27 dae gelede
Elvis weet hy moet nou kophou as hy vandag wil bly leef
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons begin vandag met ’n splinternuwe vervolgverhaal. CHRISTO MEYER se jongste pennevrug is Stemmetjies. Geniet hoofstuk 1!

‘DIS amper sulke tyd. Kry jou solank gereed.”

Elvis skrik. Hy vlieg uit die rusbank op en haas hom kombuis toe waar hy ’n skerp mes uit een van die laaie pluk.

Al is dit nie so doeltreffend soos ’n skietding nie, is dit die naaste wapen tot sy beskikking.

Sy nine mil lê in ’n kas in die kamer waar hy slaap.

Hy het dit daar gelos omdat hy geen besoeker te wagte was nie. En omdat hy nie gesteur wou word terwyl hy sy dwelms gebruik nie.

Onseker kyk Elvis rond. Hy lek oor sy lippe, sy oë groot en wild. Hy haal hard asem.

Hy weet hy moet kophou as hy wil bly leef. Konsentrasie is nou belangrik.

Waar het die stem vandaan gekom? Hy sien dan niemand nie.

Elvis maak sy hart sterk, slag­gereed vir aksie.

Oor die algemeen het hy nie ’n bang haar op sy kop nie.

Hy is een van sy master se beste manne.

Hy is iemand op wie daar altyd staatgemaak kan word, maar as daar een ding is wat hy haat, is dit onaangename verrassings.

Hy hou daarvan om voorbereid te wees.

Nogtans gaan hy nie toelaat dat ’n skurk hom in sy master se huis oorval nie.

Sy master het nie verniet gesê hy moet agterbly en die huis oppas nie.

Gewoonlik is Elvis by wanneer transito- en ander rooftogte uitgevoer word, maar hierdie keer het master Adams anders besluit.

“Elvis, ek sit my trust in jou om mooi na my joint te kyk. Moenie my disappoint nie.”

“Hoe lank gaan Master weg wees?” wou Elvis weet.

“Moeilik om te sê. Miskien ’n week, miskien twee, dalk drie.

“Ons gaan ’n bietjie in Jozi toeslaan. Ek hoor die ding ruk daar.”

Elvis wil in sy master se goeie boekies bly, anders word sy lyk ook iewers in ’n vlak graf gevind.

Maak nie saak hoe lojaal jy aan master Adams is nie, wanneer jy hom teleurstel, maak hy ’n plan met jou.

Hy onthou wat met Joker gebeur het.

Waarom hy so ’n bynaam gehad het, weet Elvis tot vandag toe nie. Joker het nooit gesmile nie.

Joker was ’n laitie toe sy ouers wreed voor hom vermoor is.

Die moordenaars het maskers gedra. So, hy het nooit hulle gesigte gesien nie.

Joker het die skool op 15 verlaat en by ’n bende aangesluit.

Hy het oral navraag gedoen oor sy ouers se moordenaars, maar het niks uitgevind nie.

Dit was totdat iemand een aand in sy dronkenskap sy bek verbygepraat het.

Joker het vir niemand iets gesê nie. Hy het gewag tot sy ouers se moordenaars saam in een huis was voordat hy die gebou aan die brand gesteek het.

Joker het niks oorgekom nie omdat hy minderjarig was en dis hoe master Adams van hom te hore gekom het.

Master Adams het Joker as ’n hit man begin gebruik.

Joker het die haat in sy binneste op sy slagoffers uitgehaal.

Hy en master Adams was een aand in ’n hewige rusie betrokke.

Dit het oor geld gegaan. Joker was nie tevrede met sy betaling nie en het gedreig om master Adams se vuil wasgoed in die openbaar op te hang.

Dit was sy grootste fout. Master Adams laat nie met hom mors nie.

Hy het baie vyande, soos ander bende- en dwelmbase wat jaloers op hom is, maar hy laat niks en niemand toe om in sy pad te staan as hy ’n plan wil uitvoer nie.

Daardie aand was die laaste dat Elvis vir Joker lewend gesien het.

’n Groepie seuns wat ’n rond­loperhond met klippe verjaag het, het in ’n veld op Joker se lyk afgekom.

Hulle het so groot geskrik dat almal berading moes ontvang.

Nie net was Joker se kaal bolyf vol meswonde nie, hy is ook drie keer op ’n kort afstand in die kop geskiet.

Elvis sal enige iets doen om master Adams se eiendom te beskerm.

Master Adams was daar vir hom toe sy eie familielede hulle rug op hom gedraai het.

Met elke greintjie krag in sy lyf sal hy terugbaklei.

Hoe het die persoon in elk val so stil ingekom?

“Wie is daar?” roep Elvis uit. “Wat wil jy hê?”

Sy oë dwaal heen en weer, maar steeds gewaar hy niemand nie.

Dis snaaks, dink Elvis. Hoekom vat die skurk so lank om toe te slaan?

Hoekom is hy nou skielik stil? En wat het hy bedoel met: “Dis amper sulke tyd?”

Was dit dalk een of ander kodewoord?

“Is jy mal?” hoor Elvis dieselfde stem sê. “Jy weet waarvan ek praat.

“Moenie vir jou kom staan en stupid hou nie.”

Elvis laat sak die mes. Die waarheid sink stadig in.

Hy uiter ’n sug van verligting toe hy ná ’n rukkie besef: Die stemmetjie is in sy kop.

Hy glimlag. Hoe kan hy so onnosel wees?

Hy sit die mes terug in die laai.

Dan begin hy hardop giggel. As hier nou iemand saam met hom in die vertrek was, sou daai een dalk gedink het Elvis het nie al sy varkies op hok nie.

Maar hy is min gespin.

Twee weke gelede het dieselfde stemmetjie met Elvis gepraat: “Daar is ’n klomp nuwe hoere in Voortrekkerweg. Raak ontslae van hulle.

“Wag vir die regte oomblik voordat jy toeslaan.”

As die stemmetjies in sy kop met hom praat, luister hy altyd.

Die poeier wat hy ’n oomblik gelede gesnuif het, laat hom voel asof hy iewers tussen hemel en aarde sweef.

Dis ’n gevoel wat hy nie in woorde kan beskryf nie. ’n Gevoel wat hy wens vir ewig kan aanhou.

Hy sak terug in sy sitplek. Toe staan hy op en gaan maak ’n draai in die badkamer.

Tien minute later staan Elvis op en loop na buite.

Daar is ’n onrustigheid in hom wat maar net nie kan stil raak nie.

Hy gaan klim in ’n blink Mercedes-Benz. Dis die een wat hulle ’n maand terug in Kuilsrivier gekaap het.

Die nommerplate is vervals en die oorspronklike blou kleur is na grys verander.

Elvis kan nie glo hy het oomblikke gelede gedink hy het met ’n indringer te doen nie.

Watter vreemdeling sal dit hier waag?

Die elektriese heining sal enige iemand twee keer laat dink.

Dan is daar boonop twee pit bulls wat skrik vir niks.

Master Adams is nie iemand wat kanse vat nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters