4 maande gelede
Elvis sien baie uit na ’n aand wat hy altyd gaan onthou
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Elvis is alleen terwyl hy sy baas, master Adams, se plek oppas. Elvis hoor iemand praat en maak gereed dat dié mens hom gaan aanval. Hy weet hy moet nou kophou as hy vandag wil oorleef. Maar toe besef hy die stem is in sy kop. Geniet nou hoofstuk 2 van CHRISTO MEYER se jongste pennevrug, Stemmetjies.

IN DIE motor lig Elvis sy kop en hou homself aandagtig in die truspieëltjie dop.

Tevrede met sy voorkoms sluit hy sy oë ’n paar sekondes en haal diep asem.

Dan knip hy die sitplekgordel vas, draai die sleutel en trek opgewonde weg.

Hierdie gaan ’n aand wees om vir altyd te onthou. Hy sien sommer uit daarna.

Hy het nie verniet moeite gedoen om hom te vermom nie. Sy poging het vrugte afgewerp.

Met sy swart beanie, donkerbril en vals baard glo hy niemand sal hom sommer herken nie.

Hy wil nie môre in die straat loop en hoor dis hy wat sus en so, ’n prostituut, om die lewe gebring het nie.

Vanaand kan hy sy plan met ’n geruste hart uitvoer. Agterna sal hy nie eens skuldig voel nie.

Solank hy net die bevele van die stemme in sy kop gehoorsaam.

Elvis kom stadig in Voortrekkerweg afgery.

Dis mistig, maar nie so erg dat hy nie voor hom kan sien nie.

Persoonlik het Elvis niks teen prostitute nie.

Hy het al ’n keer of wat van hulle dienste gebruik gemaak, maar hy hou nie van die ouer soort nie.

Om te sê hy tree haatdraend teenoor hulle op is dalk ’n bietjie te kras gestel. Die ouer soort val maar net nie in sy smaak nie.

Hy groet hulle, maar dit is waar dit eindig. Hy knoop nooit ’n geselsie aan nie.

Hulle het te veel ervaring na sy sin. Hulle is te straatwys en vol van hulleself, te slinks en uitge­slape. In sy oë is hulle nie die moeite werd nie.

Hy verkies die jong en aantrek­like soort. Die soort met wie hy kan maak net wat hy wil. Die niksvermoedende soort, wat enige iets vir geld doen.

Geld is tog al waaroor dit vir hulle gaan.

Hy sien haar op ’n afstand. Sy is skraps geklee met ’n handsak oor haar skouer. Hy wonder of sy koud kry.

Hy ry nader, hou stil en draai die ruit effens af. Die aandwind waai liggies teen sy gesig.

Haastig trippel sy nader. Sy gee ’n breë glimlag toe sy voor hom staan.

“Glad nie sleg nie,” sak hy af nadat hy haar van kop tot toon beskou het. “My kind of girl, klim in.”

Sy laat haar nie twee keer nooi nie.

Soos ’n gentleman maak hy die deur vir haar oop en sy skuif langs hom in.

“My naam is Sandy” sê sy sonder dat hy gevra het. En joune?”

“Slagter,” lieg hy.

“Jou ma jou so gedoop?”

“Nee, my vriende.”

“Ek gaan liewer nie vra hoekom nie.”

“Moenie vra nie, want ek gaan jou nie sê nie.”

“Fine. Wat het dit in elk geval met my te doen?”

“Hoeveel gaan dit kos?” kom Elvis tot die punt.

“Tweehonderd-en-vyftig. Betaal maar voor die tyd. Ek het al te veel ...”

“Dis reg so,” val hy haar in die rede. Hy krap in sy broeksak en haal drie R100-note uit sy beursie.

“Hier, hou die kleingeld. Sê my, waar doen jy dit gewoonlik?”

“Twee blokke hiervandaan is ’n kerkgebou. Dis donker in die parkeergebied. Niemand behoort ons te pla nie.”

“Op heilige grond, nogal. Jy is waaghalsig.”

Sy gee ’n laggie. “Ag, ek is nie vol nonsens nie. Enige plek is goed genoeg.”

Hy kry sy motor aan die gang en trek weg.

“Jou aksent – ek hoop nie jy gee om as ek vra nie – van waar is jy?”

“Namakwaland. Ons mense kry swaar en werk is skaars.”

“Hoe oud is jy?”

“Twintig.”

In ’n donker systraat draai hy links en ry tot in ’n kerk se parkeergebied.

“Weet jou ma-hulle wat jy doen?” vra Elvis nadat hy die motor tot stilstand bring.

“Nooit! Hulle mag nooit uitvind nie. My pa is ’n ouderling. Hulle dink ek werk in ’n re­staurant.

“Ek is al twee jaar gelede van die huis af weg.

“Elke Desember gaan ek kuier en dan gaan ek kerk toe om vergifnis te vra. Januarie is ek maar net weer terug.”

“Is jy nie bang jy kom iets oor nie?”

“Aan die begin was ek skrikkerig, maar ’n mens raak gewoond daaraan.

“Ek doen natuurlik nie besigheid sonder kondome nie.”

“Natuurlik,” sê Elvis. “Die wêreld is vol siektes en jy is nog jonk.”

“Ja, ek wil graag eendag trou en kinders hê.

“My ouers is trots op my. Hulle dink ek is nog ’n maagd.

“Ek weet nie hoe Mamma-hulle sal reageer as hulle uitvind wat ek vir ’n inkomste doen nie. Maar gaan jy my nou heeltyd uitvra of –”

“Ek sê jou wat,” val hy haar in die rede.

“Ek gee jou nog R300, dan gaan staan ons op ’n ander plek. Ek is skrikkerig vir kerke. My ma was bekeer.”

“Reg so,” sak sy af. “Nes jy dit verkies.

Elvis ry met haar na ’n verlate gebou in Epping Industria.

“Trek jou uit,” beveel hy toe hy stilhou.

“Is dit regtig nodig?” wil sy weet. “Gewoonlik lig ek net my skirt op en sit op ’n kliënt.”

“Maak soos ek sê of jy kry f*kk*l geld.”

“Oukei, oukei, dis nie nodig om so excited te raak nie.”

Sy begin haar bloes se knopies losmaak. Maar dan vaar iets soos ’n duiwel in Elvis.

Met geweld ruk hy Sandy se klere van haar lyf af.

Hy gooi dit met haar handsak wild op die agterste sitplek.

“Kalmeer,” probeer sy hom stop. “Wat maak jy met my klere?”

Hy antwoord haar nie, want sy aandag is by die stemmetjie in sy kop: “Moenie langer tyd mors nie. Doen dit nou.”

Elvis kry haar in ’n greep beet.

Sy probeer haar loswikkel, maar sy staan nie ’n kans teen hom nie.

Hy is te sterk. Hy wurg en wurg en wurg haar.

Sy probeer iets sê, maar geen klank kom oor haar lippe nie.

Toe haar lewelose liggaam slap word, gooi hy haar by die kar uit en ry fluit-fluit weg.

Langs die pad raak hy van haar besittings ontslae.

Hy maak seker hy steek die geld wat hy haar gegee het, terug in sy sak.

Hy kan nie wag om by master Adams se huis te kom nie. Hy smag na nog dwelms.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters