Verlede maand
Don Festus en sy manne kry die skok van hul lewe
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Jeppo die Laksman is terug in ’n splinternuwe, aksiebelaaide verhaal. Die immergewilde SALMON SMITH noem sy jongste verhaal Die Galgtoutjie. Festus slaan in sweet van paniek uit toe een van sy manskappe ’n galgtoutjie aan hom oorhandig. Hy weet presies wat dit beteken – hy is in groot moeilikheid. Festus beveel dat al sy topmanne byeenkom by ’n vakansieoord sodat hulle planne kan beraam om met die bedreiging te deal. Geniet nou hoofstuk 4.

HOOGS tevrede verlaat die geheimsinnige man die ontvangslokaal van die Mooiberg-vakansieoord. Hy het die perfekte chalet gekry en die ingang is weg van die ander. So, nie een van die ander besoekers sal hom kan sien as hy te voet daar by sy chalet opdaag nie.

Hy stap na sy motor en haal ’n sportsak daaruit. Toe stap hy met ’n vinnige pas teen die skuinstes op en kom tussen die bosse langs na sy chalet gesluip.

Hy loer vinnig rond terwyl hy die deur oopsluit. Binne-in die chalet is dit lekker knus. Daar is twee slaapkamers met plek vir vier mense. Dit het ’n lekker snoesige sitkamer met ’n kaggel, ’n klein kombuisie en badkamer.

Die man loop onmiddellik na een van die slaapkamers en trek die gordyn op ’n skrefie oop.

Hy loer na buite en sien hy het ’n goeie uitsig op die ander chalets. Sy gesig raak graniethard toe hy Don Festus sien, terwyl dié instruksies aan sy manskappe uitdeel.

DIS net ná ag en al pikdonker buite. Don Festus en sy manne maak hulle reg om stelling in te neem in die klein en intieme konferensielokaal.

“Manne, julle weet natuurlik dat ons hierdie resort altyd gebruik in krisistye,” begin Festus, terwyl hy die een ná die ander ernstig aankyk.

Voor hom sit die “general staff” van sy Wakka Boys gang. Hulle is die grootkoppe wat moet sorg dat alles vlot verloop met die verkope van drugs in Bonteheuwel, Kalksteenfontein en Kreefgat.

Hulle moet ook jong laities werf wat vir die bende as runners en hit men kan werk. Dan moet hulle die protection money van business owners insamel.

“Gisteraand het ’n krisis ontstaan, wat ons genoop het om inderhaas dié bosberaad hier te hou,” gaan Festus voort.

“Die plek is lekker weggesteek en hier kan ons ongestoord ons planne uiteensit.”

Hy haal swaar asem en haal eers sy asmapompie uit. Hy gooi twee puffs in sy gorrel af en trek sy asem diep in.

“Nou, gisteraand met die laaste hit wat ek uitgestuur het …” gaan hy voort. “… dis in die wiele gery deur Jeppo die Laksman!”

Van sy hoofholborsels trek hulle asem skerp in toe hulle dié naam hoor. Baie van hulle het al van die Laksman gehoor en besef dit voorspel groot moeilikheid. Daar word onderlangs gemompel.

“Hy het my toe dié galgtoutjie gestuur!” gaan Festus voort en hou die toutjie omhoog.

Almal kyk grootoog daarna en weer vind ’n dringende gemompel plaas.

“Ek hoef julle seker nie in te lig wie die Laksman is nie. Sy naam sê alles – hy volstrek die doodsvonnis oor almal aan wie hy die galgtoutjie stuur. Hy het glo al baie slagoffers op sy kerfstok en die polisie kan nie hulle hande op hom lê nie.

“So, vanaand moet ons planne beraam oor hoe ons met hom gaan deal.”

Festus kyk sy manne een vir een deur om te sien of sy woorde by hulle insink. En dís toe hy agterkom dat een van sy manne nie teenwoordig is nie.

Dit voel skielik of sy bors toetrek en sy regteroog begin spring – iets wat altyd gebeur as hy ontsteld is.

“W-Waar is Wanie?! Ek het dan gesê ons moet almal hier vergader!” bulder hy dit uit.

“Hy was nog laas in die shower, Mister Festus. Hy’t nog agterna geskree dat hy nou hier gaan wees,” antwoord ’n skurk met die woord “Masoes” op sy voorkop getatoeëer.

“Gaan roep vir Wanie!” skreeu hy die bevel aan Masoes.

Masoes trek weg en lê oop na die chalet wat hy met Wanie deel.

Intussen wag Festus en die ander ag skurke in die konferensiesaal vir Masoes en Wanie om by hulle aan te sluit.

Hulle skink solank vir hulle elkeen ’n dop van die whisky wat op die tafeltjie daar eenkant uitgestal is.

Toe hulle al by die tweede dop is, kom iemand agter dat hulle twee holborselkollegas nog nie teruggekom het nie.

“Hey, moes Wanie-hulle nie al hier gewees het nie?” vra iemand dit kliphard uit.

’n Doodse stilte daal in die lokaal neer.

Festus se mond gaan oop en toe soos hy na lug hap. Baie dinge maal nou deur sy kop.

Hy kyk sy hoof bodyguard grootoog aan.

“Mankas, vat nog ’n man saam en gaan kyk waar daai donners so lank wegbly!”

Terwyl Jontas-hulle by die deur uit verdwyn, skink Festus vir hom nog ’n stywe dop. Die hand wat die glas vashou, begin bewe.

Hy kan aanvoel iets is nie pluis nie.

Haastige voetstappe klink skielik van buite op. Almal se koppe swaai na die deur.

Mankas-hulle kom grootoog by die deur ingestorm.

“Mister Festus, kom gou! Wanie en Masoes lê altwee morsdood daar in die chalet!” gil hy dit uit.

Almal mol nou by die deur uit en lê oop na die chalet.

Hulle hardloop mekaar byna uit die pad toe hulle by die chalet inbars.

Binne-in die chalet kom hulle almal geskok tot stilstand toe hulle die toneel voor hulle sien.

Wanie lê poedelnakend dwars oor die bed met sy dowwe, lewelose oë wat die niet instaar. Waar sy keel eens was, is ’n groot gat waaruit die bloed gestroom het. Sy bloederige handdoek lê op die vloer en die bed is oortrek van bloed.

Daar eenkant op die vloer lê Masoes met ’n dolk in sy regteroog weggesink, waaruit die bloed nog vloei. Sy liggaam gee nog ’n stuiptrekking tot hy met ’n roggel sy laaste asem uitblaas.

“Donner! Wat de f*k het hier gebeur?!” gaan Don Festus gal af.

“Iemand het hulle doodgemaak, Mister Festus,” sak een van die makkers gelate af.

“Ek weet, etter! Ek bedoel hoe de f*k kan dit hiér gebeur as hier niemand anders behalwe ons is nie?!” spoeg Festus dit uit.

Hy sien iets by oorle’ Wanie se hempsak uitsteek.

Stadig loop hy vorentoe en trek die voorwerp uit die hempsak.

Toe hy besef wat hy in sy hand hou, oorval ’n hoesbui hom.

Kugge-kug ... “O, hel! Hy is hier!” Kugge-kug … “Jeppo die Laksman is hier!”

Kug! kry hy dit uit terwyl hy met groot oë na die bloederige galgtoutjie in sy hand staar.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters