3 maande gelede
Dit voel asof die Uber-ou se woorde Moira challenge
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Moira vererg haar bloedig oor haar huismense dink sy’s niks werd nie. Sy besluit sy gaan hulle nou verkeerd bewys. Dit begin alles met ’n opmerking oor Uber wat sy as ’n persoon­like uitdaging opvat. Maar gaan Moira dié uitdaging moontlik effe te ver vat? Lees vandag hoofstuk 2 van CHRISTA PRINSLOO se verhaal wat sy Ma Kán Uber noem.

TIENG... Tieng... Dis die geluid van Moira se selfoon wat haar herinner dat die Uber application klaar gedownload het.

Moira lees deur die fynskrif om alles baie duidelik te verstaan sodat sy nooit vir haar spottende man en kinders vrae hoef te vra nie.

Jy kan sowaar ’n rit boek en sekere drivers het ’n swipe-masjientjie en jy kan betaal eers wanneer jy veilig by jou bestemming aankom.

Moira hou van dié gedagte omdat sy ook nie noemenswaardig veel weet van selfoon banking nie.

Sy flippen durf ook nie vir Jarred of die kinders hieroor vra nie. Hulle sal van vooraf maak asof sy die domste en mees oningeligte vrou in die hele Wes-Kaap is.

Moira bly kyk na haar selfoon.

Na die Uber application.

Dis soos ’n uitnodiging wat wag om beantwoord te word.

Moira sit haar selfoon op die bank neer en staan op.

Sy stap doelgerig na haar slaap­kamer toe.

In die reuse-spieël bekyk sy haar.

Sy lyk orraiterig.

Nou nie aangetrek soos ’n sakevrou wat vandag ’n deal van miljoene gaan beklink nie.

Maar ook nie sleg nie.

Netjies genoeg om in haar kar te klim en groceries te gaan koop en deur die mall te gaan dwaal.

Gemaklike skoene.

Haar klere gee ietsie weg van welvaart, maar op daardie tipies subtiele, valerige Woolies­-manier. Sy haal haar handsak uit die kas en grou daarin.

ID-boek, check.

Paspoort, check.

Beursie en kredietkaarte met baie geld op, check.

Klein lipstiffie-spieëltjie, check.

Valerige lipstiek, check.

Hareborsel, check.

Moira stap na haar kant van die bed. Sy plug haar selfoon charger uit. Toe gooi sy dit by die res van die handsak in en sê hardop en uittartend vir haarself: “Check.”

Sy hou haar blind vir die onopgemaakte bed.

En vir die chaos in die gang af wat in die algemeen heers in Clive en Claudette se kamers.

Sy is van vooraf moerig vir die twee bedorwe kinders. Elkeen is so bevoorreg.

’n Laptop en ’n flat screen-TV in elkeen se kamer. Elkeen se kamer het ’n eie badkamer.

Hoeveel kinders is werklik so bevoorreg?

Maar sy gaan nie nou daaroor worry nie. Sy gaan sit weer op die bank en vat haar foon.

Die screen word verlig en dadelik is dit op die Uber application.

Sy begin dit gebruik.

Bestel een.

Sommer van haar huis af na die Kaapstadse Internasionale Lughawe.

Moira se hart klop in haar keel toe sy in die Uber sit en kyk na die groot huis wat nou toegesluit in die verte verdwyn in hulle straat met die lowergroen bome.

Wat de hel gaan sy op die lughawe maak?

Dis ’n gedagte wat soos ’n resiesperd deur haar gemoed hardloop. Sy bestraf haarself.

As sy daar kom, sal sy besluit.

Al gaan breakfast sy net daar.

Who cares?

Beslis nie haar man of kinders nie. Moira swipe soos ’n wafferse gesoute Uber-gebruiker haar een platinum-kaart en bedank die stil, professionele Uber-man agter die stuurwiel.

“It’s a pleasure, Madam. Enjoy your flight and trip.”

Daardie sin van die Uber driver smokkel met Moira se kop toe sy by die besige lughawegebou instap.

’n Miernes van mense wat kom en gaan.

Party van hulle lyk soos pak­donkies, so baie tasse en bagasie het hulle by hulle.

En hier stap sy in met haar handsak en sonder ’n plan.

Dis asof die Uber-man se woorde haar uitdaag: “Moira, klim op ’n vliegtuig en gaan iewers heen en gaan koel af.”

En dis presies wat Moira doen. Sy gaan na een van die binnelandse rederye se info-kiosks.

“Can I help you?”

Lank laas het Moira so vinnig op haar voete gedink.

Gladweg antwoord sy: “Yes ... Ek moet dringend ’n kaartjie Durban toe kry op die eerste en die beste vlug, asseblief?”

Moira voel hoe haar hart hier in haar keel klop.

Wanneer laas het sy iets op die ingewing van die oomblik gedoen?

Die minuut dat ’n mens ma word, durf jy mos nie meer halsoorkop dinge aanvang nie.

“Madam, if it is fine, the next flight leaves in 20 minutes. They are already boarding.

“Should I book it for you?”

Moira knik en dinge begin vinnig gebeur.

Sy betaal en die volgende oomblik is sy ook ’n skakel in daai ewige ketting van haastige passasiers op pad iewers heen.

Dis toe sy in die vliegtuig gaan sit dat Moira besef wat sy besig is om aan te vang.

Sy het nie eens ’n tas met klere by haar nie.

Net haar handsak en ’n selfoon-app wat sy nou deeglik verstaan.

Sy gordel haar vas, sit haar handsak onder die sitplek en sluit haar oë toe sy voel hoe die vliegtuig klaar besig is om agteruit te stoot.

Daar styg hulle op.

Moira maak haar oë oop en kyk verby die man wat hier langs haar sit. Sy sien so ’n stukkie van Kaapstad en ook sonder om direk na die man langs haar te kyk, besef sy hy is ’n suit.

Net so ’n deftige, belangrike ene soos haar eie man, Jarred.

Onmiddellik vererg Moira haar sommer weer.

Seker ook ’n suit wat dink sy vrou is sweet, blou bokkerol werd, behalwe as die skoolkar-ma en eierbakker nie.

“Mooi Moira?”

Dis ’n naam wat Moira laas op universiteit gehoor het.

Sy skrik skoon. Is dit die suit hier langs haar wat met haar gepraat het?

Moira kyk na die man en onthou vaagweg die gesig.

Sy vra versigtig: “Het jy nie saam met Jarred klas gehad op universiteit nie?”

Die man glimlag en knik.

“Ja. Ek en Jarred was heeltyd saam en het saam geswoeg om prokureurs te word.

“Dis dié dat ek jou onthou – julle twee was al van universiteit af so onafskeidbaar.”

Moira se hart wil so byna gaan staan.

Sy wonder wat hierdie lawyer sal sê as hy weet wat sy besig is om aan te vang.

Ja, wel, dis nou nie asof sy self weet wat sy besig is om aan te vang nie ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters