Verlede maand
Dit voel skielik vir Sarah asof sy dopgehou word
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons spannende, nuwe vervolg­verhaal, “Die Bedrieër”, kom uit die pen van CHRISTO MEYER. Geniet nou die tweede hoofstuk!

NÁ ’N lang, uitputtende dag by die werk verlang Sarah Skiepers na die stilte van haar drieslaapkamerhuis in Goodwood.

Sy kan nie wag om met ’n glas wyn in die hand voor die televisie te gaan sit en net te ontspan nie. Sy is nie ’n gewoontedrinker nie, maar as sy so lus vir niks voel nie soos nou, is ’n drankie of twee net die regte medisyne om haar aan die slaap te sus.

Daar is niks spesifieks wat sy wil kyk nie, maar om net agteroor te sit, is altyd verfrissend. Sy kan nie bekostig om te laat in die bed te kom nie omdat môre nog ’n besige dag gaan wees. Dis eintlik skokkend hoe mense hul vertroue in die polisie verloor het.

Hulle kan seker nie verkwalik word nie, want deesdae lyk dit asof misdadigers meer regte as hul slagoffers het.

Haar dagboek, wat haar sekretaresse laatmiddag vir haar kom wys het, het haar besige skedule bevestig.

Genadiglik het sy vanaand geen ander verpligtinge om na te kom nie.

Sy het met die grootste plesier ingestem toe haar seun uit die bloute vra om vir ’n paar dae by sy ouma in Bellville-Suid te gaan kuier, waar die skoolbussie hom soggens oplaai en smiddae weer gaan drop.

Sy afwesigheid bied aan Sarah die geleentheid om haar batterye te herlaai en oor sekere goed te besin. ’n Nuwe jaar kom altyd met sy eie, nuwe uitdagings.

Sy glimlag toe sy na die foto van haar seun op haar lessenaar kyk. Joachim is net nege, maar beslis nie ’n maklike kind nie.

Soms wens sy hy het ’n boetie of sussie gehad om mee te speel. Hy is veeleisend en vererg hom as hy nie die aandag kry wat hy verlang nie.

Sarah kan getuig dat dit nie in enige vrou se karakter sit om die taak van albei ouers te vervul nie. Iemand anders sou seker lankal tou opgegooi het.

Sy doen haar bes, maar baie dae wens sy Joachim se pa wil ’n groter rol in hul kind se lewe speel as net ’n finansiële bydrae elke maand. Hy het belowe om die kind elke tweede naweek te kom haal en uit te neem, maar daarvan het niks gekom nie.

Om die waarheid te sê, ná die egskeiding weet sy nie waar Philip hom deesdae bevind nie en sy stel ook nie belang nie.

Wat hy met sy lewe doen, is sy saak. Solank hy net nie op ’n dag stert tussen die bene opdaag en verwag sy moet hom terugvat nie. Wat hy aan haar gedoen het, is onvergeeflik. Sy het geen kontak met hom nie.

Hy het sy bed gemaak, dus moet hy maar daarop bly lê. Hy is deel van ’n episode wat sy agter haar geskuif het.

Dit gaan sy eie skuld wees as Joachim hom eendag gaan verwyt of totaal en al afskryf. Sarah weet ook die verbrokkeling van hul huwelik vier jaar gelede was ’n ontnugtering, ’n lewensles. Joachim was toe nog nie eens in graad 1 nie en sy was skielik ’n enkelouer.

Dit was ’n geweldige aanpassing en sy sal altyd dankbaar wees vir haar ouers se ondersteuning.

As sy van die begin af geweet het Philip is ’n rokjagter, sou sy nooit haar hart op hom gesit of met hom getrou het nie. Maar sommige mans het mos van nature daardie slegte gewoonte om ’n vrou te laat glo die son skyn uit hulle agterent.

Philip het haar betower met sy sagte stem en soet woordjies en haar verseker dat hy nooit haar hart sal breek nie. Hy was haar eerste groot liefde, haar ridder op ’n wit perd.

Sy vererg haar opnuut as sy net daaraan dink. Philip is eintlik net ’n gladdebek, ’n leuenaar, ’n bedrieër.

Die laaste strooi was die middag toe sy haar goeie vriendin, Rowena Roberts, by haar woonstel in Parow wou gaan verras en haar en Philip saam in die bed betrap het.

Philip het hom probeer loslieg deur voor te gee Rowena het hom verlei, maar Sarah was te diep seergemaak om vir sy stories te val.

Rowena wou ook verduidelik, maar Sarah het nie belang gestel nie. Vandag is sy trots op haarself.

Sy kan nie glo die tyd het so gou gevlieg nie. Sy is nou heelwat wyser en sal nooit weer toelaat dat ’n man met haar gevoelens speel nie.

Sy het ’n ver pad geloop tot hier, maar sy kan met trots sê 2019 was ’n goeie jaar. Werk het ingestroom soos nog nooit tevore nie.

Sy kon amper nie voorbly nie en in ’n stadium het sy dit sterk oorweeg om ’n vennoot aan te stel. Sy het daarteen besluit, want haar ouboet Japie se woorde het deur haar kop gemaal: “In vandag se lewe moet jy versigtig wees wie jy vertrou. Die wêreld wemel van wolwe in skaapsklere.

“Mense is nie altyd wat hulle voorgee om te wees nie.”

Toe die laaste kliënt vir die dag haar kantoor verlaat, slaak sy ’n welkome sug van verligting. Haar voete brand asof sy ’n padwedloop voltooi het.

Sy het nooit besef die skoene wat sy verlede week gekoop het, is te klein nie. Dit sal haar leer om eers die skoene in die winkel aan te pas.

Sarah verlaat haar kantoor en op pad na haar motor voel sy ’n krieweling in haar nek. Waar kom die gevoel dat iemand haar dophou ewe skielik vandaan?

Haastig swaai sy om. Haar oë dwaal heen en weer, maar sy gewaar niemand.

Die parkeerterrein is verlate. Miskien is dit net haar verbeelding, probeer sy haarself gerusstel.

Sy neem haar sitplek agter die stuurwiel in en trek weg.

By die huis aangekom, sluit sy die voordeur oop en weer toe en maak haar op die naaste rusbank tuis. Met haar skoene uitgeskop, gooi sy haar kop agteroor.

Later, voor sy bed toe gaan, sal sy in ’n borrelbad gaan lê. Vir eers wil sy nou net rustig verkeer.

Sarah is so diep in gedagte dat sy haar amper flou skrik toe sy haar selfoon hoor lui. Sy kom tot verhaal en gryp die afstandbeheerder om die televisie sagter te stel.

Haar oog val op die skerm van haar Huawei P30 en sy het amper lus om die ding te ignoreer. Sy haat onbekende nommers hierdie tyd van die aand.

Het mense niks anders om te doen as om onnodig lastig te wees nie? Daar is tog ’n rede waarom daar iets soos kantoorure is.

Sy is wel ’n privaat speurder, maar hulle hoef haar nie in die aand by die huis te kontak nie. Sy het ook ’n lewe.

’n Oomblik huiwer sy. Dan besluit sy om tog te hoor wie dit is.

“Ons het jou kind,” sak ’n vrouestem af. “As ek kry wat ek wil hê, sal hy niks oorkom nie. Anders kom laai ek sy opgekapte lyk in ’n swart sak voor jou deur af.” Sarah wil nog iets sê, toe word die verbinding verbreek.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters