen.

Toe Emma vir Wilmien van haar ondervinding vertel, antwoord haar buurvrou geskok: “Ek is jammer, Emma.

“Ek het vergeet om jou te sê jou huis het lank terug aan Bianca se ouers behoort.

“Dit lyk nou asof dit nie net diaken Kiewiets se siel is nie, maar ook Bianca s’n wat van tyd tot tyd op die aarde dwaal.

“Ek wens daar was iets wat ’n mens kon doen om die paartjie te laat rus.”

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters