Verlede maand
Elton vertel aan Nommer 1 daar was ’n groot ramp
 ~ 

HAAI Sonlanders! Nommer 1 agtervolg ’n geheimsinnige man wat hy glo hom in sy ondersoek kan help. Sy kollega, Nommer 2, is egter nie oortuig nie. Nommer 1 vertel aan hom dat hierdie man, Elton-John van den Berg, ’n kollega uit sy verlede is. Geniet hoofstuk 3 nou van die futuristiese “Dromers” uit die pen van ELDRIDGE JASON.

DAAR is vrees in Elton-John van den Berg se gesiggie toe hy die twee mans gewaar wat in sy rigting gestap kom.

Vrees. En herkenning.

Vir Elton is daar net een tipe mens wat in sulke suits werk: ’n Mens wat jy niks mee te doen wil hê nie.

Maar kans vir weghardloop is daar nie. Voordat hy hom kom kry, sit Nommer 1 en 2 aan weerskante van hom op die banke.

Vir ’n oomblik is daar stilte. Selfs die gewoel rondom hulle het bedaar.

“Wat ’n lekker dag vir visvang,” sê Nommer 1.

“Dit hang seker maar af watter vis gevang wil wees,” antwoord Elton in ’n skor stem.

Dan draai hy na Nommer 1. Die trane sit vlak in sy oë.

“Jy sal my moet knyp, want ek glo nie in spoke nie.”

Nommer 1 se lippe trek afwaarts. Sy poging tot ’n smile.

“Ek het lank na jou gesoek, my vriend. Jy is al een wat my aan die verlede bind.”

“Ek soek nie moeilikheid nie,” antwoord Elton deur saamgeperste lippe. Hy gluur Nommer 2 aan.

“In watter fabriek maak hulle dan deesdae holborsels?”

Vir die eerste keer in ’n lang tyd bars Nommer 1 kliphard uit van die lag. Dan gee hy Elton ’n gemoedelike klop agter die blad.

“Humor soos joune bestaan nie meer in hierdie wêreld nie. Sedert ek terug is, wonder ek elke dag of die fabriek wat smiles gemaak het, afgebrand het.”

Elton grinnik.

“En jy is nog so droog soos altyd. Maar ek neem aan jy het nie gekom om met my oor ou koeie te kom gesels nie?”

“Straight tot die punt, ek likes dit,” antwoord Nommer 2 en vryf ingenome sy hande teen mekaar.

Elton skud sy kop.

“Ek weet nie wat jy beplan nie, Elijah. Maar ek het nie meer krag vir dié dinge nie. Dis is ’n ander wêreld, hierdie.”

Nommer 1 ignoreer sy kollega se vraende blik en vryf oor sy baardstoppels.

“Elijah ... daai is nogals ’n naam wat ek lanklaas gehoor het. Deesdae word ’n mens mos sommer net so by die nommers geroep.

“Maar, my vriend, ek stem nie saam met jou nie. Daar is ’n rede hoekom ons daai ontploffing oorleef het. Ek glo dat–”

“Watse ontploffing?” val Elton hom in die rede.

“Die natuurramp, man,” probeer Elijah verduidelik.

“Die een wat amper die hele Kaapse Vlakte uitgewis het.”

Elton loer vinnig in die rondte.

“Wil jy nie vir jou kollega vra om vir hom ’n pie of ’n ding te gaan koop nie?”

“Wat is ’n pie?” vra Nommer 2.

“Jirre, red ons,” antwoord Elton en skud sy kop.

“Ek vergeet mos dat hulle nie meer pies maak nie. Als is mos nou daai waterige stront wat hulle via ’n computer chip op jou lyf plak en siedaar ... Nooit is jy meer honger nie. Pure stront, as jy my vra. Technology laat jou dink jy het geëet, maar jy het skaars k*k in jou maag.”

Elijah draai na Nommer 2.

“Wil jy nie vir my in die kar gaan wag nie?”

Nommer 2 skud vasberade sy kop.

“Protokol vereis dat ons nooit mekaar alleen laat nie.”

“F*k protokol,” chime Elton astrant in.

“Jy moet ’n slag proteïne in jou lyf kry.”

“Ek sal jou later verduidelik,” sê Elijah aan Nommer 2 en knipoog vir hom.

“Is daar iets in jou oog?” vra Nommer 2.

Elijah sug swaar.

“Onder my sitplek is ’n nota­boekie wat ek daar vergeet het. Gaan kry dit gou. Dis ’n opdrag.”

Nommer 2 staar vir ’n paar sekondes stip na Elijah. Dan draai hy woordeloos om en stap weg.

Toe hy buite hoorafstand is, draai Elton na Elijah: “En in die verlede het hulle ons op skool vertel dat AI slimmer as ons gaan wees. Is daardie dom robot jou nanny?”

Elijah trek sy skouers op.

“Ek het vroeër die idee gekry jy dra nie kennis van die natuurramp wat ons getref het nie?”

Elton gee ’n hoesie.

“Jirre, jy wat altyd so skepties was ... Ek kan nie glo jy het jou met daardie ouvrou-storie laat vang nie.”

“Verduidelik,” sê Elijah kortaf.

Elton sug swaar.

“Ek hou nie daarvan om in die verlede rond te krap nie. Daar is ou koeie wat in die sloot gelos moet word, maar ek kan sien jy het nie ’n clue wat aangaan nie.

“Jy is reg as jy sê dat ons daardie dag in Manenberg was. Maar dit was nie ’n ontploffing nie. Daar was ’n bom op ons gedrop.”

“Nou praat jy k*k,” sê Elijah en frons.

“Daar’s nie ’n manier dat ’n bom soveel skade oor so ’n groot gebied kon aanrig nie.”

“Maar Baby Jake kon,” kap Elton terug.

“Gaan snuffel ’n bietjie in Basis 9 se argiewe rond en kyk wat jy oor Baby Jake gaan uitgrawe. Dit was die moeder van alle nukes en ons was suppose om net so gaar soos daai inwoners te verkool.

“Hoe ons survive het, weet ek nie. Deur al daai giftige rook en gasse het ek na jou gesoek, maar toe lei ouens in wit pakke my weg.”

Elijah skud sy kop in ongeloof.

“Ek ... Ek onthou niks van daai nie. En ek kan nie dink dat iemand doelbewus ander sou vermoor nie.”

Elton sit sy hand op Elijah se skouer.

“Die wêreld was destyds ’n deurmekaar plek, my ou maat. Dit was ’n jungle.

“Elke dag was daar ’n protes­optog. Elke dag het derduisende mense hulle werk verloor omdat hulle deur robotte vervang is.

“Honger, armoede en siektes het aan elke deur geklop. Die regering moes iets aan die saak doen.

“Beheerde volksmoord. Dis hoe ek dit sien. Ek kon nog nie mooi alles uitfigure nie, maar iewers op ’n kol het ’n groep leiers byeengekom en besluit om God te speel.

“En die uiteinde daarvan is dat ons vandag as ou manne in ’n wêreld sonder ons gesinne leef.”

Elijah se wenkbroue lig effens. “Gesinne? Sover my kennis strek, was ek dan my lewe lank ’n loner. Het ons dan nie altyd ná ons skofte in die pubs uitgehang nie?”

“Tot groot ergernis van ons vroue, ja. Jy onthou nie jou Lizzie nie? Jy onthou nie dat sy swanger was met julle eerste kind nie?”

Elijah skud verdwaas sy kop.

“Ek sien daai robot-holborsel van jou aangestap kom. Ons kan nie voor hom verder praat nie.

“Met ál my dwalings het ek gesien ons ou pub staan nog, al is dit net ’n muur en ’n half.

“Kry my later daar. Ons kan nie dat Die Komitee van Basis 9 met sy dinge wegkom nie.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters