23 dae gelede
Elijah vertel vir Jay die lewe was nie fun en games
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Elijah word ontvoer na die skuilplek van die CTRA, ’n groep wat veg teen die total domination van die masjiene wat die mensdom wil beheer. Een van hulle lede, Jay, sê aan Elijah dat Die Komitee, ’n geheimsinnige organisasie wat die masjiene beheer, agter ’n groot ontploffing sit wat byna alle lewe op aarde verwoes het. Sy sê Die Komitee het Elijah jare in ’n lab gevries gehou en sy memories verwyder. Iewers in Elijah se geheue is daar glo ’n sleutel oor hoe om die battle teen die blikbreine te wen. Geniet nou hoofstuk 7 van ELDRIDGE JASON se “Dromers”.

ELIJAH voel hoe die woede soos ’n baby-orkaan in hom begin opstoot.

“Ek het nie ’n clue waarvan julle praat nie, maar ek onthou hier en daar van die ou wêreld.

“Dit was ’n k*k plek. Daar is nie ’n ander manier om dit te stel nie.

“Julle is jonk en ek weet nie wie watter leuens aan julle verkondig het oor die jare 2000 nie.

“Ja, dit het seker sy moments gehad, maar dit was ’n dog eat dog-lewe daardie.

“Dit was ’n lewe waar mense mekaar elke dag met haat gespoeg het. ’n Lewe waar politicians hoog en laag gesweer het hulle is daar vir armes, maar dan het hulle in die duurste van mansions gebly.”

“Dit kon nie álles net sleg gewees het nie,” sê Jay.

Sy lyk afgehaal.

Elijah snork deur sy neus.

“You wish,” antwoord hy smalend.

“Dit was ’n lewe om van te kots. Baie min was wie hulle voorgegee het om te wees. Ek weet nie of julle vertroud is met Facebook nie?”

Jay skud haar kop. ’n Paar van die gemaskerde ouens ook.

“Dit was sommer ’n klomp stront vir mense wat nie veel van ’n lewe gehad het nie,” verduidelik Elijah.

“Op hierdie sosiale media platform het baie mense ’n wonderlike lewe gelei, maar in die regte lewe was hulle almal k*k miserabel en platsak.

“Nes ons gewone mense. Die rykes het net ryker bly word en ons, die armes ...”

Elijah bly vir ’n ruk stil en byt op sy onderlip.

“Ek onthou nie veel van die familie wat ek verloor het nie en ek is seker ek sal hulle mis as ek hulle kan onthou.

“Maar daar is niks om te onthou van ’n lewe waar kindertjies soos wilde diere gejag en verkrag en vermoor is, waar daar geen respek vir jou medemens was en waar jy slegs tronk toe gegaan het vir jou dade as jy arm is.

“Julle soek daai lewe terug? Julle wil weer die mens sy vryheid gee wat hy gaan misbruik om homself te verryk deur ander in die grond in te trap?”

“Maar ons kan ons mos met reëls en regulasies beheer,” protesteer Jay.

’n Paar ouens rondom haar stem brom-brom saam.

Elijah loer na almal in die vertrek en tot hulle verbasing, bars hy dan kliphard uit van die lag.

Die lagtrane rol oor sy wange en sy hele lyf skud van die lag.

Jay trippel rond met ’n beteuterde uitdrukking op haar pragtige gesiggie.

“Lag jy maar,” sê sy vies.

“Ek wonder of jy sal aanhou lag as jy weet Die Komitee was die een wat amper jou hele familie uitgewis het.”

Elijah hou op lag. Sy blik verstar.

“Ámper my hele familie?” vra hy. Sy wenkbroue beweeg vraend na die plafon.

“Beteken dit dat daar nog mense van my leef?”

Jay hou die buisie vloeistof omhoog.

“Die proof is in die poeding. Ek verstaan die mense van die 2000’s het altyd so gesê?”

Elijah knik.

“Wel, daar is net een manier om uit te vind. En wie weet, as jy jou memories terug het, sal jy maybe anders voel oor die androids wat so heer en meester oor ons lewens is.”

Elijah frons weer en loer met vernoude oë na Jay.

“Hierdie is mos blackmail,” sê hy kil.

Sy haal haar skouers op.

“Sien jy iemand ’n gun teen jou kop hou?

“Niemand gaan jou force as dit iets is wat jy nie wil doen nie.”

Elijah sug kliphard.

“Oukei, dan. Julle wen,” sê hy gelate.

“Maar ek twyfel of hierdie memories van my enige verskil gaan maak. Ons as mense is nou maar eenmaal ’n f*ck*d-up spesie.

“Haal ons uit die prentjie en daar is peace on earth ...”

ELIJAH bevind hom op ’n bed toe hy wakker skrik.

Hy hoor voëltjies fluit en vlieg orent. Wanneer laas het hy voëltjies hoor fluit?

Hy merk op hy is in ’n slaapkamer­. ’n Oorbekende slaapkamer.

Dan hoor hy gedempte stemme en die reuk van worsies en eiers slaan hom terselfdertyd op sy nugter maag.

Hy gooi die duvet van hom af en trek die paar pantoffels aan wat voor sy kant van die bed staan.

Hy staan op, rek hom vir ’n laaste keer uit, loer na sy tandeborsel in die badkamer en besluit om dit soos ’n stopstraat in Philippi te ignoreer.

Dan stap hy die gang af in die rigting van die kombuis. In die rigting van die stemme.

’n Vrou en ’n jong meisietjie staan rugkant na hom.

Hy skat die meisietjie seker so vyf jaar oud.

“Dink Mammie Dadda gaan hou van die ontbyt waarmee ons hom gaan verras?”

“Hoekom nie, Poplap?” vra die ma.

“Dis immers Dadda se birthday vandag.”

Dan draai albei om, gewaar hom en smile.

“Dadda!” gil die meisietjie opgewonde.

“Hallo, jou slaapkous,” sê die vrou met ’n smile wat sy hart week maak.

Dan voel dit vir Elijah asof sy huis begin skud. Asof iemand besig is om die fondasie van die huis uitmekaar uit te grou.

“Elijah, Elijah, word wakker.”

Stadig dring die stem tot hom deur.

Hy maak sy oë oop. Jay het hom aan die arm beet.

“Weet jy hoe lank probeer ek al om jou wakker te skud?” sê sy vies.

“Jy het ons groot laat skrik.”

Elijah frons. Hoekom lyk Jay so bekend? Daar is iets aan haar wat ...

Dan tref dit hom soos ’n ice-bucket challenge waaraan hy nie wou deelneem nie.

’n Traan begin oor sy wang rol. Jay staar hom heel confused aan.

“Ek onthou,” prewel Elijah.

“Ek onthou álles.”

Daar is ’n teer uitdrukking in Jay se oë toe sy die traan van Elijah se wang afvee.

“Ek is bly die prosedure was ’n sukses,” sê sy in ’n sagte, gevoelvolle stem.

“Ek is baie bly.

“Dadda.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters