23 dae gelede
Elvis sweef weer, wag op nog bevele van stemmetjies
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die bloeddorstige Elvis is ’n baie bedrywige man. CHRISTO MEYER se jongste pennevrug heet Stemmetjies. Geniet die slothoofstuk.

ELVIS lees nooit meer koerant nie.

Hy het meer as een keer al gesê hy sal nooit weer sy geld op liegstories mors nie.

’n Oom na wie hy van kleins af opgekyk het, is een middag uit die bloute by sy huis in hegtenis geneem.

Een van sy vroulike kollegas het hom van seksuele teistering beskuldig en die koerante het in detail daaroor berig.

Toe die waarheid agterna uitkom, het die media nie eens verskoning gevra omdat hulle sy oom se naam so deur die modder gesleep het nie.

Iemand in dieselfde maatskappy het toe heeltyd die kollega betaal om vals klagtes teen sy oom aanhangig te maak. Dit alles om te verhoed dat sy oom tot ’n hoër pos bevorder word.

Sedertdien glo Elvis alle koerantberigte word uit die duim gesuig en is nie die papier werd waarop dit gedruk word nie.

Hoe harder jy probeer om hom anders te oortuig, hoe harder sal hy jou in jou gesig uitlag.

Hy het geen ooghare vir die media nie.

As Elvis Johnson wel ’n ywerige koerantleser was, sou hy vroeg­oggend al gesien het Sandra Loeries se moord is groot nuus.

Haar gesig verskyn in elke dagblad in die Wes Kaap.

Hy dra ook nie kennis van die ooggetuie wat na vore getree en vertel het sy het Sandra die aand van haar dood in ’n grys Mercedes-Benz sien klim nie.

Dit sou hom meer op sy hoede gemaak het, veral omdat hy onder die indruk is niemand het die vermoorde vrou langs hom sien inklim nie.

Elvis klim met ’n hengse kopseer uit die bed.

Hy het gisteraand weer lank wakker gelê en toe besluit om brandewyn as ’n slaapmiddel te gebruik.

Dit het gehelp, al het dit ’n hele ruk gevat vir Klaas Vakie om te kom inloer.

Sleepvoet loop hy badkamer toe, trek sy klere uit en draai die stort se koue kraan oop.

Hy sluit sy oë terwyl die water oor sy lyf spoel.

Elvis wil vandag iewers heengaan, maar hy weet master Adams gaan ’n aar bars as hulle hier kom en hy is weg.

Master Adams betaal hom om die huis op te pas en daar word van hom verwag om 24/7 op die perseel te wees.

Dis hoekom master Adams seker gemaak het hier is genoeg van alles, dwelms ingesluit.

Toe Elvis uit die stort kom, drink hy ’n liter yswater.

Daarna maak hy vir hom brekfis met baie sout en peper op.

Hy begin beter voel en besluit om takies in die tuin en rondom die huis te verrig.

Teen die aand se kant pak ’n dwelmlus hom beet.

Hy gaan haal sy pakkie heroïen uit die kas, gaan sit by die kombuistafel en begin stadig daaraan snuif.

Sy oë traan liggies, maar kort voor lank is dit asof hy sweef.

Hy staan op en sit musiek aan. The Best of UB40 – sy gunsteling.

“Many rivers to cross,” probeer hy saamsing.

Dis erg vals, want anders as sy Presley-naamgenoot kon Elvis nog nooit ’n noot hou nie.

Hy gooi sy arms in die lug en maak rukkerige dansbewegings.

Dan, uit die bloute, hoor hy twee stemmetjies gelyk sê: “Dis tyd om ’n ent te gaan ry.”

Elvis hou op dans en skakel die musiek af.

Hy gaan sit op die rusbank, in afwagting op nog opdragte van die stemmetjies.

As die stemmetjies sê hy moet spring, vra hy gewoonlik maar hoe hoog.

“Waarvoor wag jy nog?” vra die stemmetjies. “Dis tyd om in die pad te val.”

Elvis vlieg op, gryp die karsleutels en gaan klim in die gekaapte Mercedes-Benz met die vervalste nommerplate.

Hy trek weg in die rigting van Goodwood.

Hy sien verskeie vroue van die nag, maar hou nie stil nie.

Die stemmetjies in sy kop moet eers die opdrag gee. Eers dan sal hy toeslaan.

In Goodwood hou hy by ’n garage stil om petrol in te gooi en sigarette te koop.

Die petroljoggie is nie juis vriendelik nie, maar dit pas hom.

Hy sien nie kans vir onnodige geselskap nie.

Net toe hy weer in die pad wil val, gewaar hy vier skraps geklede vroue voor sy kar.

“Wat de donner?” vloek hy na binne.

“Dit was jy!” beduie die een. “Jy is die een wat vir Sandy opgelaai het. So, jy moet weet wie haar doodgemaak het.”

“Waarvan praat jy?” hou Elvis hom dom. “Ek ken nie ’n Sandy nie en ek weet niks van ’n oplaaiery nie.”

“Jy lieg! Jy dink seker ek het jou nie gesien nie.

“Ek onthou die registrasienommer. Jy weet seker die polisie is hard op soek na jou.”

Dit was die verkeerde ding om te sê, want Elvis trek weg asof die duiwel agter hom staan.

Hy jaag in Kensington se rigting.

Hy moet wegkom uit die north­ern suburbs en by vriende in Vishoek of Simonstad gaan skuiling soek.

Hy sal agterna aan master Adams verduidelik wat aangaan.

Verdomp.

Hy moes nooit na die stemmetjies in sy kop geluister het nie.

Daai Sandy-vrou kon nog geleef het. Hoe kon hy so onnosel wees?

“Draai om,” praat die stemmetjies in sy kop weer.

“Draai dadelik om.”

Elvis verminder spoed. Hy huiwer. Sy hande sweet op die stuurwiel.

Hy het iemand vermoor. Dis iets wat vir altyd by hom gaan spook. Wat staan hom te doen?DIS ’n maand later. Derick en Maria Loeries verlaat die Kaapse hooggeregshof hand aan hand.

Albei is verheug die moordsaak is verby. Elvis Johnson het skuldig gepleit. Hy het nie die hof se tyd gemors nie.

Hy het net een aand by die naaste polisiestasie aangekom en hom oorgegee.

Die regter het hom tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Terwyl die egpaar op hulle huurmotor wag, sak Derick af: “Ek is net bly alles is agter die rug. Nou kan ons uiteindelik vorentoe kyk.”

“Ek stem saam,” beaam sy vrou. “Maar wat ek seker nooit sal verstaan nie, is hoekom daardie man ons dogter vermoor het. Dit maak nie vir my sin nie.

“Hy sê hy was nooit van plan om moord te pleeg nie, maar dat die stemmetjies in sy kop hom beveel het om dit te doen.

“Ek sukkel om daarmee vrede te maak.”

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters