23 dae gelede
Eindelik is prof. De Boa gereed om sy navorsing te wys
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Lees vandag verder aan die verhaal van Salmon Smith genaamd “Projek Bionies”. Geniet hoofstuk 4.

OP DIE naat van sy rug lê Morgan Setera op ’n tafel met ’n glasblad. Langs die tafel staan prof. Johannes de Boa en daar is ’n opgewonde glans in sy oë.

Hy beskou die nuwe liggaam wat voor hom lê. Sy oë gaan goedkeurend oor die goed gevormde, atletiese kurwes van die soliede spiere.

Die eens gebroke liggaam van die eks-polisieman het hy weer opgebou. Dit het hom ses maande gevat. En nou lê die eindresultaat hier voor hom. ’n Snaakse grynslag verskyn op sy gesig.

Hy skakel die klein videokamera op die tripod aan. Hy gaan staan voor die kamera.

“Ek, prof. Johannes de Boa, maak dié video-opname om my inligting met die ganse wêreld te deel. Maar dié inligting gaan slegs bekend gemaak word die dag dat ek my oë finaal sluit.

“Dán eers sal die wêreld se wetenskaplike organisasies toegang hê tot die inligting om hulle te help in hul navorsing oor kloning en die bou van ’n supermens.

“Vyf jaar gelede het ek vorendag gekom met die idee om navorsing te doen oor die menslike liggaam, die vermoëns van ons stoflike entiteite en tot hoe ver ons natuurlike kragte kan strek. Die mens se liggaam is, kragtens natuurwette, net in ’n beperkte mate in staat om in hierdie wêreld te kan oorleef.

“Enige iets bo daardie mate van vermoëns word as bonatuurlik beskou.

“My navorsing het ingesluit spoed, krag en die vermoëns van sekere sintuie. Hoe vinnig die normale mens kan hardloop, hoe hoog hy kan spring, hoe ver sy fisieke kragte kan strek en hoe goed die visie en gehoor is.

“Ek het drie jaar gelede in Den Haag voor ’n uitgelese gehoor van die Wêreldraad van Wetenskaplikes in Fisika my navorsing bekend gemaak. Toe ek noem van my planne om te eksperimenteer met die bou van ’n supermens, het ek erge teenkanting gekry.

“Ek is uitgekryt as iemand wat God wil speel oor die natuurlike lewe. Ek is beveel om my navorsing onmiddellik te stop.

“Ek het, ten spyte van hul vermaning, voortgegaan en my proewe op varke en rotte gedoen. Ek het toe in ’n latere stadium menslike oorskot uit privaat lykshuise gesteel om op te werk.

“Ek is twee jaar gelede betrap en geskors. Die polisie het ’n klopjag op my laboratorium in Soutrivier uitgevoer en dit gesluit.

“Ek is uitgekryt as ’n mal wetenskaplike en toegesluit in ’n instituut vir geestesversteurdes.

“Maar ek het ontsnap en uit die Kaap gevlug. Ek het toe op dié bouvallige gebou hier diep in die klowe van die Du Toitskloofberge naby Rawsonville afgekom. Hier kon ek skuil.

“Ek het dit toe stelselmatig as my nuwe laboratorium ingerig en voortgegaan met my navorsing en eksperimente.

“Ses maande gelede was my navorsing op só ’n vlak dat ek finaal op ’n mens se liggaam kon eksperimenteer.

“Ek het die liggaam van die eks- polisiebeampte kapt. Morgan Setera uit ’n staatslykshuis gesteel om op te eksperimenteer.

“Die liggaam was gruwelik geskend, met veelvuldige breuke en ’n koeëlwond deur die kop. Groot was my verbasing toe ek ontdek dat daar nog lewe in die liggaam van Morgan Setera was.

“Dit het my kans op sukses vergroot en my toe in staat gestel om ongehinderd aan Projek Bionies te werk.

“Vandag, Sondag 31 Mei 2020, het ek aan die einde gekom van Projek Bionies. Ek gaan Morgan Setera nou uit sy diep slaap laat ontwaak.”

De Boa beweeg weg voor die kamera en gaan staan by die tafel waarop die herboude liggaam van Setera lê.

Hy kyk vlugtig na die kamera. “Tydens die herbou van Morgan Setera se liggaam moes ek alle gebreekte beenstrukture vervang met een van die sterkste metale op aarde, naamlik vibranium.

“Ek het laas jaar hier in die klowe op spore van dié metaal afgekom en dit in klein hoeveelhede ontgin. Dit is afkomstig van ’n baie klein meteoriet wat miljoene jaar gelede die omgewing getref het.

“Vibranium kan hoë druk weerstaan en dis feitlik onbreekbaar. Dit kan nie deur enige kaliber koeël gepenetreer word nie.

“Met die vibranium-prosteses in die liggaam het ek gebruik gemaak van biotegnologie om ’n geprogrammeerde mikroskyfie in die brein in te plant.

“Elektromeganiese toestelle stuur elektriese impulse en boodskappe vanaf die brein na al die prosteses om bewegings uit te voer.

“Die vibranium-prosteses funksioneer dus op hul eie. Dit word nie soos by ’n normale mens deur enige spierweefsel ondersteun nie. Dus kan die bioniese liggaam bo-normaal funksioneer.

“Die beskadigde vel en spierweefsels op en in die arms, bene, hande en sommige plekke in die liggaam het ek vervang met sintetiese spier- en velweefsel en dit voel en lyk soos die ware Jakob.

“My inspirasie agter die hele projek was die destydse Amerikaanse televisiereeks The Six Million Dollar Man. Dit is in die begin tagtigerjare hier in Suid Afrika as Steve Austin, die Man van Staal gebeeldsend.

“Maar met die hedendaagse tegnologie het ek meer funksies in die program ingewerk as die destydse Man van Staal.

“Ek het verbeter op die destydse produk van Oscar Goldman.

“Benewens die bioniese kragte en spoed het ek in albei oë teleskopiese inplantings geïnstalleer.

“Morgan Setera kan dit deur middel van die mikroskyfie manipuleer om voorwerpe so klein soos ’n vuurhoutjieboksie op ’n afstand van tot 1 km waar te neem.

“Die gehoor is ook versterk om klankgolwe op ’n hoë frekwensie waar te neem.

“Dis gelykstaande aan ’n hond se gehoor.

“Nou is ek gereed om Morgan Setera uit sy diep slaap te laat ontwaak en hom aan verskeie toetse te onderwerp om te kyk of ek in my doel geslaag het.”

De Boa gaan vir oulaas oor die monitors om te kyk of alle brein- en hartfunksies normaal voorkom. Hy skyn vlugtig met sy klein flitsie op die pupille om te kyk of hy enige reaksie kan sien.

Toe hy sien dat alles normaal is en volgens plan verloop, haal hy ’n spuitnaald uit en spuit ’n groenerige vloeistof in ’n hoofslagaar in.

Hy rig sy oë op die monitor voor hom. Hy sien hoe die bloeddruk styg en hartlesings stelselmatig versnel. Hy sien Setera se ooglede vlugtig beweeg. Toe begin die vingers stadige bewegings uitvoer.

’n Ligte glimlag verskyn om De Boa se mondhoeke.

“Ontwaak, Morgan Setera. Ek verwelkom jou as ’n splinternuwe mens terug in hierdie wêreld,” prewel hy saggies.

De Boa se gesig draai na die breinmonitor. Hy sien hoe breinaktiwiteit stadig toeneem.

Setera begin nou meer bewegings uitvoer. Sy hande vou oop en toe. Die lippe begin beweeg en daar is weer ’n fladdering van die ooglede.

Met opgehoue asem hou De Boa Setera stip dop.

Skielik skiet Setera se oë oop en hy ruk met ’n kreet regop. Daar is ’n eienaardige uitdrukking op sy gesig. De Boa retireer verskrik.

  • Blitssnel skiet Setera se hand uit en gryp die professor aan sy keel. Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters