25 dae gelede
Elijah hoor hy is die skrywer van ’n prophecy-boek
 ~ 

HAAI, Sonlanders! In “Dromers” spoor Elijah ’n ou vriend op wat destyds saam met hom ’n devastating ontploffing oorleef het. Maar die twee word ontvoer deur lede van die Cape Town Resistance Army (CTRA), wat ’n oorlog­ voer teen die masjiene wat die stad se inwoners beheer. Jay, ’n CTRA-bevelvoerder, sê vir Elijah hy’s hulle antwoord – en hulle het sy memories wat die geheimsinnige Komitee destyds van hom “gesteel” het. Maar wil Elijah onthou? Geniet nou hoofstuk 6 van dié futuristiese verhaal uit die pen van ELDRIDGE JASON.

ELIJAH voel hoe sy mond oophang.

Bossiekop voor hom bal haar vuis en lyk soos iemand wat lus is om oorlog toe te gaan – vrou-alleen.

“Ek dink jy sit die pot heeltemal mis,” sê Elijah. “Ek is niemand se redder nie. Ek het nie eens ’n wit perd nie.”

“Ridder,” kap Jay terug.

“Huh?” vra Elijah oorbluf.

“Dis net ’n ridder wat op ’n wit perd ry. Ek onthou dit uit die boeke wat Miss Jacobs in haar biblioteek het.”

“Dankie vir die taalles,” antwoord Elijah venynig. “Wat sou hierdie wêreld ooit sonder jou doen?

“Maar sê gou vir my – het ek dan verkeerd verstaan toe ek by Basis 9 gehoor het biblioteke bestaan nie meer nie? Dat alles op digitale chips is wat net vir sekeres beskore is?”

Jay sug. “Dit is so, ja. Maar die elders kon destyds daarin slaag om ’n paar boeke vir ons, die nageslag, behoue te laat bly.

“En dit is in een van dié boeke waarin die prophecy is oor jou, Elijah Jenkins.

“Geskryf deur jouself nadat jy ’n visioen gehad het oor die tye waarin ons nou lewe.”

Elijah staar haar met groot oë aan. “Watter boek? Hoekom weet ek dan nie daarvan nie?”

“Duh,” antwoord Jay. “Obviously sal jy nie weet nie. Die meeste van jou memories is mos verwyder.”

“Maar hoekom?” dring Elijah aan. “Hoekom?”

“Sodat jy nie kan besef hoe belangrik jy vir ons is nie,” verduidelik Jay met die grootste geduld. So asof sy een plus een moet verduidelik aan ’n voormalige president wat regdeur gr. 1 deur die venster gekyk het.

Die Hele Halwe Waarheid Omtrent Intelligensie, geskryf deur Elijah Jenkins. Lui dit ’n klokkie?”

Elijah skud sy kop. Dan staar hy na sy vasgebinde hande.

Jay vang die skimp en wink vir een van die gemaskerde mans om Elijah se hande los te maak.

Elijah knik sy kop dankbaar en vryf oor die diep merke aan sy polse.

“Jy skryf in jou boek van ’n grot waarheen jy gegaan het ná ’n groot ontploffing. ’n Grot waar jy ’n vreemde wese ontmoet het. Half mens, half dier en met die syfer 9 op sy voorkop getatoeëer.

“In hoofstuk 2, paragraaf 3, vertel jy in detail waar hierdie grot is, hoe jy kleintyd daarin gespeel het en hoe dit ’n lang tonnel het wat aan die einde in ’n geheime baai uitloop.

“En in hierdie baai met sy leliewit seesand gaan die son nooit onder nie en die kindertjies speel totdat hulle van moegheid net omdop en met die feetjietrein Droomland toe vervoer word.

“Jy skryf hoe ’n grys nagtegaal ’n tune neurie wat tot in eternity eggo, ’n plek waar goed nie kwaad word vir kwaad nie en waar die gif van ’n vermetele siel voor die aangesig van vrede verdamp.

“Dis ’n plek waar daar geen haat is nie, waar geen kindertjies deur monsters gevang en na die baai van die ewige nag gesleep word nie. ’n Plek waar–”

“Hokaai, stop die lorrie!” val Elijah haar in die rede en hou sy hand omhoog.

“Het ék dit geskryf? Dit klink dan vir my ’n na ’n hoop fairy tale-stront.”

Jay staar met afkeer na hom. Rondom haar brom die gemaskerde mans. Een van hulle pluk sy balaklawa af.

Elijah skrik toe hy in sy gesig kyk en besef hy’s eintlik net ’n klong. Nog nat agter die ore.

“Dit is g’n stront nie,” sê die seun vol vuur.

“Dit is waarin ons glo. Dit is wat ons staande hou.

“As dit nie vir daai baai was nie, het ons beker van hel oorgeloop,” sê hy vol geesdrif en slaan hard teen sy bors.

Elijah het nie so ’n vurige reaksie verwag nie.

“Of jy dit nou wil glo of nie, jy het daardie boek geskryf,” sê Jay.

’n Man kom nader gestap en oorhandig ’n verseëlde buisie aan haar.

Sy hou dit omhoog sodat Elijah dit ook kan sien.

Hy staar gefassineerd na die blougroen inhoud. Dis asof sy oë inzoom op die inhoud, asof die fyn borreltjies wat hy bespeur, hom op sy naam roep.

Hy weet nie of hy hom verbeel nie, maar hy hoor branders, hy proe die sout van ’n baba-brander op sy lippe. Hy hoor die gelag van ’n kind. ’n Dogtertjie. ’n Vrouestem wat hom roep ...

“Hierdie is jou memories,” onderbreek Jay sy gedagtegang.

“Jou memories wat Die Komitee by ’n laboratorium op Basis 9 uit jou wese verwyder het. Ons weet al jare waar hulle jou liggaam gevries gehou het, maar dit was ’n gesukkel om met die tegnologie vorendag te kom om hierdie memories weer by jou te plant.

“Maar ná jare van swoeg en sukkel weet ons nou hoe.”

Elijah gooi sy hande in die lug.

“Om wát te bereik?” vra hy. “Die androids rule nou hierdie planeet.

“Julle van alle mense behoort te weet daar is nie ’n manier om hulle te oorwin nie.”

“O maar daar is,” antwoord Jay met ’n smile. “In hoofstuk 5, paragraaf 7, maak jy melding van jou gesprek met die vreemde wese, hoe daar breedvoerig aan jou vertel is van hierdie battle en hoe om dit te wen.

“Maar jy’t dit net nie in jou boek geskryf nie. Die antwoord is iewers in dié buisie memories van jou.

“Sien, ons hier – almal van ons van die CTRA – glo daardie grot is ’n tonnel na ’n beter lewe vir almal van ons.

“Na ’n lewe waar ons nie net hoef te bestaan weens ’n opdrag wat met ’n rekenaarskyfie in ons geplant word nie.

“ ’n Lewe waar ons weer kan sing en dans soos wat ek in die boeke gelees het. ’n Lewe waar ons links of regs kan draai sonder om eers toestemming daarvoor te vra. Of nog erger – geprogrammeer gebore te word waar ons net links kan draai, soos in hierdie lewe.”

“Die lewe waaruit ek kom, was ’n jungle vol nyd, kwaad en seer,” sê Elijah. Daar is ’n moegheid in sy stem, ’n somberheid in sy oë.

“Dit was ’n lewe waarin ’n mens te bang was om kinders in hierdie wêreld te bring omdat alles so wreed uitgedraai het, omdat ’n onskuldige kind nie eens veilig was nie. Al die sinlose moord, die hartseer. Is dit nie maar beter om ’n lewe te lei waar al die siek etters van die society nie bestaan nie?”

“In my leeftyd kon ons dan nie onsself in toom hou nie.”

  • Lees Woensdag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters