4 maande gelede
Dit lyk asof nóg ’n groot ondersoek Marky se way kom
 ~ 

HAAI, Sonlanders.

Ná die lekker vakansiedag sommer vroeg in die week, is dit tyd vir ’n splinternuwe vervolgverhaal. Kry Vir Jou is ELDRIDGE JASON se jongste pennevrug. Geniet die eerste hoofstuk.

SPEURKAPTEIN Marky Marcus vloek kliphard terwyl hy hard rem toe ’n kameraman van ’n bekende TV-stasie vlak voor hom oor die pad hardloop.

“Donnerse aasvoël,” skel Marky kliphard en druk hard op sy toeter.

Tot sy ergernis steek die verdomde man nog tong uit vir hom so in die hardloop.

“Vir jou gaan ek kry!” skree Marky en wys vir hom die middelvinger.

Die ou is egter min gespin en verdwyn tussen die groepie nuuskieriges wat voor ’n dubbelverdiepinghuis saamdrom.

Marky parkeer, sug, skakel sy kar af en maak die deur moeisaam oop.

Hy klim versigtig uit – eers die een been, en dan die ander een ...

Sy GP, dok Solomons, maan hom al lankal om gewig te verloor en verder vreet die gout hom.

“Ek weet nie aldag wat jou eerste gaan kry nie,” sê dok Solomons altyd kopskuddend gedurende sy jaarlikse mediese check-up.

“Die gangsters tender om jou uit te haal, maar cholesterol en gout is ook nie ver agter in die queue nie.”

Marky laat die ou dokter maar altyd net aanrammel.

Niemand gaan anyway gesond dood nie. So, hy is nie te veel geworry daaroor nie.

Besides, daar is geen kosbare iemand op dié ou aarde wat oor sy heengaan sal treur nie.

Om die waarheid te sê, Marky kan ’n hele paar mense opnoem wat baie bly sal wees as hy die emmer sou skop.

Maar op 40 is dit dalk tyd dat hy ’n bietjie draf vir oefening, veral siende dat dit nou al ’n effort is om net uit dié verdomde krok van ’n staatskar te klim.

Dalk.

Marky sien sy kollega konst. Deidre Louw skil af van die groep nuuskieriges en kom aangestap.

Hy staar gefassineerd na haar swaaiende heupe en voel iets onwillekeurig in sy broek roer.

Marky kan met sekerheid sê dis nié kleingeld nie.

Deidre besef nie hoe dêm lekker sy lyk nie, dink hy.

Al wat ’n cop by die stasie is, is vrekbang vir haar, want Deidre is hardegat verby, en dan het sy boonop ’n swart belt in karate.

Hulle drool almal oor haar omdat sy so vrek mooi is, maar hulle is ook vrek bang sy tjop die ou wat ’n move try maak.

“Ek het saam met vyf broers grootgeword. So, ek weet hoe om ’n man seer te maak,” dreig Deidre altyd so in die algemeen.

In die polisiestasie se einaklein personeelkamertjie is daar altyd ’n gemaklike gelag wanneer sy dit sê.

Hulle is nou al langer as ’n jaar partners en hy wat Marky is, het net lof vir haar werketiek en houding.

En hy sou ewe veel lof vir haar lekker boude gehad het as hy sy mind kon speak.

Marky is oortuig daarvan dat sy al agtergekom het hy loer baie na haar lyf, maar as dit so is, steek sy dit baie goed weg.

“Is dít die tyd om hier aan te kom?” vra Deidre toe sy haar by hom aansluit.

“Weer ’n laat nag gehad?” vra sy met die lag vlak in haar oë.

Almal by die stasie weet Marky maak ál wat kroeg is saans toe, beginnende met die een naby die cop shop.

Marky grinnik verleë.

“Ek het vergeet om my alarm te stel,” dis hy ’n floue op.

Deidre gee hom ’n gemoedelike klop op die skouer en sê: “Ja, en ek is Halle Berry,” en sy lag.

Hy wil nog iets daaroor sê, maar laat dit gly, want hulle albei weet mos die alarm-verskoning is ’n pot stront en hy is nie lus om die storie veel langer uit te rek nie.

“Wat het hier gebeur?” vra hy eerder.

Deidre skud haar kop en frons. “Jy sal maar moet kom kyk,” antwoord sy.

Marky sê: “Ek neem aan iemand is dood, anders sou hulle mos nie vir ons uitgestuur het nie.

“Weet ons darem al wie die slagoffer is?”

Deidre knik ’n hele paar keer en sê dan stroef: “Regter Bennie Arends.”

Marky gee ’n lang fluit.

“Arends?” vra hy en skud sy kop. “Arends!?”

“Die regter Bennie Arends wat my altyd so baie k*k gegee het wanneer ek teen gangsters in sy hof getuig het?”

“Einste,” antwoord Deidre. “Dis glo selfmoord, maar dinge lyk nie vir my lekker nie.”

“Hoekom sê jy so?” vra Marky met ’n frons.

Deidre skud weer haar kop en sug. Sy sê: “Ek weet nie hoe om dit te verduidelik nie.

“Op die oog af dui alles op selfmoord, maar die scene is te convenient na my sin.

“Alles lyk so mooi opgestel vir ’n open-and-shut case ... maar jy is die senior. Jy moet maar self kom kyk wat ek bedoel.”

Marky byt op sy onderlip – ’n ou gewoonte.

Hy trust Deidre en haar waarnemingsvermoëns: Wanneer sy voel iets is nie kwaai nie, dan glo hy haar.

Regter Bennie Arends, nè, dink hy. Hy wat Marky is, het nog nooit enige ooghare vir Arends gehad nie.

Het altyd gevoel die man is – wel, was – ’n verwaande windgat. Hy’t hom mos meer main gehou as die main konyne in die Justice League – beter as Superman en Batman.

Arends het amper ál wat ’n saak teen ’n gangster-dikding is, uitgegooi.

Dit was kamma amper altyd oor die kanse op suksesvolle vervolging skraal was. Altyd dieselfde bleddie verskoning.

Hy wat Marky is, het al begin wonder of Arends dalk op die gangsters se payroll was, maar daar was nooit enige bewyse daarvoor nie.

Hy snork hard en Deidre vra: “En nou? Wie het op jóú graf gep*s?”

Marky trek sy skouers op en sê traag: “Laat ons gaan kyk wat klap vir wat.

“Ek sien al wat ’n koerant en TV-stasie is, is klaar hier. Dit gaan weer ’n groot mediasirkus wees. Dis immers Arends.”

Deidre lag en koggel: “Ek dog jy hou van al die aandag.

“Soos daai keer toe jy so baie in die nuus was ná daai Indian ou van Engeland sy jong bruid–”

“Shrien Dewani.”

“Ja. Jy was baie in die limelight met daai case, en dit het gelyk asof jy dit like.”

Marky trek ineen soos ’n ou wat in die ballas geskop is.

“Moenie my daaraan remind nie,” sê hy kamma in pyn. “Ek hoop nie dié saak gaan ook so groot wees nie.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters