18 dae gelede
Elijah glo hy gaan Jay se droom wel werklikheid maak
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Elijah en sy dogter, Jay, moet inderhaas vlug nadat Die Komitee se magte toeslaan op die CTRA se skuilplek. Dis duidelik iemand het hulle verraai. Iemand het hulle whereabouts verskaf aan Lucy Ferr, wat Die Komitee se vuilwerk doen. Die einste Lucy Ferr wat eens op ’n tyd ’n close vriendin van Elijah se vrou was. Die einste Lucy Ferr wat onder druk is om te keer dat Elijah die oorlog teen die robots wen. Geniet nou hoofstuk 10 van ELDRIDGE JASON se futuristic verhaal “Dromers”.

ELIJAH en Jay ry in stilte.

Elkeen is in hulle eie gedagtes vasgevang.

Albei is kliphard aan’t wonder of die ander lede van die CTRA ook daarin geslaag het om betyds weg te kom.

Daar was ’n verraaier in hulle midde. Maar wie?

Elijah ry verby die grootste kraters wat hy al ooit gesien het.

“Maar was hierdie dan nie Milnerton nie?” vra hy verbaas.

Jay ruk soos iemand wat uit die slaap wakker skrik. Dit vat ’n tydjie vir haar pa se woorde om by haar in te sink.

“Dit was, ja,” antwoord sy dan. “Die bomme het net eendag op almal begin neerreën.

“Die taak was duidelik: Wie nie saam met die androids was nie, was teen hulle en moes tot elke prys vernietig word.”

Elijah skud sy kop verdwaas. “Hoeveel?” vra hy dan.

Jay loer vraend na hom.

“Hoeveel mense het hulle lewe verloor?”

Sy trek haar skouers op. “Niemand weet nie. Miljoene?

“Daar is geen syfers beskikbaar nie, maar by die CTRA was ons maar so tweeduisend mense.

“Ek het jare lank nie ander mense as die CTRA crew gesien nie. Dinge soos TV- en radio-nuusbulletins bestaan lankal nie meer nie.

“Uit die boeke wat ons uit afgebrande biblioteke kon red, weet ek net ander vastelande het bestaan, maar of hierdie vastelande nog bestaan, is ’n ander vraag.”

Elijah sug swaar en bepaal hom dan weer op die pad voor hom, of dit wat van die R27-pad oorgebly het.

“Waarheen is ons op pad?” vra Jay ná ’n ruk. “Ek was nog nooit in hierdie geweste nie.”

Elijah grinnik. “Wat? Was jy nog nooit ’n toeris in jou eie provinsie nie?”

“ ’n Mens kan nie nog rondkyk as jy vir jou lewe vlug nie,” kap Jay terug. “Daar is geen tyd vir toeris-toeris speel as jy hierdie lewe binnekom en nie weet wat van jou ouers geword het nie.”

“Ek is jammer,” maak Elijah dadelik verskoning. “Ek wou die mood net ’n bietjie lig.

“Natuurlik is dit g’n grap om in dié wêreld groot te word nie. Dit moes baie swaar gewees het.”

Jay bly ’n ruk lank stil. “Ag, dit was seker nie so bad nie. Lucy ... sy was nie altyd so sleg nie en het my baie stories vertel van jou, my ma en die lewe wat julle gelei het.”

“Nou, wat het dan toe oor haar lewe geloop?” vra Elijah.

“Ek gaan nie doekies omdraai nie. Ek en Lucy kon nooit vattigheid aan mekaar kry nie, maar nooit het ek kon dink dat sy lid sou wees van die plan om die mensdom te sink nie.”

Jay skud haar kop. “Ek lê baie aande en wonder oor dieselfde ding.

“Jare lank was sy die naaste aan ’n ma-figuur vir my.

“Toe begin sy haar aan die res van die CTRA onttrek en begin snaakse dinge praat.”

“Watse snaakse dinge?” vra Elijah.

“Ek wil nie eintlik daaroor praat nie,” sê Jay. “Dis nie lekker vir my om daaroor te praat nie.”

Elijah trap skielik hard rem. Nadat die stofwolk rondom hulle bedaar het, draai hy na Jay, wat hom grootoog aangaap.

“Niks in hierdie lewe gebeur per toeval nie,” sê Elijah.

“Ek wil nie onnodige sere oopmaak nie, maar dit is belangrik om te weet wat Lucy tot haar verraad gedryf het. Elke bietjie inligting help. Trust my.”

Trust is ’n kommoditeit wat ons nie meer kan afford nie,” antwoord Jay.

“Dadda sien dan hoe iemand ons verraai het en die CTRA nou na alle waarskynlikheid tot niet is.”

“Maar daar is nog hoop,” antwoord Elijah. Daar is ’n dringendheid in sy stem.

“Solank jy kan asemhaal en krag in jou liggaam het om vir jou voortbestaan te veg, is daar nog hoop.

“Hierdie is ons planeet en geen verdomde robot gaan my iets anders kom wysmaak nie.”

Jay smile effe. “Ek wens ek het Dadda se optimisme gehad.

“Ek is nog so jonk, maar hierdie lewe maak my oud.

“Ek het iewers in ’n boek gelees daar was ’n tyd toe kinders in die straat gelag en gespeel het.

“Ek kan nie onthou wanneer laas ek ’n kind hoor lag het nie.”

Elijah sit sy hand op sy dogter s’n. “Ek beloof jou vandag dat jy eendag daardie tye gaan ervaar.

“Ons gaan nie sonder ’n fight onder nie.”

Jay trek haar hand onder haar pa s’n uit.

“Ek wil nie ’n doemprofeet wees nie,” sê sy. “Maar Die Komitee is onstuitbaar.

“Male sonder tal het ons probeer om aanvalle op Basis 9 te loods.

“Male sonder tal moes ons terugval en het ons hordes lewensverliese gely.

“Die robots kan nie gewen word nie.

“Ek is jammer, maar dit is moeilik vir my om te glo daar is ’n kans vir ons om hierdie battle te wen.”

“Weet jy wat ’n droom is?” vra Elijah.

Sy dogter gaap hom net aan.

“Wanneer jy saans jou oë toemaak en na ’n wêreld ver van hier weggevoer word, doen jy meer as net slaap,” verduidelik Elijah geduldig.

“Deur die jare heen kon nie eens die slimste mens regtig verduidelik hoekom die mens droom, wat ’n spesifieke droom se gang bepaal en wat die redes agter ’n droom is nie.

“Hierdie wêreld ... lank voor alles so in chaos gedompel is, het ek hiervan gedroom.

“Maar nie net van al die verwoesting nie. In hierdie droom was daar ook hoop en antwoorde op al ons gebede. Ek glo in daardie droom.

“Ek glo dat ek daardie droom vir jou ’n werklikheid kan maak.”

“Dromers is mense wat glo in fantasieë wat in die meeste gevalle nie waar word nie,” sê Jay.

Daar is ’n hartseer-trek in haar oë.

“Toe ek baie jonger was, het ek gedroom my ouers se dood was net ’n nare droom. Maar elke keer as ek wakker geword en bomme in die verte hoor val het, het ek besef ek droom ’n hopelose droom. Iets wat nooit gaan waar word nie.”

“En tog is ek vandag hier, is ek nie?” vra Elijah. “Is die feit dat ek vandag hier langs jou sit nie ’n bewys dat jou droom waar geword het nie? Laat ek jou wys watter kragte in ’n droom skuil.”

Elijah trek met ’n stink spoed weg. Dis tyd dat die robots weet wat in die mens skuil, dink hy.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters