15 dae gelede
Elijah is verward daaroor of ditsy tyd is of nie
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Jay word deur Lucy Ferr gevange geneem en sê aan Elijah sy gaan sterf as hy nie terugkeer na Basis 9 met die ligging van die antieke aarde, PSR B1620-26, nie. Sy vorige kollega Nommer Twee word saam hom gestuur om na die enigste plek te gaan waar die mens van die robots kan wegkom. Maar Elijah maak Nommer Twee van kant en haas hom dan na PSR B1620-26 se geheime ligging. Maar hoe gaan dit hom help om Jay te red? Lees ELDRIDGE JASON se futuristic verhaal “Dromers” verder.

SY bors brand.

Die sweet stroom hom af. Sy bene voel soos jellie. Hy het nooit geweet hy is so onfiks nie.

Maar hy hardloop asof die duiwel hom jaag. Daar is nie kans vir rus nie.

’n Lewe is op die spel. Sy kind se lewe …

Net toe dit vir Elijah voel of hy enige oomblik ’n stroke gaan kry, bereik hy die ingang van die grot.

Wolfgat. So het hulle kleintyd na hierdie grot verwys.

’n Plek waarin hy ure aaneen baljaar het.

Totdat hy ál dieper die grot in is, en op ’n vreemde ingang afgekom het.

In sy rondtasting in die donkerte het hy op ’n lever afgekom en toe hy dit trek, het ’n opening voor hom oopgegaan.

’n Helder lig het hom verblind.

Hy het iemand aangestap sien kom, en toe raak alles donker voor hom.

Hoe lank hy bewusteloos was, weet hy nóú nog nie. Toe hy egter sy oë oopmaak, was hy op ’n strand.

Hy het kinders gehoor lag, maar hulle nie gesien nie. En toe sien hy ’n vrou uit die water gestap kom. Soos in ’n movie het sy met swaaiende heupe na hom aangestap gekom en langs hom kom sit.

Sy het gepraat. ’n Taal wat hy nog nooit vantevore gehoor het nie. Maar hy het elke woord daarvan verstaan.

“Hierdie is nie ’n droom nie,” het sy gesê in die mooiste stem wat hy al gehoor het.

“Is jy ’n engel?” wou hy weet.

En toe lag sy. “As ek ’n engel was, waar is my vlerke dan?” wou sy stuitig weet.

Hy het verleë gegrinnik en nie geweet wat om te sê nie.

“My naam is Morfina,” het sy gesê. As sy sy ongemak agtergekom het, het sy dit goed weggesteek.

“Waar is ek?’ wou hy weet. “En my naam is –”

“Ek weet wie jy is,” het sy hom laggend in die rede geval. “Niemand kom PSR B1620-26 toe as dit nog nie hulle tyd is nie.”

“Wat bedoel jy?” wou hy weet.

Weer het sy net gesmile.

“Dis nog nie jou tyd nie,” het sy gesê en toe raak alles weer donker rondom hom.

Toe hy wakker skrik, was hy weer by die grot se ingang.

Met sy kop vol vrae het hy huis toe gestap. Net om met sy aankoms daar deur sy ma bestorm te word.

Sy het deurmekaar gepraat, gelag en gehuil.

Later het hy gehoor hy was lank weg en daar is na hom gesoek.

’n Hele maand lank.

Elijah sug. En nou is dit weer sulke tyd. Hy stap gebukkend die grot binne en begin versigtig vorentoe beweeg. Voetjie vir voetjie.

Hier en daar kap sy kop. Hy vloek kliphard, maar bly vorentoe beur. ’n Warm straal hardloop langs sy nek af, maar dis nou die minste van sy worries.

Ná wat soos ’n ewigheid voel, gaan hy hurkend staan. Sy hart klop woes in sy borskas. Dit voel of die bedompigheid in die grot hom wil oorval. Hy’t verdwaal.

Ná jare was hy oortuig dat hy weer die spot sou vind, maar nou ... Nou weet hy nie meer nie.

Morfina en haar planeet was sy enigste hoop. Sy plan was dan só eenvoudig: Kry almal op hierdie aarde bymekaar en trek PSR B1620-26 toe.

Laat die robots maar hierdie wêreld verniel. PSR B1620-26 sou hulle tweede kans wees.

Hy loer desperaat rondom hom. As hy net ’n flits of ’n ding by hom gehad het. Dis te donker.

Daar is nie ’n manier hoe hy die ingang sal vind nie.

Hy het gefaal. Hy het sy dogter in die steek gelaat. Die hele wêreld in die steek gelaat.

Die trane loop oor sy wange. Skaamteloos raak hy aan die huil. Sy skouers ruk. Dan voel hy iets op sy skouer druk. ’n Hand.

Elijah vlieg om. Daar staan iemand, nie ver van hom af nie.

“Wie, wie is daar?” vra hy in ’n skerp stemtoon.

“O, ek dink jy weet,” antwoord die persoon.

En dan lag sy. Daai lag ... Hy sal dit nooit, ooit in sy lewe vergeet nie.

“Morfina? Is dit jy?”

Hy hoor daai mooi, klokhelder laggie.

“Wat maak jy hier?” vra sy. “Ek het jou mos laas gesê –”

“Ek weet, ek weet,” val Elijah haar haastig in die rede. “Dit is nog nie my tyd nie, ek weet.

“Maar ek het jou hulp nodig. Die wêreld het jou hulp nodig.

“PSR B1620-26 ... ek weet dit is waar jy bly. Ek weet daar is ander wat ook daar bly. Ek het julle nodig om my te help om Jay, my dogter, op te spoor.”

“Dit is nie moontlik nie, Elijah,” sê Morfina in ’n sagte stem.

“Hoe kan dit nie moontlik wil wees nie?!” vra Elijah hard.

“Jy bly op ’n plek waar tyd stilstaan. Ek weet dit, want laas toe ek by jou was ... dit het soos ’n paar minute gevoel, maar die mense het agterna gesê ek was ’n maand lank weg.

“Jou wêreld is die antwoord om die battle teen Lucy Ferr, haar komitee en die robots te wen.

“Wil jy vir my sê jy gaan handjies gevou sit terwyl ons vergaan? Wil jy vir my sê ek het héélpad verniet gekom? Verniet?!”

Elijah gaan sit plat in die grot. Sy skouers hang.

“Ek het jou gesê jy kan slegs PSR B1620-26 toe as dit jou tyd is,” sê sy in haar sagte stem.

“Ippotu unkal neram. Dis Tamil. een van jou wêreld se oudste tale. Dis meer as 5 000 jaar oud.”

“Ek is nie hier vir ’n geskiedenisles nie!” sê Elijah kwaad en slaan met sy vuis teen die grotmuur. “My wêreld is in sy moer! Ek is hier om jou om hulp te vra en jy het tyd vir hierdie nonsens!

“Watse wêreld is joune wat nie ’n ander wêreld in nood wil uithelp nie?! Is dit omdat ek ’n mens is?!”

Morfina sit weer haar hand op Elijah se skouer, maar hy skud dit omgekrap af.

“Ek wil nie jammer gekry wees nie!” sê hy kwaad. “Gaan maar na jou perfekte wêreld en los my uit!”

“Ek is Morfina,” sê die vrou weer. “Dit lyk nie vir my jy luister ooit na enigiets wat ek sê nie.”

“O, ek kan baie goed hoor, thank you very much,” kap Elijah sarkasties terug.

“So, daar skort niks met jou ore nie?” vra Morfina.

Elijah snork hard deur sy neus.

“As jy mooi na my geluister het,” gaan Morfina voort, “sou jy gehoor het ek sê dis nou jou tyd.”

“My tyd om wat te doen?” vra Elijah kortaf.

  • “Om wakker te skrik, Elijah. Om wakker te skrik.” Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters