4 maande gelede
Don Festus en symakkers glo vas Jeppo is in ’n hoek
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Don Festus weet hy deal met Jeppo die Laksman. Hy slaan in sweet van paniek uit toe een van sy manskappe ’n galg­toutjie aan hom oorhandig. Hy weet presies wat dit beteken – hy is in groot moeilikheid. Festus beveel dat al sy top-manne saamkom by ’n vakansieoord sodat hulle planne kan beraam om met die bedreiging van Jeppo te deal. Geniet vandag die slothoofstuk van SALMON SMITH se jongste verhaal Die Galgtoutjie.

‘JARRA! Die Laksman is hier!” gaan Don Festus gal af en dit voel asof sy bors weer toetrek.

“Mankas … my asmapompie, asseblief!” hyg hy.

Voetstappe daar buite laat almal omswaai. Maar dit is te donker buite om enige iets te sien.

“Gaat uit en kyk, djulle bang goed!” gil Festus terwyl sy broek ook self aan die bewe raak.

Hy hou egter vir Mankas terug toe die ander, vuurwapens in die hand, na buite skarrel.

“Bly djy hier en beskerm my,” beveel hy sy hoof-holborsel van ’n body­guard.

Die ander kom egter vinnig terug. “Daar is niemand daar buite nie, Mister Festus. M-maar … al ons voertuie se wiele is pap,” rapporteer een van hulle grootoog.

“Dis Jeppo! Hy het ons hier opgespoor!

“Nou speel hy met ons koppe!” kerm Festus in ’n huilstemmetjie.

“As hy hier is, dan moes hy mos hier iewers ingeboek het, Mister Festus. Ek dink ons moet daar by die ontvangs gaan uitvind presies waar,” sak Mankas af.

“Dalk kan ons hom dan daar in daai chalet gaan vastrap.”

Almal stem heelhartig saam. Gou hardloop die skurke koes-koes al tussen die donker bosse langs na die ontvangslokaal omtrent 150 m verder.

Festus sorg dat hy in die middel hardloop. Sy asmapompie is pal in sy groot gangster-bek.

Hulle bars uitasem by die ontvangslokaal in.

Die vriendelike Colgate-adverteerder kyk verskrik op terwyl sy haar naels versorg.

“Meisiekind! Het nóg iemand ná ons hier ingeboek?! En hoe lyk hy?!” val Festus sommer met die deur in die huis.

“Ja, net een man, Meneer. So ’n lang ou. Hoekom?”

Sy kyk die spannetjie hier voor haar grootoog aan.

“In watter chalet het hy ingeboek?!” vra Festus haastig.

“Hy is in chalet 5, die een daar eenkant hoër op tussen die bosse,” antwoord sy.

Haar woorde is skaars koud of die boewe laat die stof so staan soos hulle na chalet 5 toe laat spaander.

Hulle vuurwapens is slaggereed voor hulle uitgetrek toe hulle die woonplek nader.

Die lig is aan, maar die plek lyk op die oog af leeg.

Mankas druk liggies aan die deur en dit gly oop.

“V-Versigtig, M-Mankas!” stotter Festus.

Stadig betree hulle die plek – te bang om asem te haal.

Hulle loer vinnig by die kamers in.

Die plek is verlate. Daar is geen teken dat hier vroeër iemand ingeboek het nie.

“Bliksem! Daardie Laksman is ’n boggher!” swets Festus en kyk in die sitkamer rond.

“Watse snaakse kaarte is dit dié?!” vra Mankas skielik en tel ’n pak kaarte van die koffietafeltjie op.

“Wat staan daarop?” vra Festus en staan nader.

“Hier is nommers op,” sê Mankas en haal die boonste een af.

“Die boonste een se nommer is tien, dan volg nege, ag, sewe, ses,” tel hy soos hy die kaarte een vir een van mekaar afhaal.

Dít is toe dat die werklikheid van dié nommerspeletjie Mankas soos ’n vuishou tussen die oë tref.

Hy kyk na Festus. Hulle twee besef wat die speletjie beteken en dat hulle mooi netjies in ’n lokval geloop het.

“Hier’s ’n bom!” gil Mankas.

Hy en Festus is die naaste aan die deur en hulle mol eerste na buite. Hulle is skaars buite of die hele plek ontplof in ’n vuurbal.

Hulle ploeg oor die grond en rol vinnig uit die pad van die vallende stukke brandende rommel.

Hulle is egter vinnig van die grond af op en kyk grootoog na die brandende chalet waarin hulle nog sekondes gelede was.

Dít is toe die werklikheid hulle tref. Hulle makkers is almal in daardie ontploffing dood.

Dit is net hulle twee wat nou oor is.

“M-Moet my nie v-verlaat nie, Mankas. Jy moet my beskerm,” stotter Festus vreesbevange.

“Hoe gaan ek dit doen, Mister Festus? Ek het dan nou my vuurwapen verloor,” kerm Mankas.

Festus se kop ruk op toe hy dit hoor.

“Oee akka! Ôs is morsdood vi’naand!” besef hy.

Voetstappe agter hulle laat hulle omruk.

Grootoog staar hulle na Jeppo die Laksman in ál sy glorie.

Met sy lang, donker leerjas en swart stetson-hoed laag oor sy voorkop getrek, lyk hy soos die skim vanuit die onderwêreld. Stadig kom hy op hulle afgestap.

Mankas hou hom egter dapper en ruk ’n lang mes uit sy broeksak.

Maar hy het hom met die spoed van die Laksman misgis.

Met ’n vinnige haal oor die keel sterf Mankas ’n aaklige roggeldood aan die voete van sy grootbaas, Don Festus.

Nou voel dit vir Festus asof dit sy beurt is om in sy broek te skyt.

“A-asseblief … E-ek is j-jammer oor my misdade teen die gemeenskap!” verklaar hy.

“Ek gaan myself bekeer! S-spaar tog net my lewe!” pleit Don Festus nou.

“Hoeveel mense het nie al so vir hulle lewe gepleit nie, Don Festus?” kraak Jeppo se stem deur die vakansieoord.

“Het jy gedink jy en jou bendes gaan vir altyd regeer en ongestraf gelaat word?

“Julle dink julle is untouchable. Julle maak gebruik van jong kinders vir julle vuil werk.

“Julle verwoes hulle lewe met jou duiwelsdinge. Dan verwag jy nog genade!”

Jeppo haal ’n galgtoutjie uit sy sak. Hy hou dit in die lug. “Jou naam is hierop, Don Festus!”

Toe tree Jeppo vinnig op. Hy slaan Festus een hou in sy gangster-bakkies en volg dit op met ’n goed gemikte karate-skop na die keel.

Die kraakbeen in sy lugpyp breek met ’n sieklike crack. Dit laat Don Festus vir die laaste keer na sy asem snak.

Soos ’n blasende gans sluit hy hom by sy makkers daar anderkant in die warm plek aan.

Uit die hoek van sy oog gewaar Jeppo die oord se ontvangsdame daar eenkant tussen die bosse met pieringoë staan.

Toe haar uitgerekte, skril gille oor die stil oord weergalm, verdwyn hy vinnig in die donkerte na waar sy motor ver buite die vakansieoord geparkeer staan.

  • Die einde
  • Deur 'n drukkersfout het dit nie Vrydag verskyn nie. Dit kan Maandag in die koerant gelees word.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters