22 dae gelede
Elijah is verstom oor die identiteit van die verraaier
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Elijah hoor by Jay, een van die CTRA se lede, Die Komitee, ’n geheimsinnige organisasie wat die masjiene beheer, sit agter ’n groot ontploffing. Dit het byna alle lewe op aarde verwoes. En dan drop Jay ’n bom: Sy is nie net enige hierjy nie. Sy is Elijah se dogter. Geniet vandag hoofstuk 8 van ELDRIDGE JASON se futuristiese verhaal “Dromers”.

’N TRAAN loop oor Elijah se wang.

“Vir 30 jaar. Ek was vir 30 jaar in ’n spesiale capsule gevries.

“Ek en Sylvie, jou ma … ons het eier- en spermselle laat stoor vir eendag as die wêreld ’n beter plek is om in te woon.

“Maar die dag van die ontploffing … Ons het daardie tyd dan nog nie eens besluit wanneer ons vir ’n baba sal gaan nie.”

Jay gee ’n laggie. “En as dit van Dadda afgehang het met daai gedraaiery, dan was ek seker nie vandag hier nie.

“Die dag van die groot bang … Mammie, so het die mense my vertel, was aan diens in die lab en het van die bevrore eierselle aan personeellede gegee om dit uit die gebou uit te vat.

“En toe gaan sy terug in die brandende gebou en ...”

Jay begin snik. Elijah gee haar hand ’n drukkie.

“Diep binne my het ek geweet jou ma leef nie meer nie, maar daar was altyd iets wat my laat voel het ’n deel van my is iewers daar buite.

“En nou weet ek dit was jy.

“Maar hoe?”

“Die bevrore selle wat Mammie uit die lab gesmokkel het, is aan lede van die CTRA oorhandig.

“Die CTRA was toe al hoeka besig om planne te beraam om die mensdom uit die kloue van die an­droids te bevry.

“En toe gee my ma hulle die oplossing oor hoe om te verseker dat die mens voortgaan om op die ou manier die lewe in te kom, pleks van om ’n modified copy uit ’n 3D-biodrukker te wees.”

“So, wie het jou dan die lewe ingebring?” vra Elijah nuuskierig.

’n Harde trek verskyn in Jay se oë.

“Dieselfde vrou wat ons verraai het en wat nou kliphard saam met die masjiene teen ons veg.

“Ek dink Dadda ken haar. Lucy. Lucy Ferr.”

“Jy … jy lieg,” prewel Elijah geskok.

“I tell no lies,” antwoord Jay. “Die very same vrou wat my deur artificial insemination die lewe ingebring het, is ook die een wat kliphard probeer om ons resistance te breek.

“Die een wat my die wêreld ingebring het, is die een wat my ook die wêreld wil uitvat. En die een wat Mammie vermoor het.”

“Nou verstaan ek nie,” sê Elijah. “Sylvie en Lucy was vriende. Besties.

“Die een sou sonder om te skroom vir die ander een ’n nier geskenk het.”

“Dit was die einste Lucy Ferr, so het ek later ontdek, wat agter Mammie in die brandende gebou in is,” antwoord Jay.

“Net Lucy het uitgekom met ’n storie dat Mammie in die rook verdwyn het.

“En nou sit sy daar. Die voorsitter van Die Komitee.”DIE vrou verberg haar gesig in haar hande.

Voor haar staan sowat 10 flitsende rekenaars waarop inligting teen die spoed van lig hardloop.

Sy sug swaar, stoot haar stoel agteruit en stap tot by die kantoor se venster.

Uitdrukkingloos staar sy na die ruïnes voor haar. Ruïnes wat voorheen die V&A Waterfront was.

Die plek waar sy en Sylvie altyd so lekker gaan kuier en uitgehang het. En saam geshop het totdat hulle bankbalanse gedrop het.

En toe kom die groot bang en gooi alles deurmekaar.

Sy sug weer. Almal wil nou maak asof sy die duiwel in die verhaal was, maar sy wat Lucy Ferr is, weet van beter.

Evolusie is ’n golf. Óf jy gaan met die stroom óf jy word weggesleur.

Een plus een is lankal nie meer twee nie. Daarvan het Die Komitee seker gemaak.

Haar glasdeur skuif oop en sy hoor die naderende, afgemete voetstappe.

Dit kan net een persoon wees. Dit weet sy al teen hierdie tyd.

“Enige nuus oor waar Elijah hom bevind?

Die stem klink koud, propvol hoogmoed en met ’n ysigheid wat dit laat klink asof dit die stem van Antarktika is. Toe daar nog ’n Antarktika was.

Lucy draai traag om.

Haar maag gee ’n draai.

Ná al die jare is die gesig voor haar een waaraan sy eenvoudig nie gewoond kan raak nie.

Sy weet nie hoe om dit te beskryf nie.

Waar oë moet wees, is daar net twee holtes waarin kleine vonkies soms te sien is.

En digitale nommers wat sy nou nog nie kan ontsyfer nie.

Die neus lyk na iets wat sommer roekeloos teen die een wangbeen geplak is.

Die mond … dis nie ’n mond nie, want wat lippe moet wees, is twee dun staalpaneeltjies wat net so nou en dan beweeg.

“Jy staar al weer na my.”

Weer is die stem koud, die woorde anderkant afgemete.

“Ek ... ek is jammer, My Leier,” stamel Lucy.

“You say sorry, but you don’t look sorry,” sê Die Leier in ’n blikstem.

“Wie het nou weer so gesê? Aha ... daai geliefkoosde Elijah van jou.

“As ek mooi onthou, was jy mos dolverlief op hom,” voeg Die Leier by.

“Jy het my gesoebat om sy lewe te spaar omdat ons in die toekoms van hom gebruik kon maak. Dit was jou belofte aan my.

“En toe?”

En toe gaan die hoender se poephol oop en toe, dink Lucy.

“Ons sal Elijah terugkry, My Leier,” sê Lucy deur stywe lippe.

“En dan gaan hy en die hele CTRA-gespuis boet vir hulle verraad.”

“En PSR B1620-26? Hoe vorder jy daarmee?”

Die gate wat supposed is om Die Leier se oë te wees, vernou.

Lucy draai na die rekenaars in haar kantoor.

“Nog geen sukses nie, My Leier, maar ek glo ’n deurbraak is op hande.

“Ons hardloop nou met alle moontlike berekenings oor waar PSR B1620-26 kan wees.”

“Dis goed so,” sê Die Leier en maak aanstaltes.

Maar dan draai hy weer om. “Elijah ken die presiese ligging van PSR B1620-26. Ek hoef dit nie vir jou te vertel nie.

“PSR B1620-26 is die eerste planeet. Lank voordat hierdie planeet en sy son bestaan het, was PSR B1620-26 daar.

“Sommige lede van jou spesie het dekades daarna verwys as Eden, die Eerste Tuin.

“Dis die plek waar die mens tuis gevoel het en veilig was.

“Elijah en sy gespuis durf nie weer na daai plek terugkeer nie.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters