4 maande gelede
Elvis dink dis mos nie maklik om ’n prossie te resist
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Elvis is op ’n natural én chemical high nadat hy die prossie die ewigheid in gestuur het. Hy is sommer lus om weer Voortrekkerweg toe te gaan. Hy besluit om eerder maar te wag totdat die stemmetjies weer ’n opdrag gee – dis maar veiliger so. Geniet nou hoofstuk 3 van CHRISTO MEYER se jongste pennevrug, Stemmetjies.

ELVIS kan nie slaap nie.Hy lê uitgestrek op die dubbelbed en staar nikssiende na die plafon.

Die adrenalien pomp wild en warm deur sy are. Hy loop oor van energie.

Die uitwerking van die poeier wat hy ’n rukkie gelede gesnuif het, laat hom voel asof hy ’n ander planeet bewandel.

Iewers tussen die sterre en die wolke. Nie tussen al die gewoel hier op moeder aarde nie.

Dis ’n asemrowende gevoel.

Elvis is baie dankbaar dat master Adams genoeg dwelms vir hom gelos het. Master Adams het seker geweet hy gaan taamlik eensaam wees.

En master Adams is deeglik bewus daarvan dat daar nie veel is wat hy met Elvis kan uitrig as hy nie high is nie.

As Elvis high is, is hy ’n gevaar­like man. Dan kom die duiwel in hom na vore.

Hy is nie lief vir lees of televisie kyk nie, behalwe as daar rugby uitgesaai word.

Hy het Saterdag se rugbytoets met belangstelling gevolg.

Soos die Bokke teen die Wallabies gespeel het, glo hy daar is hoop vir later vanjaar se Wêreld­beker in Japan. Die ouens gaan nie slaansakke wees soos die nasionale krieketspan nie.

Elvis is een van master Adams se lojaalste manne. Master Adams het volle vertroue in hom. Hulle kom ’n ver pad saam.

Hy weet al, as master Adams in ’n slegte bui is, moet almal uit sy pad bly.

Elvis se gedagtes gooi wye draaie. Hy weet hy gaan nog lank wakker lê.

Hy moet iets kry wat hom kan besig hou. Moet hy opstaan en van nog ’n prostituut ontslae gaan raak? wonder hy.

Dis glad nie ’n slegte idee nie. Die aand is nog jonk.

Daar kan nog baie gebeur. Eintlik is hy in die bui om die hele Voortrekkerweg se hoere uit die weg te ruim.

Daar moet tog ander maniere wees hoe hulle geld kan verdien.

Besef die prostitute nie hoeveel huwelike hulle opbreek nie? Hulle verlei die mans skaamteloos sonder om eens aan die gevolge te dink.

Dis nie maklik vir ’n man om verby te ry as hy ’n halfkaal vrou uitlokkend op ’n straathoek sien staan nie. Hy weet hy het ’n vrou en kinders by die huis, maar kan nie altyd die versoeking weerstaan nie.

As daar nou een persoon is wat weet hoe om met ’n man se kop te smokkel, is dit ’n prostituut. Al het ’n man nie genoeg geld in sy beursie nie, sal hy vinnig ’n plan maak.

Hy sal hom na die naaste ATM haas om nog kontant te trek, net om sy wellus te voed.

Is dit wat hy moet doen? Weer ’n jong prostituut se lewe gaan beëindig?

Nee, hy moet liewer wag vir die stemmetjies in sy kop. Sonder hulle opdrag kan dinge dalk skeefloop.

Die stemmetjies weet presies waar en wanneer hy moet toeslaan.

Hy het pas sy eerste moord gepleeg en hy is amper seker dit was nie die laaste nie.

Gelukkig was daar darem nie bloed nie. Hy haat bloed.

Bloed herinner hom aan ’n voorval uit sy kinderdae. Hy was net nege, maar meer as 20 jaar later onthou hy dit steeds.

Hy en sy neef Justin was op pad huis toe van die skool af. Dit was ’n Woensdagmiddag.

Vanaf iewers het skote skielik begin klap.

Hy was bewus van die bende­geweld in die omgewing, maar het nooit gedink hy of iemand na aan hom sal in die kruisvuur beland nie.

Uit watter rigting die dwaalkoeël gekom het, weet hy nie. Justin het gegil en hy het dadelik geweet iets is verkeerd.

Die volgende oomblik het daar net bloed uit ’n gapende wond in Justin se kop gestroom. Justin het bly lê.

Elvis was so geskok, hy kon nie beweeg nie.

Teen die tyd dat die polisie en ambulans opgedaag het, was Justin reeds dood.

Van daardie dag af kry Elvis ’n naar kol op sy maag as hy met bloed te doen kry.

Hy het in sy lewe al baie verkeerde goed aangevang, soos winkels, banke en geldwaens beroof.

Hy was ook al by die opblaas van ’n ATM betrokke. Maar moord was darem nog nooit deel van sy planne nie.

Master Adams het nog nooit vir hom ’n opdrag gegee om iemand uit te haal nie en daarvoor is hy dankbaar, want hy sal nie die bloed kan hanteer nie.

Tog sit die gebeure van vroeër ’n glimlag op sy gesig. Dit laat hom goed voel.

Hy reken hy het die regte ding gedoen deur na die stemmetjies in sy kop te luister.

Die strate is besoedel en dis sy werk om dit skoon te maak. Die stemmetjies is nou stil, maar as hulle weer met hom praat, sal hy gehoorsaam wees en maak soos hulle sê.

Toe Elvis die honde hoor blaf, besef hy hy het nog nie vir hulle aandete gegee nie.

Hy weet maar al te goed watter groot gevaar ’n honger pit bull kan inhou.

Hoeveel keer het hy nie al gehoor van pit bulls wat hulle eie eienaars aangeval het nie?

Hy spring op, gryp die sak met die hondekos en loop tot agter die huis waar die honde op hom wag.

Hy gee elkeen ’n vryf oor die kop.

Hy sê verskonend: “Sorry, ouens­, maar ek het so baie op my mind gehad dat ek amper van julle vergeet het.

“Julle baas gaan seker nie baie beïndruk wees as hy hiervan hoor nie.

“Maar nie een van julle twee gaan my piemp nie, nè?”

Elvis gaan aan die lag soos iemand wat nie al sy varkies op hok het nie.

Pleks van vreet, kyk die twee pit bulls hom stertswaaiend aan.

Hy draai sy rug op hulle en gaan vinnig by master Adams se spoggerige woning in.

Hy weet nie hoekom nie, maar ’n oomblik was hy bang die honde val hom aan.

Elvis is skaars binne toe sy selfoon lui.

“Ellie, als nog okay daar?”

“Ja, Master Adams, die saak is reg.

“My honde al kos gekry?”

“Lankal, my master,” lieg hy.

“Nou toe, ons het nog ’n paar goed om af te handel. Sien jou ná die naweek.

“Ek hoop ek kom kry my huis in dieselfde toestand as wat ek dit gelos het.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters