22 dae gelede
Dit kos mooipraat om Setera effens rustiger te maak
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Lees vandag verder aan die verhaal van SALMON SMITH genaamd “Projek Bionies”. Geniet hoofstuk 5.

MORGAN Setera skiet regop op die glasblad waarop hy lê.

Daar is ’n eienaardige uitdrukking op sy gesig en sy mond gaan oop.

Skielik ontsnap ’n onaardse kreet uit sy mond.

Hy draai sy gesig in prof. De Boa se rigting.

Dié retireer verskrik, maar hy is te stadig vir die spoed waarteen Setera se hand uitskiet.

Setera kry De Boa aan die keel beet en klim in een beweging van die blad af. Met sy ander hand ruk Setera die klomp drade en plakkertjies van sy liggaam af.

Toe vestig hy weer sy aandag op De Boa en sy blik is graniethard. Stadig lig hy die spartelende professor met sy een hand in die lug op.

Die professor snak na asem, maar die massiewe drukking op sy keel maak dit moeilik.

Hy beduie met sy hande aan Setera dat hy hom moet los.

Meteens besef Setera dat hy ’n mens met een hand in die lug hou, sonder enige inspanning. Hy skrik en verslap sy greep.

De Boa val soos ’n vrot vel op die vloer neer.

Hygend na asem lê hy daar en kyk grootoog na Setera, wat hom nou met ’n geskokte uitdrukking aanstaar.

“Wat het met my gebeur en wie is jy?!” bulder Setera se stem deur die vertrek.

Hy kyk verwilderd in die laboratorium rond.

Hy sien die karkasse van diere wat in die glashouers vol groen vloeistof dryf.

Hy sien die monitors teen die mure en die mediese apparate.

Hy sien dat die drade wat hy sopas van sy liggaam af geruk het, gekoppel was aan verskeie masjiene en monitors.

En die glasblad waarop hy gelê het, is soortgelyk aan iets waarop proewe op diere in laboratoriums gedoen word.

Nou bekyk hy sy hande asof hy dit vir die eerste keer sien. Stadig maak hy dit oop en toe. Hy raak bewus van die enorme krag wat daardeur vloei. Hy voel-voel met sy vingers aan beide sy voorarms. Hy besef daar is groot fout met hom.

Hy gluur De Boa met yskoue oë aan. “Wat het jy met my gemaak?!” gil hy.

De Boa sukkel van die vloer af op. Hy sien hoe Setera gereed maak om op hom af te storm.

Hy moet nou net sy troefkaart gebruik en hy hoop dit werk.

“Morgan Setera!” weergalm De Boa se stem deur die vertrek toe Setera hom stormloop.

Setera vries in sy spore toe hy dié naam hoor. Dit voel of ’n elektriese skok deur sy liggaam gaan.

Morgan Setera! Daardie naam … Dit klink bekend, gaan dit deur sy gedagtes.

Daar is ’n verwarde uitdrukking op sy gesig terwyl hy De Boa aanstaar. “Daardie naam … Morgan Setera … Hoekom klink dit so bekend? Wie se naam is dit?!” hyg hy dit uit.

Daar is ’n ligte flikkering in De Boa se oë.

Hy besef ná die remake is Morgan sy geheue darem nie heeltemal kwyt nie.

Daar is darem nog dinge uit sy vorige lewe wat hy kan onthou.

Maar De Boa besef ook dat hy die situasie nou baie versigtig moet hanteer.

Die situasie is nog baie gevaarlik vir hom.

Een misstap en Setera maak hom moer toe met daardie bioniese kragte van hom.

Hy moet maar nou stap vir stap te werk gaan om alles oor Setera aan hom te verduidelik en hom sodoende te help om sy volle geheue stelselmatig terug te kry.

Die man is ten minste daarop geregtig om te weet van die gruwelike trauma in sy vorige lewe.

“Morgan Setera is jóú naam. Jý is Morgan Setera,” sê prof. De Boa.

Hy probeer so kalm moontlik klink.

Setera kyk De Boa uitdrukkingloos aan.

“Wie is jy?” vra hy en kyk weer vlugtig om hom rond. “En wat soek ek in ’n laboratorium?”

Hy lig sy hande op en kyk na sy arms. “En wat het jy met my gemaak?!”

Daar is nou paniek in Setera se stem.

Sonder om te antwoord verdwyn De Boa na ’n kamer.

Toe hy terugkom, sleep hy met groot moeite ’n massiewe ysterbal wat aan ’n ketting vasgemaak is agter hom aan.

Hy is uitasem toe hy weer voor Setera kom staan. Hy beduie na die ysterbal.

“Vat daardie ketting in jou een hand vas en lig daardie bal in die lug op.”

Setera kyk De Boa ’n wyle on­seker aan.

Toe bekyk hy weer sy arms en hande.

Hy gryp die ketting met sy linkerhand vas en met een beweging lig hy die bal van die grond af en slinger dit deur die lug.

Dit tref die oorkantse muur met ’n harde slag en ruk ’n groot gat daarin.

Beide De Boa en Setera skrik hulle boeglam. Hulle staar geskok na die gat in die muur.

Die ysterbal lê nou in die aangrensende kamer.

De Boa het nou nie dít verwag nie. Hy wou net hê dat Setera die bal oplig sodat hy sy krag kan toets.

Setera retireer verskrik en kyk nou met groot oë na De Boa.

“W-wat makeer my?! Waar kom ek aan die krag?!

“En hoekom voel my arms en lyf so snaaks?!” peper hy die professor met vrae.

De Boa kyk Setera ernstig aan. “Morgan Setera, jy is deur ’n baie traumatiese episode in jou lewe.”

Hy beduie na ’n skerm teen die een muur.

“Gaan sit voor daardie skerm. Daar is iets wat ek wil hê jy moet na kyk terwyl ek vir jou stap vir stap verduidelik wat aangaan.”

Half onwillig laat Setera hom lei na die stoel voor die skerm en hy plak hom daarop neer.

De Boa gaan staan voor hom en kyk hom stip in die oë.

“My naam is prof. Johannes De Boa. Ek is ’n wetenskaplike wat in fisika spesialiseer.

“Jy is tans in my laboratorium, versteek in die klowe van die Du Toitskloofberge, ver weg van die beskawing af.”

Daar verskyn ’n frons op Setera se gesig. Hy wil iets vra, maar De Boa beduie aan hom dat hy eers sy aandag op die skerm moet vestig.

De Boa peuter met ’n kontrepsie in sy hand.

Skielik maak die skerm oop en ’n beeld verskyn daarop.

Setera herken De Boa in sy wit jas op die skerm.

Hy sien hoe die professor na ’n glastafel loop.

Hy sien die gebroke liggaam van ’n man op die tafel.

Skielik snak hy na sy asem toe hy die man se gelaatstrekke herken. Die man wat daar lê, is dan hý! gaan dit deur sy gedagtes.

Hy kyk geskok na De Boa. “D-dis ek daai...?!”

Dít klink eerder na ’n vraag as ’n stelling.

“M-maar hoe?!”

De Boa beduie dat hy weer sy aandag op die skerm moet vestig.

Setera sit nou met verstarde oë na die skerm en staar.

Skielik verskyn foto’s van die grutoneel daar in Setera se huis – ses maande gelede.

  • Setera sien die gru-foto’s van die uitgebrande liggame van ’n jong meisiekind en groot vrou op die vloer. ’n Sieklike kreun ontsnap uit sy keel. Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters