2 maande gelede
Elijah voel net ’n prik teen sy nek voor die donkerte
 ~ 

HAAI, Sonlanders! In “Dromers” spoor Elijah ’n ou vriend op wat destyds saam met hom ’n devastating ontploffing oorleef het. Hulle spreek af om mekaar sonder Nommer Twee, Elijah se kollega, op ’n ou, bekende spot te ontmoet. Elijah en Elton-John het egter skaars aan die gesels geraak toe ’n onbekende vrou en ’n entourage van gewapende mans hulle omsingel. Wat gaan dan nou aan? Geniet nou hoofstuk 5 van dié futuristiese verhaal uit die pen van ELDRIDGE JASON.

DIE meisie met die groot haredos draai na een van die gemaskerde mans langs haar.

“Kan jy dít oorvertel ... Die ou wat ons saviour moet wees, weet nie eens hoe om ’n kraak in ’n joke te slaan nie.”

Die gemaskerde ou skud soos hy lag, maar maak geen geluid nie.

“Ek het nie besef hierdie is ’n joke-kompetisie nie,” sê Elijah kil. “Ons pla niemand nie, so as jy nie omgee nie, moet julle asseblief padg–”

Dinge gebeur so vinnig dat Elijah aanvanklik nie besef wat klap nie. Eers voel hy net ’n prikkie teen sy nek. Hy sien die spuitnaald in die meisie se hand en te laat registreer dit by hom dat sy hom met iets ingespuit het.

Hy wil sy hand lig om die kardeur oop te maak sodat hy kan uitklim om haar te konfronteer. Maar sy hand lê net slap langs hom. Doodstil, asof dit iemand anders se hand is.

Hy sluk aan ’n knop in sy keel, maar sy mond voel kurkdroog. Hy maak sy mond oop om iets te sê, maar dit voel asof hy iemand anders se woorde hoor.

“Oe jinne, hier gebeur dit al weer!” hoor hy Elton-John gil.

Dan omhels die donker hom soos ’n vuil uil ...

EMANCIPATE yourselves from mental slavery. None but ourselves can free our minds.

Have no fear for atomic energy

‘Cause none of them can stop the time...

Elijah word met ’n kreungeluid wakker terwyl ’n song iewers in die agtergrond speel. ’n Song wat Nommer Twee hom dan gesê het in vandag se tyd verban is.

Maar tog ... daar skort mos niks met sy ore nie!

“Hy is wakker!”

Elijah raak bewus van ’n gewoel en gewerskaf rondom hom.

Hy knip ’n paar keer sy oë om aan die effense skemerte rondom hom gewoond te raak. Stadig maar seker begin hy die silhoeëtte rondom hom uit te maak.

Een van hulle is die bossiekop. Die een wat hom met die naald gesteek het. Hy probeer praat, maar die woorde haak in sy keel vas. Sy arm voel steeds lam.

Hy probeer orent beur, maar besef sy hande is vasgebind.

“W-w-wat de fo–”

“Relax,” val bossiekop hom in die rede. “Dis nie nodig vir ’n performance nie. Alles sal op sy tyd vir jou duidelik word.”

Elijah sluk swaar. Hoekom voel sy keel so seer? Hy voel dan soos een wat heelnag gemamok het.

“Die verdowingsmiddel is besig om uit te werk. Jy sal binnekort beter voel,” sê die bossiekop hier naby sy oor.

Haar asem ruik na kruie. Na iets bekends. Iets waarop hy nie sy vinger kan plaas nie. Hy probeer weer orent beur.

“Maar het die man dan nie f*kk*n ore nie?” hoor hy ’n geïrriteerde manstem vra. Bossiekop draai na die man wat in die agtergrond staan.

“Ek het alles onder beheer, Sir.”

“Maar ons is nie in beheer van tyd nie,” kap die manstem terug.

“Hierdie plan van jou beter werk, anders is ons almal in ons moer. As Die Komitee ons hier kry ...”

Elijah hoor hom haastig wegstap en draai dan sy kop in bossiekop se rigting.

“Water!” blaf bossiekop ’n bevel. “Bring vir hom water.”

Naderende voetstappe en dan voel Elijah iets koels teen sy lippe.

Hy maak sy mond oop en drink gulsig. Plek-plek stort ’n paar druppels teen sy hemp, maar hy vat nie sy lippe weg van die glas af nie.

“Nóg,” sê hy in ’n skor stem toe die glas van sy mond weggeneem word. Hy sak moeg terug.

“Later,” antwoord bossiekop. “Dit is dalk nuus vir jou, maar vir ons is water ’n luxury.”

Elijah maak sy oë toe. Hy probeer dink.

Waar hy hom bevind, weet hy glad nie, maar dat hy gevange geneem is, betwyfel hy nie.

“Jy hoef nie te weet waar jy is nie, maar jy is veilig,” sê bossiekop asof sy sy mind kan lees.

“Jammer dat ons op so ’n wyse moes ontmoet, maar Die Komitee hou jou met valkoë dop.

“Hierdie was die enigste way om jou in die hande te kry.”

“Hoekom?” vra Elijah.

“Julle kon my mos net ’n friend request op Facebook gestuur het.”

Die meisie bars uit van die lag. ’n Klokhelder lag wat maak dat Elijah nie anders kan as om sy oë oop te maak nie.

“Jy het nogal jou funny moments,” sê die bossiekop.

“Ek is Janine, by the way, maar almal hier noem my Jay. Lang storie.

“Maar om jou vraag te beantwoord, Facebook bestaan seker al 20 jaar nie meer nie.

“Daar is min dinge wat oorgebly het­ van die ou lewe soos wat jy dit geken het.

“ ’n Mens kan sien jy is vir ’n lang tyd uit die lewe gevries.”

“So verstaan ek dit ook,” sê hy.

En asof hy gedagte kry van iets, probeer hy weer orent vlieg.

“Waar is Elton-John? Het julle hom doodgemaak?”

“Dink jy ons is barbare?” vra Jay gekwets. “Jou vriend is veilig, maar hy moet onder bedwang gehou word.

“Dis nie nodig om hom dood te maak nie.

“Daai mind van hom doen ’n goeie job daarvan op sy eie.”

Elijah rol sy oë.

“Jy is veilig hier by CTRA,” sê Jay.

“CTRA?” vra Elijah. “Is julle dan ’n union?”

“Jirretjie, as ons hierdie battle wen, moet jy tog in die stand-up comedy business gaan.

“Nee, ons is die Cape Town Resistance Army. Ons is die laaste muur, die laaste vesting in die geveg om ons voortbestaan.”

“Bestaan ons nie al klaar nie?” vra Elijah.

“Noem jy hierdie ’n bestaan?” bars Jay los met ’n tirade. “Is ’n lewe ’n lewe waar jou bestaan afhang van suurstof wat op ’n kwotabasis aan sekeres verskaf word? Die Komitee besluit wie leef en wie nie.

“Hulle is nie God nie ...

“Ons soek ons ou way of life terug. En ek sal fight daarvoor, selfs al moet ek sterf ...”

Sy byt op haar onderlip.

“Wat maak ek hier?” vra Elijah.

Jay se oë helder skielik op. “Jy is die key,” sê sy opgewonde.

“Hulle het jou memories verwyder, maar ons het dit teruggekry.

“Iewers in daai memories van jou is die antwoord oor hoe om hierdie battle teen die masjiene te wen. Eens en vir altyd.”

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters