29 dae gelede
Elton sê vir Elijah hy vermoed hulle was albei lab rats
 ~ 

HAAI Sonlanders! In “Dromers” agtervolg twee geheime agente ’n vreemde man. Een agent, Nommer 1, se naam blyk in die verlede Elijah te gewees het. Só hoor hy by Elton-John van den Berg, die ou wat hulle agtervolg. Maar die einste Elton vertel aan hom dat duistere magte agter die vernietiging van hulle way of life sit. Hy en Elijah is die enigste oorlewendes van ’n ontploffing wat alles en almal vernietig het vir wie hulle lief was. Elton sê aan Elijah hy sal alles aan hom onthul, maar dan moet hy eers van sy kollega, Nommer 2, ontslae raak. Geniet nou hoofstuk 4 van hierdie futuristiese verhaal uit die pen van ELDRIDGE JASON.

OP DIE hoek van Hazel- en Klipfonteinweg draai Elijah af en stop voor ’n murasie.

Rondom hom is dit doodstil. Hierdie plek het hy altyd onthou as ’n miernes van bedrywighede.

Golden Dish was die plek waarheen almal gestroom het as hulle ’n craving vir ’n ordentlike gatsby gehad het. Weg ook is Lambros, waar die laities altyd gelam het, die Bombay Bazaar en Boeta Gammie se stall’tjie met vrugte oorkant die pad.

Alles is platgevee, so asof dit nooit bestaan het nie. So asof die lewe wat hy in die verlede gelei het, nooit bestaan het nie.

Elijah sug. Dit is nie lekker om met so ’n gat in jou te leef nie.

Hy was getroud. Dít het hy ook maar by Elton-John gehoor. Hoekom kan hy dit dan nie onthou nie? En hoekom het die lede van Die Komitee by Basis 9 dan niks hieroor gesê nie?

Nou is dit net die vervalle mure wat oral te sien is – ’n bewys van ’n verlede wat hy net plek-plek onthou. Is daar met sy geheue gepeuter? As hy ’n familie gehad het vir wie hy baie lief was, soos Elton sê, sou hy hulle seer sekerlik onthou het? ’n Mens vergeet mos nie die mense vir wie jy supposed is om die liefste te wees nie.

Iets maak nie sin nie. Daarvan is hy oortuig. En hy kan nie wag om meer antwoorde by Elton te kry nie. Dit was ’n groot mission om van Nommer 2 af weg te kom. Daai is ’n android wat sy werk veels te ernstig opvat. Hy grawe in sy sak en bring ’n langwerpige metaalboksie te voorskyn.

Hy maak dit versigtig oop en prik dan sy linkerpinkie teen ’n kleinerige naaldjie. Die druppeltjies bloed wat uit die klein gaatjie sypel, vee hy sommer aan sy broek af.

Met ’n sug lê hy agteroor en maak sy oë toe. Jy weet die wêreld is in sy moer as jy nie meer rook op die old school manier nie, dink hy. Iewers in die verlede waar hy vandaan kom, het ’n sleg etter gedink rook is nie tegnologies gevorderd genoeg nie. Wat hy nie nou sal gee om ’n entjie tussen sy lippe te hê nie. Om die bittersoet van nikotien net soos sy worries die lug in te blaas nie ...

Hy wip van die skrik toe daar ’n dringende klop teen sy karvenster is. Elton. Hy wink vir hom om om die kar te loop en in te klim.

“Jy sukkel om te slaap,” sê Elton toe hy die deur agter hom toegemaak het. “Nes ek.”

“Ek is nie jy nie,” antwoord Elijah stug.

“Ek glo jou,” antwoord Elton sarkasties. “Jy is nog net so hardegat en astrant soos jare gelede. Weet jy wat cryonics is?”

Elijah gaap hom verbaas aan. “Het dit iets met ’n gehuil te doen?”

Elton skud sy kop. “Jy was eenvoudig net nooit snaaks in jou lewe nie.

“Cryonics is waar ’n body teen 130 grade onder vriespunt dekades, selfs eeue, gepreserveer word. Terminaal siekes doen dit totdat daar ’n cure vir hulle gevind word.”

“Nou wat het dit met die prys van eiers te doen?” vra Elijah.

“Ek vermoed dit is wat met ons gebeur het. Ek vermoed ons is ná daai ontploffing na so ’n fasiliteit geneem en daar gestoor tot die tyd reg was om ons weer wakker te maak.”

“Vat jy jou pille?” vra Elijah. “Dit wat jy sê, maak nie sin nie.”

“Maak die tyd waarin ons nou leef, sin?” kap Elton terug.

“Niks van die lewe is meer soos wat ons dit onthou nie.

“Hier, op hierdie einste spot, het ek en jy gestaan toe ons daai groot knal gehoor het. Ek onthou dit nog baie goed. Jy het nog gegrap dat dit die middag-kanonskoot was, maar toe kom ’n bol vuur teen die spoed van lig op ons afgepyl.

“Hoe ons daai vuur ontsnap het, weet ek tot vandag toe nie.

“Maar die uiteinde daarvan is dat ons dekades later hier sit en nie een van ons families leef meer nie.

“Hel, jy onthou dan nie eens jy het ’n gesin gehad nie?

“Ek het bietjie navorsing gedoen. Die proses van cryonics kan slegs begin nadat ’n persoon klinies dood verklaar is.

“Iemand het ons dood verklaar en hierdie proses toe begin. Hoekom weet ek nie, maar wat ek wel weet, is dat ek niemand se f*kk*n lab rat is nie.”

Elijah loer by die karvenster uit. Hy haat dit om dit te erken, maar hy moet Elton sy due gee.

Hoe meer hy daaraan dink, hoe meer begin hy self wonder wat van die meeste van die mense geword het, wat van sy ou lewe geword het.

“Hoe het jy my opgespoor?” vra Elton uit die bloute.

Elijah draai verbaas na hom.

“Wat bedoel jy?”

“Komaan, Elijah, ek vra jou nie iets wat met rocket science te doen het nie. Jy het almal vergeet, jou hele familie.

“Jy onthou bits en pieces van jou lewe, maar heeltemal te min om sin daarvan te maak.

“Maar jy onthou my? Ek leef al jare van die radar af, eet die scraps uit vullisdromme, maak seker dat Die Komitee my nie kan opspoor om my te tag nie ... maar jý kry dit reg om my op te spoor? Sommer net so?

“Iemand moes die gedagte van my by jou geplant het. Die vraag is: Wie?”

Elijah vryf met sy hand oor sy oë. “Ek ... ek weet nie,” prewel hy. “Maar noudat jy dit mention: as jy nes ek in ’n lab was, hoe het jy ontsnap?”

’n Verwilderde kyk verskyn in Elton se oë. Hy raak onbedaarlik aan die bewe en lyk soos iemand wat ’n fit gaan kry. Elijah kry hom aan die skouers beet en begin hom skud.

“Is jy op drugs?” vra Elijah.

“L-l-lok ... val,” prewel Elton. Dit vat ’n rukkie vir die woord om by Elijah in te sink. Hy los ’n kragwoord en soek naarstigtelik na sy karsleutel. Van kan panic vergeet hy skoons dat die sleutel steeds in die kar se ignition is.

’n Klop aan sy kardeur laat die bloed in sy are stol. Stadig draai hy sy kop in die rigting van die venster. Aanvanklik sien hy net een groot bos Afro. Dan besef hy dis ’n vrou. Sy is omring deur gemaskerde, swaargewapende mans. Hy draai stadig die karvenster af.

“Ek is jammer as ons julle parking space gevat het,” sê hy.

“Maar ons gaan nou weer ry.

“Elijah, die droë grapgat,” antwoord die meisie, min gespin.

“Dis geprofeteer dat jy ons redder gaan wees, maar as ek so na jou jokes luister, dan weet ek darem nie so mooi nie ...”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters