14 dae gelede
Elijah is in trane oor wat Morfina vir hom te sê het
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Elijah is koorsagtig op soek na die ingang van die geheime grot. Die tyd is besig om vinnig uit te loop as hy nog sy dogter, Jay, wil red uit Lucy Ferr se kloue. Dan kom die geheimsinnige bewaarder van planeet PSR B1620-26, Morfina, te voorskyn en sê aan Elijah dat daar ’n oplossing vir ál sy worries is – hy moet net wakker skrik. Maar waarop sinspeel sy? Geniet nou die slothoofstuk van ELDRIDGE JASON se futuristiese verhaal “Dromers”.

ELIJAH se oë blits van woede.

Hy bal sy vuiste.

“Ek moet wakker skrik? Ek moet wakker skrik?

“Hoekom skrik jy nie wakker nie?

“Ons wêreld is besig om te vergaan, maar jy weier om te help.”

“Dit is jy wat eenvoudig nie kan of wil verstaan nie,” antwoord Morfina.

Haar stem drup van die wêreld se geduld.

“Maar as jy nie wil verstaan nie, sal ek jou eenvoudig moet wys.”

Voordat Elijah iets kan sê, is daar eensklaps ’n helder, skerp lig wat hom verblind. Hy hou sy een hand voor sy oë om die lig uit te hou.

Dan tuit sy ore van ’n donderende, naderende suisgeluid.

Is hierdie die einde? wonder Elijah paniekerig. Jay… hy wou haar nog so graag help.

Elijah val op die grond neer en klou vir ’n vale vas aan ’n rots. Hy maak sy oë styf toe.

Dit voel vir hom asof hy teen ’n helse spoed deur die lug beweeg. Dan raak alles stil voor hom.

“Jy kan maar jou oë oopmaak,” sê Morfina in ’n sagte stemtoon.

Elijah gehoorsaam nie dadelik nie.

Daarvoor klop sy hart nog veels te woes in sy borskas.

Hy haal diep asem en maak dan sy oë oop. Wat de-

“Lyk hierdie plek bekend?” vra Morfina.

Elijah knip sy oë ’n paar keer. “Is… is hierdie ’n trick?” vra hy.

Morfina skud haar kop.

“Jy is al amper ’n maand lank in ’n koma. Weet jy wat gebeur het?

“Kan jy onthou hoe jy in die hospitaal opgeëindig het?”

Elijah skud verdwaas sy kop. “Ek? In ’n hospitaal? Jy lieg!

“Hierdie is ’n trick van Lucy Ferr en haar komitee. Maar ek gaan nie dat julle my met ’n slap riem vang nie.

“Jay… sy het my hulp nodig. Ek kan haar nie in die steek laa–”

“Jay is dood, Elijah,” val Morfina hom in die rede.

“Sy is lankal dood. Dit is haar dood wat jou kop laat verloor het, wat jou in ’n lamppaal laat vasry en in hierdie koma laat beland het.”

“Jy lieg! Jy f*kk*n lieg!”

Skuim en spoeg spat in alle rigtings. Daar is ’n wilde uitdrukking in Elijah se oë.

Morfina sit haar hand op Elijah se skouer. Daar is ’n teer uitdrukking in haar oë.

“Jy wil nie die waarheid hoor nie. Maar dit is net die waarheid wat jou gesond sal maak, wat jou uit hierdie koma sal kry.

“Jay was jou sonskyn, die baby vir wie se koms jy en Sylvie so hard gebid het.

“En toe Sylvie danksy kunsmatige bevrugting uiteindelik swanger raak, was jy in die wolke.

“Die eerste keer toe jy daai bondeltjie vreugde in jou arms vashou, het jy gesweer jy sal jou arms stompies werk vir haar. Onthou jy dit?”

’n Traan loop oor Elijah se wang. Hy snik snot en trane.

“En haar vir die res van haar lewe protect,” snik hy.

“Ek onthou nou, ja. O Here, ek onthou nou.”

“Jy het jou bes probeer,” probeer Morfina paai.

“Maar hoe moes jy weet daai aftercare-onderwyser, Lucy Ferr, en haar siek boyfriend sou Jay ontvoer, vermoor en haar lykie in ’n grot wegsteek?

“Hoe moes jy weet dat die skok van ál hierdie gebeure te erg vir Sylvie sou wees en sy haar eie lewe sou neem?”

“Maar ek moes van beter geweet het,” antwoord Elijah in ’n temerige stem.

“Jay het altyd gekla dat Lucy naar is met haar, haar eenkant hou en altyd vertel van die grot wat sy en haar ou Basis 9 genoem het.

“En hoe hulle wou hê Jay moet saam met hulle daarheen gaan. Enige goeie ouer se alarm sou afgegaan het, maar nie myne nie.

“Nee, ek het eerder gedink die kind se verbeelding werk oortyd en toe... toe raak sy weg en haar liggaampie, stukkend gebreek, word in daai verdomde grot gekry.

“Ek het soveel drome en verwagtinge vir Jay gehad, maar toe kan ek nie haar drome beskerm en vertroetel nie. Ek is nie die naam pa werd nie.”

Morfina skud haar kop. “Hoe moes jy geweet het Lucy Ferr was nie lekker in haar kop nie? Dat sy ’n miskraam gehad het wat haar mentally geknak het?”

Elijah skud verwoed sy kop. “Niemand anders is te blameer as ek nie,” hou hy vol.

Ek verdien nie om te leef nie. As ek kon... ek wens dit was eerder ek wat dood is as Sylvie en Jay. Koma, sê jy? Jy sê ek is in ’n koma?”

Morfina knik.

“Wel,” sê Elijah kil. “Dan beter jy seker maak ek skrik nie uit hierdie koma wakker nie.

“Ek is bevrees jy kan dit nie doen nie,” antwoord Morfina saggies.

“Jou drome eindig nie so nie.”

“Wat bedoel jy?” vra Elijah skerp. “Wie is jy om vir my te kom wil vertel wanneer ek doodgaan?

“Hierdie is my lewe en ek sê mos nou vir jou ek wil nie meer lewe nie.”

“En wat van geregtigheid?” vra Morfina.

Elijah frons.

“Lucy Ferr en haar boyfriend is gevang,” verduidelik Morfina. “In flat nommer 2 in ’n plakkerskamp wat as Die Komitee bekendstaan.

“Hulle gaan loskom en heel waarskynlik ander kindertjies ook ontvoer en vermoor.

“Net jy kan hulle stop deur teen hulle te getuig.

“Maar dan moet jy uit hierdie koma wakker skrik.”

“Daar is ’n kans vir geregtigheid?” prewel-vra Elijah.

“Maar natuurlik,” sê Morfina.

“Altyd. Elke siek hond kry sy dag. Daarvoor sorg my niggie, Karma.”

“Wie is jy?” vra Elijah nuuskierig. “En hoe kan ons hierdie gesprek hê as ek in ’n koma is?”

Morfina glimlag effe. “Daar is meer vrae as antwoorde in hierdie wêreld, Elijah. Wie ek is, is nie van belang nie.

“Wat wel belangrik is, is dat jy weet jou pyn en lyding gaan nie ongesiens verby nie. Jou noodkrete word gehoor en ek is gestuur om jou daaraan te herinner dat die son môre weer opkom, dat die sonstrale bedoel is vir die regverdiges en dat die goeie nooit vir die slegte terugstaan nie.”

Elijah lek oor sy droë lippe. “Maar wie kyk na my?” wil hy weet.

“O, ek dink jy weet, Elijah. Wie anders sal so lief wees vir jou?

“Skrik nou wakker, toe? Kom werk saam aan ’n straf waarvan Lucy Ferr nooit kon droom nie.”

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters